Universiteitsgemeenskap in rou ná eerstejaar sterf

Leandró Hopley. (Foto: Facebook)

ʼn Eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch (US) is Vrydag dood nadat hy vermoedelik in sy koshuiskamer verstik  het.

Martin Viljoen, woordvoerder van die US, het bevestig Leandró Hopley (18) is Woensdagoggend na die hospitaal gehaas. Hy is gistermiddag oorlede nadat sy lewensondersteunende toerusting afgeskakel is.

Hopley, ʼn oudleerder van Hugenote Hoërskool Wellington, was besig met sy studies in BCom Bestuurswetenskappe. Hy was ʼn inwoner van Huis Visser op die US-kampus.

Viljoen het gesê die presiese omstandighede wat tot Hopley se mediese krisis gelei het, is onduidelik. Hy het ʼn beroep op die kampusgemeenskap gedoen om nie op sosiale media te bespiegel nie en die privaatheid van die Hopley-gesin te respekteer.

“Die US-bestuur en die universiteitsgemeenskap het hul medelye betoon en sal voortgaan om alle moontlike ondersteuning te bied aan enigeen wat hierdeur geraak word. Ons gedagtes en gebede is by Leandró se ouers, familie en vriende,” sê Viljoen.

“Die US was reeds in verbinding met sy ouers en daar is deurlopende skakeling tussen die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO), Kampusgesondheidsdienste en die koshuis se inwonende hoof. ER24 het Donderdagoggend reeds groepsessies vir inwoners aangebied, asook individuele hulpverlening.”

Hugenote Hoërskool Wellington het op Facebook ook sy medelye met die Hopley-gesin uitgespreek. “Leandró se glimlag, omgee-hart en passievolle lewensuitkyk was aansteeklik. Ons sal hom altyd onthou op al die terreine waar hy betrokke was in Hugenote,” lui die inskrywing.

Die huiskomitee van Huis Visser het by monde van Viljoen gesê die inwoners van die koshuis is diep geraak deur Hopley se dood. Volgens die huiskomitee ondersteun die koshuisinwoners mekaar en die Hopley-familie. Hulle het ook hul dank uitgespreek teenoor almal wat na die geliefde student se familie en vriende uitgereik het.

Charl Hopley, Leandró se pa, het nie Saterdagoggend onmiddellik kans gesien om Maroela Media te woord te staan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Vreeslik ·

Baie baie hartseer. Julle berig is vaag oor sy oorsaak van dood.Maar die News24 berig het gesê dat die student in sy eie braaksel in sy bed verstik het na ‘n aand se kuier?

Catherine ·

Verskriklik. Nee man. Is jy nou gelukkig met jou nuus. Hoe seer moet sy ouers nog kry. Dit het niks met die wereld te doen hoe hul liefling kind aan sy einde gekom het nie.

Christine ·

Baie baie sterkte pragtige kind seer sal nooit weg gaan .

Elize ·

Dit is verskriklik hartseer maar kom so gereeld voor. Wat mens moet onthou is dat inligting oor sulke gevalle soortgelyke sterftes in die toekoms kan voorkom. Kom ons laat sy lewe iets beteken en respekteer hom en sy familie so deur oor die gevare van drankmisbruik te waarsku. Dit se nie hy was ‘n slegte mens nie. Inteendeel soos die res van ons was hy net jonk.

jaco ·

seker maar drank- of dwelmverwant. Dis skokkend wat in studentegemeenskappe aangaan. en as mens vir hulle sê hulle moet briek andraai met dié slegte gewoontes, is hulle reg en jy wat hulle probeer reghelp word met vloekwoorde en vieslike beledigings stilgemaak. Ek suig dit nie uit my duim nie. ek het dit self al talle kere ervaar.

Lizette ·

Ai Jaco. Jy kan mos nou nie jou eie afleidings maak nie! Ek dink die ouers en boetie het seer genoeg om nog sulke snert te lees. n Mens kan nie net aanneem dit was dwelms of drank nie. Daar kon baie dinge skeef geloop het. Kom ons simpatiseer eerder en bid vir hierdie gebroke ouers en ouboet.

Stebastiaan ·

My innige simpatie met sy afsterwe. Mag die God van liefde se hand jul dra in die moeilike tyd.

Catherine ·

Vreeslik. Nee man. Is jy nou gelukkig met jou nuus. Hoe seer moet sy ouers nog kry. Dit het niks met die wereld te doen hoe hul liefling kind aan sy einde gekom het nie.

DS ·

Jaco en jou “halo” sit skeef……neem aan jy was nooit ‘n student nie. Ek ken baie jongmense wat op universiteit lekker gekuier het (myself ingesluit) en vandag BAIE verantwoordelike ouers en wetsgehoorsame lede van die gemeenskap is. Dit maak nie van jou ‘n slegte mens nie. Dit was ‘n fratsongeluk en al was die kind doodnugter of lekker gekuier sal dit steeds gebeur het. Ek glo aan Jou tyd is jou tyd. BAIE sterkte aan die ouers en familie dis die seerste seer en bid die Heer hou julle styf vas in die moeilike tyd. RIV seun.

Anoniem ·

So hartseer. Hy was nog ‘n onskuldige kind.
Mag die Here sy familie troos, krag, berusting en vrede gee in hierdie tyd.

Stellenbosch ma ·

My hart gaan so uit na hierdie mooie jong man se ouers en gesin. Ek het ook 2 studente kinders op SBos, in koshuise … Mag julle rus vind in n tyd wat daar baie vrae in julle harte gaan wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.