Universiteitsgrade beteken weinig vir SA ekonomie

Argieffoto (Foto: Unsplash/Pixabay)

Terwyl duisende tersiêre studente hoop dat ʼn sertifikaat of graad die deur na ʼn blinknuwe – en vooruitstrewende – toekoms gaan oopmaak, het navorsing van die Universiteit Stellenbosch (US) se Sakeskool bevind dié kwalifikasies het weinig uitwerking op Suid-Afrika se ekonomiese prestasie.

Die studie het bevind skoolverlaters met gr. 8- tot gr. 11-sertifikate het die beduidendste “konkrete positiewe” uitwerking op ekonomiese groei, terwyl diegene met matriek, na-matriek-sertifikate of grade “nie beduidende aandrywers van nasionale ekonomiese uitset” is nie.

Suid-Afrika bestee ʼn allemintige gedeelte van sy nasionale begroting aan onderwys – ʼn groter gedeelte as talle ontwikkelde lande – en minimum onderwysvlakke en matriekslaagsyfers styg gaandeweg. Tog is Suid-Afrika steeds aan die onderpunt van internasionale ranglyste oor gehalte-onderwys.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het onlangs selfs meer geld aan onderwys in Suid-Afrika toegewys, maar Pieter Bruwer, ʼn navorser verbonde aan die Sakeskool, waarsku dat nog geld nie Suid-Afrika se onderwysprobleme gaan oplos nie.

“Die uitdaging vir Suid-Afrika is nie die grootte van die begrotingstoewysing nie, maar eerder die uitwerking wat die besteding het,” sê hy.

Bruwer sê Suid-Afrika se swak ekonomiese prestasie het ʼn negatiewe uitwerking op werkskepping, terwyl werkloosheid weer ekonomiese groei strem – maar die twee elemente kan nie gepak word sonder om na die uitwerking van onderwys in die land te kyk nie.

“Die drie is interafhanklik. Swak onderwys word beskou as die wortel van talle van Suid-Afrika se probleme en het ʼn uitwerking op voortgesette ongelykheid en die sosio-ekonomiese welstand van toekomstige geslagte.”

Die voortgesette wanpassing tussen die vaardighede wat die onderwysstelsel lewer en die eise wat aan die arbeidsmag gestel word, dra by tot Suid-Afrika se ekonomiese en indiensnemingsuitdagings.

Deur die statistiese ontleding van 25 jaar lange data oor onderwysvlakke, werkloosheidskoerse en BBP (in die tydperk ná apartheid) en deur ʼn verband daartussen te trek, het Bruwer probeer om ʼn beter begrip van die verhouding tussen die drie elemente te kry, asook wat die uitwerking van onderwys op die ekonomie is.

Bruwer het bevind daar was goeie vordering om die minimum onderrigvlak van die Suid-Afrikaanse bevolking sedert 1994 te verhoog en dit het die indiensnemingsvooruitsigte van mense met matriek of ʼn graadkwalifikasie verbeter – maar dié groepe beter opgeleide mense het steeds nie beduidend bygedra om die land se ekonomiese uitset te verhoog nie.

Dit blyk dat “hoër onderwys geen noemenswaardige ekonomiese waarde het nie” en hoewel dit jou kanse verbeter om ʼn werk te vind, is daar geen positiewe verband tussen meer mense met naskoolse kwalifikasies en ʼn daling in werkloosheidsyfers of verhoogde ekonomiese groei nie.

“Matriek of ʼn graad het individuele waarde en verhoog iemand se kans op indiensneming, maar as ʼn groep dra diegene met sulke kwalifikasies min ekonomiese waarde by,” het Bruwer bevind.

Beter beleidstellings en onderwys nodig

Bruwer waarsku ook dat die bevinding ʼn somber herinnering is van die swak gehalte van onderwys in die land en sê Suid-Afrika se onderwysbeleid voldoen nie aan die behoefte om die ekonomie te laat groei en werkloosheid te laat daal nie.

Die beleid probeer dalk om vaardigheidstekorte in die land te pak, maar die plan het nog nie juis vrugte afgewerp nie.

“Om aan die behoefte van die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie te voldoen, moet die onderwysbeleid anders geëvalueer word. Die huidige manier – om dit aan ʼn slaagsyfer te meet – lewer nie resultate nie,” sê Bruwer.

Dit gaan egter ook nie voldoende wees om net naskoolse kwalifikasies te verbeter nie.

Die ekonomie skuif gaandeweg na die dienstesektor en daar is ʼn vraag na vaardige en geskoolde werkers – met al hoe minder geleenthede vir jong en minder opgeleide werkers. Kleinskaalse landbou en die informele sektor skep ook nie soortgelyke werksgeleenthede wat dit in ander Afrikalande doen nie.

“Ons benodig ʼn meer uiteenlopende en gunstige arbeidsmark, direkte buitelandse beleggingsbeleid wat gunstig teen arbeidsintensiewe sektore is en ʼn arbeidswetomgewing wat help om meer werk te skep,” sê Bruwer.

Dit is boonop moeilik om kundiges wat die land vir groener weivelde in die buiteland verlaat het, te vervang – en hul kundigheid word ook nie oornag deur nuwe gegradueerdes vervang nie.

Die studie het bevind deur die aantal mense met laer vlakke van onderrig – soos laerskoolonderrig of selfs geen onderrig nie – te verminder, is daar ʼn positiewe uitwerking op ekonomiese groei. In hierdie verband het Suid-Afrika wel vooruitgang getoon.

Minder as 3% van die land se volwasse bevolking het geen skoolopleiding gehad nie en die getal mense wat minstens ʼn matrieksertifikaat het, het toegeneem van 20% in 1993 tot 40% in 2019.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VaalDonkie ·

Veral nie as jou graad in “african studies” iets dergeliks is nie.

Fritz ·

Neem in ag daar is grade en “grade”. BA byvoorbeeld beteken bitter min. Dit is na regte iewers tussen standerd 9 en matriek.

Louis ·

Wat ‘n belaglike vergelyking. Hulle vergelyk appels met pere. Natuurlik sal die % leerders wat matriek geslaag het gedurende 1993 teenoor 2019 minder wees. Rede omdat hulle nou met 30% slaag. Ek is seker dit was nie so daardie jare!

Marius ·

Dit is die resultaat as jy ‘n onderwys model wat gewerk het heeltemal verander het terwyl jy nie die vaagste benul het waarheen jy oppad is nie. En dan stel jy onnosele onderwysers aan wat nie ‘n graad kon kry sonder om deurgesit te word nie en dan is daar ook nog die met geen onderwys kwalifikasies wat skool gee. Wat het hul verwag ? Viva anc !!! Viva !!!

piet ·

Maak nie saak watter graad jy het nie, daar’s nie werk nie. Beste kans op indiensneming is om iets in verpleging te doen en oorsee te gaan werk. Daar’s altyd werk in daai rigting oral ter wereld. Kry maklik werk in daai rigting.

AndrewL ·

Almal wil deesdae universiteit toe. Tegniese kolleges is verander na universiteite toe.

meeste kwalifikasies is baseer op teorie, terwyl die wêreld eintlik tegnies opgeleide persone nodig het.

In meeste gevalle dra ‘n graad by tot ‘n werkgewer se behoeftes, maar doen min vir ‘n persoon wat sy eie ding wil doen.

Daar bestaan amper nie meer iets soos vakleerlingskap nie. Daar waar menige jongmense die teorie en praktyk bymekaar gebring het en hul geslyp is tot waardige vakmanne (ook vroue). Baie van die mense wat opgelei is by Yskor, die spoorweë en plekke soos Atlas, kon hul eie ding met sukses aanpak.

Feit bestaan, min jong mense wil vandag hul hande vuil maak. Ons het ‘n groot tekort aan vakmanne op verskeie gebiede.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.