Untu en Prasa hof toe oor 5%-verhoging

(Argieffoto: Untu)

Die United National Transport Union (Untu) het sy regspan opdrag gegee om ʼn dringende aansoek teen die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) in die arbeidshof aanhangig te maak om die staatsbeheerde onderneming te dwing om die 5%-salarisverhoging te betaal waarop daar reeds in ʼn langtermyn loonooreenkoms ooreengekom is.

Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, het gesê die vakbond het Prasa reeds op terme geplaas om die salarisverhoging vir 2021 oor te betaal ná Prasa versuim het om die betaling aan die einde van April 2021 te doen.

“Untu het sy dringende aansoek tydelik teruggehou ná Zolani Matthews, uitvoerende hoof van Prasa, die leierskap van die vakbond die versekering gegee het dat betaling sal plaasvind. Hy het uitstel gevra om uitdagings met die departement van vervoer en met die nasionale tesourie op te los,” het Harris bygevoeg.

Die aanvanklike uitstel was tot 7 Mei 2021, maar Prasa het die vakbond weer gevra om geduldig te wees.

“Prasa speel vir tyd terwyl die nasionale tesourie skynbaar glo dat hy bo die wet verhewe is en eenvoudig kollektiewe ooreenkomste kan ignoreer wat partye onderteken het. Dit blyk uit die feit dat die Suid-Afrikaanse Inkomstediens ook hof toe gesleep word vir ʼn bevel om hom te dwing om verlede jaar se loonooreenkoms met die staatsdiensvereniging (PSA) na te kom.”

Harris sê kollektiewe onderhandeling is ʼn fundamentele reg in die Grondwet. “Dit is een van die pilare van die Wet op Arbeidsverhoudinge en is gewortel in die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) se grondwet en ʼn fundamentele kern van sy konvensies.”

Untu versoek die hof, as bewaarder van die Grondwet, om nie toe te laat dat die regering voortgaan om die regte van werkers te misken en eenvoudig kollektiewe ooreenkomste te ignoreer nie.

“Toe Untu die loonooreenkoms onderteken het, het die vakbond die reg van sy lede laat vaar om te staak. Prasa was vasberade om ʼn multitermyn ooreenkoms aan te gaan om ʼn stabiele werksomgewing te verseker. In ruil daarvoor het Prasa onderneem om nie met enige afleggings voort te gaan in die periode nie. Untu sal geen steen onaangeraak laat om seker te maak dat Prasa-werknemers die verhoging kry waarop hulle geregtig is nie.”

Prof Dirk Kotzé, ʼn professor in politieke wetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), het gesê die regering en sy staatsbeheerde organisasies speel “ʼn gevaarlike speletjie” deur voortdurend kollektiewe ooreenkomste te ignoreer. “Dit is ongelooflik sleg vir arbeidswetgewing en die beginsels van die wet in die algemeen as ons partye toelaat om die beginsels van kollektiewe onderhandeling af te water,” het Kotzé gesê. Die kollektiewe onderhandelingsproses is tans die mees demokratiese, regverdige en vreedsame opsie. As hierdie ooreenkomste ignoreer word, sal partye ander alternatiewe roetes volg en dit sal tot meer konflik lei.”

Volgens hom moet geen party ʼn kollektiewe ooreenkoms minag deur eenvoudig die bepalings daarvan te ignoreer nie. Hulle moet eerder na die onderhandelingstafel terugkeer indien daar buitengewone omstandighede is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Dit is nou vir my die beste. Daar is mense wat hulle werk verloor het, mense wat nie kán werk kry nie maar hierdie staatsamptenare wat vir maande by die huis gesit en niks doen het nie en volle salarisse gekry het, dring nou aan op verhogings. Dis absoluut absurd. As jy nie vir die geld wil werk wat jy kry nie, bedank. Iemand anders sal met graagte jou werk oorvat. Niemand staan met ‘n geweer teen jou kop en sê jy sal by die plek werk nie. Jy het ook geweet wat jou salaris gaan wees. Op die oomblik is die land in ‘n krisis agv huerdie regering se swak bestuur, onder andere. Verstaan dat daar nie ekstra geld is nie!! Genade, man. Almal kry swaar, party net meer as ander. Hou op om selfsugtig te wees!!! Hoop julle slaap lekker!

Anton ·

Jy mis die punt. Daar is n ooreenkoms in plek wat reeds deur alle partye aanvaar is en Prasa ignoreer nou die wettige ooreenkoms eensydig ipv daaroor te onderhandel.

JM ·

Gulsigheid en selfsug! Hierdie houding van: “die wêreld skuld my” moet in die bek geruk word. Gee nie ‘n snars om vir diegene wat nie eens kan werk kry nie. Siek!

Kruidjie-roer-my-nie ·

Ons verhoging was maar 2.9%. Dis maar R290 per maand meer vir my. As jul die vorige berigte oor inflasie van kos ens gelees het, is dit nie naastenby genoeg nie. En ek werk vir een van die grootste maatskappye in Suid Afrika. Hul is tot op die aandelemark, en doen glad nie sleg nie. Blykbaar is dit hul keuse watter verhoging hul wil gee, en geen vakbond kan hul van plan laat verander nie. Baie onregverdig volgens my, as hul ook hul pryse en dienste (dus inkomste) elke jaar verhoog met MEER as 2.9%

Karina ·

Hulle moet glad nie verhogings kry nie. Kyk wat se toestand is stasies en treine! Het ‘n paar jaar met Shosaloza trein Vereeniging toe probeer ry. O wee, meer gestaan as gery omdat daar fout by die lokomotief was! Ons was nie eers naby halfpad nie, toe moet ons op ongemaklike busse klim vir die rit verder. Sou 11.00 vertrek en dan 6.00 volgende oggend op Vereeniging aankom, was eers 3 uur die middag toe ons daar doodmoeg in Vereeniging afklim. Toe nog 3 ure per motor na my eind bestemming. Geen onderhoud word gedoen nie. Trein van Johannesburg het op Bloemfontein gaan staan, die mense moes in busse Kaapstad toe. Geld terug betaal vir die kaartjie? Nooit gesien nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.