Untu teleurgesteld oor minister se teenkanting van Prasa-hofaansoek

Prasa (Foto verskaf deur Untu)

Die United National Transport Union (Untu) het sy misnoeë uitgespreek oor Joe Maswanganyi, minister van vervoer, se teenkanting teen Untu se aansoek teen die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) in die Wes-Kaapse hooggeregshof om ʼn hofbevel te bekom om ʼn veilige werksomgewing vir Untu-lede te verseker.

“Dit is duidelik dat Maswanganyi bloot hierdie noodsaaklike hofaansoek teenstaan om sy mag te bewys, sonder dat hy homself vertroud gemaak het met die omvang van die krisis wat Untu-lede daagliks in die gesig staar deur vir Prasa te werk,” het Steve Harris, algemene sekretaris van die vakbond, in ʼn verklaring gesê.

Untu moes Maswanganyi as die beskermheer van die staatsbeheerde onderneming as ʼn respondent in die saak noem, maar het nie die hof versoek om ʼn bevel teen hom toe te ken nie, het hy gesê.

“Die minister se besluit om die hofsaak teen te staan, sal bloot die saak uitstel. Die saak is nie net in belang van Prasa-werknemers nie, maar in die belang van alle pendelaars wat op treine staat maak om hulle daagliks werk toe en huis toe te vervoer.

“Untu besef dat daar met elke nuwe minister ʼn besem kom wat graag wil skoon vee, maar in die huidige omstandighede met die treine wat weekliks gevandaliseer en aan die brand gesteek word in groot stede, moet die minister die erns en dringendheid van die hangende aansoek besef. Untu wil nie hê enige van sy lede moet sterf of beseer word nie,” het Harris bygevoeg.

Untu het die hof verlede maand genader vir ʼn bevel om Prasa te dwing om aan sy verpligtinge te voldoen kragtens die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid, die Wet op Arbeidsverhoudinge en die Grondwet, om veiligheid op die sentrale lyn tussen Kaapstad en Langa in die Wes-Kaap te verbeter.

Die vakbond het die hof versoek om Prasa opdrag te gee om ʼn gewapende reaksie-eenheid te vestig wie se lede by Netreg, Mitchells Plain en Chris Hani-stasies gestasioneer sal wees. Untu het ook die hof versoek om Prasa te dwing om ʼn gesamentlike taakspan wat die vakbond, ander verteenwoordigende vakbonde en die polisie insluit, aan te stel om ʼn langtermyn strategie vir pendelaars se veiligheid in Prasa te verseker.

Indien Untu suksesvol is met sy aansoek op die sentrale lyn, sal dit ʼn strategiese effek op Prasa hê om drasties veiligheid te verbeter by al sy persele in die res van die land, het Harris gesê.

Untu versoek die Wes-Kaapse regterpresident John Hlophe om die verhoor toe te staan op ʼn bespoedigde hofdatum.

“Die minister moet nou sy beëdigde verklaring aflê om aan die hof te verduidelik waarom hy die aansoek teenstaan. Prasa het nog nie aangedui of hy die aansoek sal teenstaan nie,” het Harris bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blommie ·

Maklik laat minister van vervoer vir ñ week sonder enige lyfwagte trein ry – veral op daai probleem lyne en stasies. Voordat hy nie invoeling kom met wat regtig aangaan, gaan dinge nie beter raak. Lekker om in gemaklike kantoor te sit en dink jy weet wat aangaan. Om dit self te ervaar – heel ander storie. Minister Maswanganyi gaan ry bietjie trein – ons dare jou!

Voordat ministers nie self aan ontvang kant van swak diens en onveiligheid orals staan, gaan dinge nie beter raak.

w ·

Ai mense ek voel jammer vi julle. Minister stel in niemand se veiligheid belang. Hyt wagte en verdien m….. salaris. Sy enigste belangstelling

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.