Untu verwelkom Mbalula se besluit om nie teen uitspraak te appelleer

(Foto: Untu)

Die vervoervakbond Untu het ʼn besluit deur die minister van vervoer, Fikile Mbalula, om nie teen ʼn uitspraak wat die aanstel van ʼn administrateur by die Passasierspooragentskap (Prasa) onregmatig verklaar, te appelleer nie.

Regter Nathan Erasmus het verlede week in die Kaapstadse hooggeregshof bevind die aanstelling van Bongisizwe Mpondo is onregmatig. Die organisasie #UniteBehind het die hof vroeër oor Mpondo se aanstelling genader. Hulle het aangevoer daar is geen bepaling ingevolge die wetgewing wat Prasa bestuur, wat ʼn minister toelaat om ʼn administrateur aan te stel nie. ʼn Administrateur kan net deur die parlement of ʼn hof aangewys word.

Mbalula het Mpondo in Desember verlede jaar as administrateur aangestel.

Dan Khumalo, waarnemende hoofsekretaris van Untu, het gesê deur nie teen die uitspraak te appelleer nie, tree die minister met omsigtigheid op om nie meer van belastingbetalers se geld op regskoste te vermors nie.

Die regter het ook bevind dat Mbalula die koste van die aansoek moet dra. Volgens Khumalo kon die minster die kostebevel vermy het as hy seker gemaak het die partye bereik ʼn ooreenkoms toe die hof hom vroeër gevra het om dit te doen.

“Dit is ongelukkig dat Prasa se werkers, van wie Untu die meerderheid verteenwoordig, weereens ontwrig word. Untu neem kennis dat die minister bestendigheid by Prasa wil bewerkstellig en hom daartoe verbind het om te verseker die proses om ʼn nuwe raad vir die staatsbeheerde onderneming aan te stel, word binne die hof se spertyd van 60 dae gedoen,” het Khumalo gesê.

Prasa steier tans onder ongekende vandalisme en diefstal van sy infrastruktuur nadat die vorige raad in Oktober verlede jaar besluit het om alle kontrakte met private veiligheidsmaatskappye op te skort.

Untu het ook die aanstelling van Badisa Matshego as die rekenpligtige amptenaar by Prasa verwelkom. Die aanstelling is in ooreenstemming met die hofbevel gedoen.

Die vakbond het nou ʼn beroep op Matshego gedoen om verdere regstappe te vermy deur te verseker Untu-lede word ingevolge wetgewing betaal vir die oortyd wat hulle in Maart en April gewerk het.

Untu het reeds met regstappe teen Prasa begin weens sy versuim om dié geld te betaal.

Prasa erken dat hy werkers die geld skuld, maar hou vol daar is nie geld om die betalings te doen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

tweeling ·

Lyk vir my Frikkie leer ook net mooi niks nie, maar aansien wil hy hê al is dit net dat sy naam genoem word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.