Untu wil Kaapstad se Metrorail-droom ontspoor

Argieffoto

Die United National Transport Union (Untu) sal die Stad Kaapstad se “onrealistiese planne” vir die passasierspoorbedryf teenstaan.

Die Stad Kaapstad het bekend gemaak dat hy die bestuur van Metrorail in die streek van die Passasierspooragentskap (Prasa) wil oorneem. Die stad se burgemeesterskomitee het aangekondig dat hy die stad se vervoerontwikkelingsowerheid die groen lig gegee het om die nasionale departement van vervoer te nader vir goedkeuring en finansiering om Metrorail oor te neem.

“Die aankondiging is misleidend vir lede van die publiek en dit ontstel Prasa-werknemers,” het die vakbond Saterdag gesê. “Toe die media Untu genader het vir kommentaar oor die stad se planne, het ons gedink dit is ʼn grap. Maar nou blyk dit die waarheid te wees. Hulle droom oor iets wat geen vooruitsig op sukses het nie,” het Steve Harris, algemene sekretaris van Untu, gesê.

“Untu sal enige aansoek by die departement van vervoer teenstaan, aangesien dit nooit in die belang van ons lede kan wees om munisipale werkers te word nie; en as die meerderheidsvakbond, wat 50% van Prasa-werknemers verteenwoordig, kan ons ons nie indink waarom die stad dink die plan sal enige voordele inhou vir ons lede nie.”

Harris het gesê dit is wêreldwyd ʼn norm dat regerings en nie munisipaliteite nie, die passasierspoordienste finansier, aangesien treine die goedkoopste manier van vervoer is, om die armste van die armes te bevoordeel.

Volgens hom was die idee, dat munisipaliteite die verantwoordelikheid van die plaaslike passasierspoordiens oorneem, nie ʼn nuwe idee nie. Dit is aanvanklik in die laat 1990’s voorgestel as deel van Jack van der Merwe se visie, die meesterbrein agter die idee van die Gautrain in Gauteng en die uitvoerende hoof by die Gautrain-bestuursagentskap. “Verteenwoordigers van Untu was deel van ʼn afvaardiging wat wou bepaal of dit lewensvatbaar kon wees. Dit sal egter heeltemal te duur wees vir munisipale belastingbetalers om te onderhou.”

Hy glo die Stad Kaapstad moet eerder die stryd na die regering toe neem, in plaas daarvan om “belaglike persverklarings” uit te reik “voor die stad sy huiswerk gedoen het”.

Brett Herron, lid van die burgemeesterskomitee, het gesê die eerste stap is ʼn beplanningsfase wat oor die volgende twee of drie jaar sal plaasvind. “Ek wil van die begin af dit duidelik stel dat dit nie oornag sal gebeur nie. Ons moet ʼn deeglike ondersoek doen oor al die risiko’s verbonde, veral die risiko’s wat met finansiering verband hou.”

Herron het gesê die stad wil pendelaars se vertroue in die passasierspoordiens herstel, deur seker te maak dat:
– die diens stiptelik is, met minstens 80% van die treine wat betyds aankom en vertrek
– ons genoeg voorraad het om aan die passasiers se eise te voldoen
– pendelaars veilig voel en veilig is by ons stasies en op ons treine
– die diens met ander vervoermetodes geïntegreer word sodat pendelaars maklik van ʼn bus na ʼn trein na ʼn minibustaxi kan gebruik maak
– pendelaars slegs een betalingsmetode hoef te gebruik, m.a.w. dat daar slegs een betalingsmetode is vir alle openbarevervoerdienste, of dit per MyCiTi-bus of per trein is.

“Ek wil inwoners en diegene wat besorg is oor die finansiële risiko’s, gerus stel dat ons nie enige mandate sal oorneem wat nie gefinansier is nie. Die nasionale regering sal alle betrokke subsidies aan die stad moet allokeer. Daar sal ook bykomende finansiering bekom moet word uit die nasionale fiskus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.