‘Up Money’ tot piramideskema verklaar, beboet

Een van die foto’s op Up Money se Facebook-blad. (Foto: Facebook)

Die Nasionale Kredietreguleerder het die Up Money-skema wat gedurende die staat van inperking groot aftrek gekry het omdat mense kospakkies, vleis en kontant belowe is as hulle nog lede werf, ʼn administratiewe boete van R1 miljoen opgelê.

Dít vir die bedryf van ʼn piramideskema.

Die Nasionale Verbruikerskommissie (NVK) het die Up Money-skema na die Nasionale Kredietreguleerder verwys nadat dit ʼn ondersoek gelas het na bewerings dat dit moontlik ʼn piramideskema is.

Die Verbruikersbeskermingswet beskryf ʼn piramideskema as ʼn reëling, ooreenkoms, praktyk of skema waar deelnemers vergoeding ontvang uit hul onderskeie werwing van ander mense as deelnemers, eerder as die verkoop van goedere of dienste.

Die adjunkminister van handel, nywerheid en mededinging, Nomalungelo Gina, het die reguleerder se besluit verwelkom.

“Hoewel Up Money sy skema as ʼn sogenaamde stokvel geadverteer het om lede tydens die pandemie te lok, het die kredietreguleerder bevestig dat dit nie ʼn stokvel is nie, maar ʼn piramideskema, aangesien sy konsep pas by die beskrywing van ʼn piramideskema soos uiteengesit in art. 43 van die Verbruikersbeskermingswet.”

Volgens die adjunkminister was Up Money se sakemodel nie volhoubaar nie aangesien dit daarop staatgemaak het dat nuwe lede tot die skema toetree.

(Foto: Up Money/Facebook)

Thezi Mabuza, waarnemende verbruikerskommissaris, het Suid-Afrikaners daaraan herinner om nié die Verbruikersbeskermingswet te oortree in ʼn poging om ander bronne van inkomste te vind nie, omdat hulle in die proses geld verloor.

“Piramideskemas is verbode in Suid-Afrika. Piramideskemas brei daagliks uit, veral op sosialemediaplatforms, en verbruikers verloor hul swaarverdiende geld.

“Ons wil aan verbruikers herhaal dat alle betrokkenes, die direkteure, die promotors wat die skema op sosiale media en ander platforms geadverteer het en gewerf is, asook almal wat by Up Money aangesluit het, die wet oortree het.”

Die Up Money-skema het nou 20 werksdae om die boete te betaal.

Maroela Media het vroeër berig dié skema, wat op WhatsApp aangedryf is, het van verbruikers vereis om R180 te betaal om aan te sluit. Diegene wat dan vyf of meer lede gewerf het, het gekwalifiseer vir kruideniersware.

Die skema is bemark as ʼn stokvel, ʼn tradisionele Suid-Afrikaanse gemeenskapsgegronde spaarskema, en die promotors het die piramideskema as ʼn stokvel vermom.

Buiten die piramideskema het Up Money ook ʼn vermenigvuldigingskema bedryf en beloftes gemaak aan deelnemers, verbruikers en beleggers in die skema dat hulle ʼn rentekoers van 20% bo die repokoers van die Reserwebank sal verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda G

Skelmz. Boete moes groter gewees het????????????????

Pierre

20% bo die repo-koers het dit al lankal weg gegee as n bedrog spul.

Francois

Hulle moet n slag die mense wat val vir so ‘n skema beboet. Ek meen na soveel jare van piramiede skemas, wil niemand leer hulle moenie val vir so iets nie.

Stof

En nou is ek sommer lus vir ‘n slukkie kubus melk…

Elsabe

Stokvel – kan uiters baie help as jy daai bedraggie elke maand inbetaal. Teen Krismis is dit baie welkom.