UP se regsprogram beste in Afrika

Die Universiteit van Pretoria. (Foto: UP/Facebook)

Die kursusinhoud van die Universiteit van Pretoria (UP) se regsfakulteit is aangewys as die beste in Suid-Afrika én die Afrika-kontinent.

Dít volgens die Times Higher Education se 2022-wêrelduniversiteitranglys wat onlangs bekendgemaak is.

Die ranglys het meer as 1 600 universiteite in 99 lande en gebiede teen mekaar opgeweeg en posisies toegeken, gegrond op 13 aanwysers wat die prestasies van universiteite op grond van hul onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale vooruitsigte meet.

Die UP se regskursus beklee saam met die Universiteit van Nottingham in Brittanje die 60ste posisie in die wêreld. Dit is ʼn merkwaardige verbetering van die 101-125ste posisie wat die program in 2021 behaal het.

“Die afgelope 20 maande was ʼn uitdaging vir almal, en veral vir diegene in onderwys wat innoverende maniere moes vind om akademiese vooruitgang te bevorder,” sê prof. Tawana Kupe, UP se visekanselier en rektor.

“Hierdie resultate is ʼn bewys dat die gehalte van ons akademiese programme nie in die slag gebly het terwyl ons van ʼn afstand moes leer nie.”

Prof. Elsabe Schoeman, dekaan van die UP se regsfakulteit, sê die program se nuwe rang is ʼn bewys van die studente én dosente se toewyding tot die gebied.

“Die regsfakulteit streef voortdurend daarna om sy internasionale erkenning te verbeter, deur relevante regsnavorsing, onderrig en akademiese samewerking.”

Die universiteitranglys het ook die beste universiteite in Afrika aangewys, waarvan Suid-Afrikaanse universiteite die eerste drie posisies beklee.

Die Universiteit van Kaapstad word beskou as die beste instelling op die kontinent, terwyl die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van die Witwatersrand gesamentlik die tweede plek beklee.

Die Universiteit van KwaZulu-Natal, die Durban-Universiteit vir Tegnologie en die Noordwes-Universiteit het onderskeidelik vyfde, sesde en tiende plek behaal.

UP het in geheel saam met die Universiteit van Johannesburg die 17de posisie gehaal.

Ingevolge die ranglys is die Universiteit van Oxford in Brittanje steeds, vir die sesde opeenvolgende jaar, die beste universiteit ter wêreld.

Drie Amerikaanse universiteite – Kalifornië-Instituut van Tegnologie, Harvard en Stanford – het die tweede, derde en vierde plek gehaal. Die Universiteit van Cambridge in Engeland is as die vyfde beste universiteit ter wêreld aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank John

Shoe, klink amper te goed om waar te wees.

Pietertjie

Net jammer dat regspleging in Suid Afrika so opgevoeter is. Wat gaan dit verg om weer ‘n mate van normaliteit te bereik?

seeskulp

KZN universiteit beter as NWU ? Ek kan dit nie glo nie…