Ure lange reddingspoging om beseerde man uit pas te kry

Foto: ER24

Reddingswerkers moes Saterdagmiddag meer as ʼn uur lank klim om by ʼn man uit te kom wat in die Du Toitskloofpas in die Wes-Kaap gestruikel en in ʼn rivier beland het.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, sê dit het reddingswerkers ongeveer 90 minute geneem om by die plek uit te kom waar die 39-jarige man gelê het. By hul aankoms het paramedici die man, wat besig was met ʼn staptog in die pas toe hy geval het, ondersoek en gevind dat hy sy enkel ernstig beseer het.

“Nadat die man behandel en gestabiliseer is, het reddingstegnici gespesialiseerde toerusting gebruik om hom na die bokant van die kloof te bring. Dit het hulle byna drie uur lank geneem om die man uit die kloof uit te kry,” sê Van Huyssteen.

Vandaar is die man per ambulans na ʼn hospitaal geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

IK ·

Nee, ek was nie daar MAAR ordentlike stapskoene beskerm ook jou enkels in ‘n groot mate. Ryg die veters tot heel bo en maak ordentlik vas. Nog ‘n gevaar is om tussen klippe in te trap en sodoende balans te verloor en jou enkel seer te maak. ‘n Stapstok (veral met ‘n rugsak) help om jou balans te hou. Moet ook NOOIT alleen gaan stap sonder dat ander van jou weet. Lees die boek ‘Between a Rock and a Hard Place’ van Aron Ralston hoe hy sy eie arm moes amputeer om aan die dood te ontkom.

marco polo ·

Goeie wenke, IK. Ek het onlangs in Nepal gestap en was geskok om te sien hoe ongeergd en ongeorganiseerd baie mense is wanneer hulle die natuur aandurf. Meestal gebeur daar niks nie, maar as dasr iets gebeur en jy het nie die nodige maatreels getref nie, is jy gou in groot moeilikheid.

Alida ·

Shoe maar jy is slim. Ek is seker die man het nie plakkies aangehad nie.

Driekie ·

Ai Alida…waarom nou die sarkasme…?? Laat die persoon sy/haar kommentaar lewer soos hy/ sy geregtig is om te doen. IK gee net algemene goeie advies. Dit wil voorkom asof mense soos jy daarop uit is om ander se kommentaar te lees met n soeklig na n geleentheid om sarkasties te wees… Is ons nie veronderstel om van een nasie te wees wat moet saams staan en mekaar moet liefhe en ondersteun nie? Wat jy nou doen is presies die teenoorgestelde…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.