US-app wil veeltaligheid bevorder

slimfoon-in-die-hand-kuberbedel

(Foto: Kaboompics.com)

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde het onlangs ʼn selfoontoepassing, bekend as MobiLex, bekendgestel wat deel is van hul plan om veeltaligheid te bevorder.

Die MobiLex-projek is ʼn poging om die akademiese geletterdheid van voorgraadse studente te verbeter deur vakwoordeskat in ʼn student se huistaal te verduidelik.

“Daar is ʼn definitiewe verband tussen studente se woordeskat en akademiese skryfvaardighede,” sê dr. Michele van der Merwe van die Departement Kurrikulumstudie.

Volgens Van der Merwe, projekbestuurder van die projek, is die terugvoer oor MobiLex oorwegend positief.

“Die terugvoer wat ons ontvang, is dat MobiLex gebruikersvriendelik is en nuttige inligting bevat. Studente gebruik dit in die klas, terwyl hulle hersiening doen en ook wanneer hulle studeer. Huistaalsprekers dui aan dat hulle gereeld van MobiLex gebruik maak vir taalondersteuning.”

Studente kan moeilik verstaanbare of vreemde terme in Afrikaans, Engels of isiXhosa naslaan. Die glossarium verskaf dus terme in drie tale, asook ʼn kort, vakspesifieke definisie in die gebruiker se voorkeurtaal.

MobiLex bevat tans terme in opvoedkundige vakke soos geskiedenis, wiskunde, natuurwetenskappe, geografie, ekonomiese en bestuurswetenskappe, opvoedkundige sielkunde, taalopvoeding en kurrikulumstudie.

Die selfoontoepassing is pas bygewerk met nuwe funksies soos navraag en terugvoer. Gebruikers kan nou vrae oor bepaalde terme vra of terugvoer verskaf. Dit bevorder die wisselwerking tussen gebruikers en samestellers.

Van der Merwe sê verder dat dosente ook by MobiLex sal baat.

“Die vakwoordeboek kan gebruik word vir beter begrip van vakterminologie, asook om nuwe konsepte in ʼn lesing bekend te stel, ʼn netwerk van betekenisse saam te stel, die korrekte term vir ʼn definisie te vind en vir die vertaling van terminologie. MobiLex is veral nuttig gedurende aanlyn onderrig,” verduidelik sy.

Die projek word onder meer deur Finlo, die Departement van Kuns en Kultuur en die Universiteitskapasiteitsontwikkelingsfonds ondersteun.

MobiLex is gratis in Apple Appstore en Google Play beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.