US bied taalkollokwium vir openbare universiteite

Argieffoto (Foto: Stefan Els)

Die Universiteit Stellenbosch (US) is vandeesweek die gasheer vir ʼn aanlyn taalkollokwium wat gerig is op hoëronderwysinstellings.

Dié kollokwium, wat op 28 en 29 September onder die vaandel van Universiteite Suid-Afrika (USAf) aangebied word, is ʼn gesamentlike projek van die Community of Practice for the Teaching and Learning of African Languages (CoPAL), ʼn afdeling van USAf en die US.

Sprekers sluit in Albie Sachs, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, asook rektore en visekanseliers van onder meer die Universiteite van Stellenbosch, Kaapstad en die Vrystaat, asook Rhodes-Universiteit.

Dit is die eerste kollokwium in ʼn reeks geleenthede wat universiteite gaan aanbied oor die nuwe taalbeleid vir hoëronderwysinstellings. Rektore en viserektore sal samesprekings met kundiges en belanghebbendes voer oor die toepassing van die nasionale Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings wat in Oktober 2020 in die Staatskoerant afgekondig is.

Volgens USAf het die Taalbeleidsraamwerk die vraagstuk oor taal skerp na die voorgrond gebring.

“Hoëronderwysinstellings het taalbeleide vir hul onderskeie universiteite ontwikkel, maar daar is ʼn beduidende behoefte vir kernrolspelers in die bedryf om hulle begrip van die Taalbeleidsraamwerk en die toepassing daarvan te verdiep.”

Dr. Sizwe Mabizela, visekanselier van Rhodes-Universiteit en voorsitter van USAf se Onderrig-en-leer-strategiegroep, meen die taalbeleid moet van die kantlynposisie, wat dit tans by instellings beklee, geskuif word na die kern van visekanseliers se strategiese beplanning.

“Dit staan sentraal tot die erkenning van die diversiteit van studente. Ons moet ook trots wees op ons eie tale en ʼn boodskap aan ons kinders oordra dat Engels belangrik is, maar dat ander tale tot dieselfde vlak opgehef moet word as ʼn  kommunikasiemedium vir ons gedagtes en idees. Taal bou ook ʼn nasie,” sê Mabizela.

Prof. Wim de Villiers, rektor van die US, verwelkom die geleentheid om met ander universiteite saam te werk.

“Ons sien daarna uit om deel te neem aan hierdie belangrike gesprek en om insigte te verkry van kollegas en kundiges by ander instellings. By die US is ons bewus van die uitdagings en geleenthede wat gepaardgaan met die toepassing van ʼn taalbeleid, hoe dit saamhang met die Taalbeleidsraamwerk en die sterk debatte wat dit tot gevolg het. Ons verwelkom egter hierdie debat. Samewerking is belangrik, en ons eerlike gesprekke hieroor kan tot oplossings lei. Deur aksies soos hierdie kan ons ook ʼn dieper begrip ontwikkel van die waarde van meertaligheid,” het hy gesê.

Onderwerpe wat tydens die kollokwium bespreek word, sluit in “Die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings in die konteks van die Suid-Afrikaanse Grondwet”; “Die rol van taal om Hoëronderwysinstellings te transformeer”; “Die nuwe Taalbeleidsraamwerk as meganisme tot studente-toegang en -sukses”; “Die geleenthede wat die nuwe Taalbeleidsraamwerk bied ten opsigte van die idee van ʼn universiteit in Afrika” en “Die transformasie van die akademie deur die gebruik van Afrikatale”.

Taaldag

Ter viering van die geleenthede en moontlikhede wat meertaligheid inhou, bied die US se Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking vanjaar op 30 September ʼn Taaldag vir personeel en studente aan.

Die tema is “Taal, leer, leef! Die implementering van meertaligheid by die US in akademiese en sosiale ruimtes”Taaldag handel nie oor die taalbeleid self nie, maar fokus op hoe taal aan die US benader word.

Twee subtemas wat vanjaar ondersoek word, is meertaligheid in (aangevulde afstands-) leer, onderrig en assessering en meertaligheid in administratiewe, sosiale en leefruimtes.

Dr. Antoinette van der Merwe, senior direkteur van die afdeling, sê die integrasie van meertaligheid sal veral voorkeur geniet.

“Ons sal maniere bespreek om ʼn meertalige ingesteldheid by onderrig, leer en assessering, asook by die sosiale lewe buite die klas te integreer.”

Die twee paneelbesprekings met daaropvolgende wegbreekgroepbesprekings sal, volgens Van der Merwe, US-personeel en -studente die geleentheid gee om hulle stemme te laat hoor, beste praktyk te deel en saam oplossings vir uitdagings te probeer vind.

“Ons glo dat meertaligheid oor meer gaan as bloot die vermoë om verskeie tale te gebruik. Dit gaan daaroor om aan mense ʼn stem te gee, ongeag die taal of tale wat hulle gebruik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

KB ·

Ag asseblief!
Die US…die een in Stellenbosch?! Van alle universiteite…!
Ons weet U.S. staan eintlik vir Un-Serviceable…

annie ·

Prof Wim moes hom dalk maar by sy eie studierigting bepaal het. Hy beweeg totaal buite sy studieveld. Hoekom het hy ‘n mediese rigting gekies as jongman en nou wil hy iets anders speel. Daar was natuurlik destyds ‘n Sir De Villiers Graaff in die SAP-party. Is sy spook dalk net prof Wim se alterego se nefie.

Ettienne ·

Ai US wil so graag die leier bly, maar slaag nie. Nou wil die arme instansie openbare platforms gebruik om ander to oortuig om sy oneffektiewe taalbeleid te aanvaar…bly net by wat die grondwet US en stop julle stryd om soeke na populariteit …

pompies ·

Die US moet eerder gaan kyk waar hulle oorsprong was in die geskiedenis en daarby probeer bly, hulle probeer nou alle truuks om die taal beleid te omseil. Wat verwag mens van n klomp hensoppers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.