US-dosente ontvang gesogte letterkundepryse

Links: Dr. Alfred Schaffer, Regs: Dr. Willem Anker (Foto: Verskaf)

Twee dosente in Kreatiewe Skryfkuns in die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs gesogte toekennings ter erkenning van hul uitmuntende letterkundige bydraes ontvang.

Dr. Alfred Schaffer het die Nederlandse PC Hooft-prys ontvang, en dr. Willem Anker die kykNET-Rapport-fiksieprys.

Alfred Schaffer

Volgens Martin Viljoen, US-woordvoerder, is Schaffer op 14 Desember verlede jaar as die wenner van die prestigeryke PC Hooft-prys aangewys vir sy oeuvre, wat reeds uit nege digbundels bestaan. Schaffer word as een van die mees begaafde Nederlandse digters van sy tyd beskou.

Die PC Hooft-prys is een van die hoogste letterkundige eerbewyse in Nederland. Dit is laas in 1991 aan iemand met Suid-Afrikaanse bande toegeken toe Elisabeth Eybers die prys vir haar Afrikaanse poësie-oeuvre ontvang het.

Volgens Viljoen kon Schaffer uiteindelik op 9 September 2021 die prys persoonlik tydens ’n hibridiese geleentheid in Den Haag in ontvangs neem. ’n Aantal digters, onder wie die Suid-Afrikaners Antjie Krog en Ronelda S Kamfer, het as deel van die program uittreksels uit sy en hul eie werk voorgelees, en gesels oor wat sy poësie so uitsonderlik maak.

“Dit is ’n groot eer,” het Schaffer gesê. “Ek het al voorheen wonderlike letterkundepryse ontvang, maar ek reken die impak van dié een is op ’n gans ander vlak. Dit is in sekere sin lewensveranderend. Omdat ek bevoorreg genoeg was om daar te wees en die prys self te ontvang, het ek persoonlik ervaar hoe mense in Nederland en België die toekenning beskou.

“My versamelde werk tot dusver is ook gepubliseer – ’n 720 bladsye lange boek wat net meer as 20 jaar van my lewe omvat. Dit voel soos die slot van die een hoofstuk, en die begin van ’n nuwe een.”

Oor Krog en Kamfer se teenwoordigheid by die prysuitdeling sê hy: “Dit voel reg dat hulle daar was, en hul teenwoordigheid het werklik soveel vir my beteken. Ek is ’n groot bewonderaar van hulle albei. Ronelda het die mooiste dinge oor my en my werk gesê, en Antjie se Afrikaanse vertalings van twee van my gedigte oor my oorlede ouers het my byna in trane gehad.

“Dit was belangrik vir my dat nie net die Nederlandse taal verteenwoordig moes wees nie, maar ook Suid-Afrika deur Antjie en Ronelda, sowel as Papiamentu, my ander taal, die taal van my ma, wat op die Karibiese eiland Aruba gebore is.”

Viljoen sê Schaffer sal boonop op 22 en 23 Oktober by die Breytenbach-sentrum in Wellington se jaarlikse Tuin van Digters vereer word.

Hy het in April 2021 ook die prestigeryke Herman de Coninck-prys vir sy digbundel Wie was ik ontvang. Sy lys eerbewyse sluit voorts in die Jo Peters-poësieprys, die Hugues C Pernath-prys, die Ida Gerhardt-poësieprys en die Jan Campert-prys.

Schaffer het oor die jare etlike dig- en prosabundels die lig laat sien, soos Zijn opkomst in de voorstad (2000), Dwaalgasten (2002), wat vir die VSB-poësieprys benoem is, Geen hand voor ogen (2004), Schuim (2006), en Kooi (2008). Sy werk is al in Afrikaans, Engels, Frans, Duits, Masedonies, Turks, Indonesies en Sweeds vertaal.

Willem Anker

Volgens Viljoen het Anker op sy beurt in ’n aanlyn plegtigheid op 11 September 2021 die kykNET-Rapport-prys vir ’n tweede keer ontvang – hierdie keer vir sy derde roman, Skepsel. Hy het dieselfde eerbewys in 2015 met sy roman Buys gewen, wat danksy die vertaler Michiel Heyns ook in Engels as Red Dog verskyn het.

Skepsel, wat in Maart vanjaar met die UJ-prys bekroon is, word deur die kykNET-Rapport-toekennings se keurders beskryf as “tegelyk ʼn lieflike, poëtiese elegie vir die mens se geskiedenis op aarde en ʼn vooruitskouing van ʼn posthumanistiese wêreld”.

“Ek is besonder geëerd om hierdie gesogte prys te wen,” het Anker gesê. “Dit beteken vir my baie. Dit is ’n erkenning van my werk, en ’n aansporing om aan te hou.

“Ek is baie bly oor die reaksie op die boek, en voel geëerd dat mense daarvan hou en dink dit is van ’n sekere gehalte.”

Anker het ook in 2016 die gesogte Hertzogprys, die hoogste eerbewys in die Afrikaanse letterkundewêreld, vir Buys gewen. Die prys erken oorspronklike literêre werk in Afrikaans en word jaarliks vir onderskeidelik poësie, drama en prosa toegeken.

Daarbenewens het Buys hom die UJ-prys vir 2015 besorg. Anker het in 2016 ’n Fleur du Cap-toekenning vir sy toneelstuk Samsa-masjien in die kategorie “Beste nuwe Suid-Afrikaanse teks” ontvang, en in 2008 die UJ-debuutprys vir die roman Siegfried gewen.

Volgens Viljoen is die US se departement Afrikaans en Nederlands trots op hierdie twee skrywer-dosente se prestasies, en verheug dat hul werk soveel lof ontvang.

“Ons voor- en nagraadse studente is bevoorreg om by sulke begaafde skrywers te kan leer. Dít gee hulle beslis ’n voorsprong wat Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en kreatiewe skryfkuns betref,” lui ʼn verklaring deur die departement.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.