US help bou aan unieke ‘Afrika’-viool

Houtkundiges aan die Universiteit Stellenbosch het die afgelope jaar gehelp om ʼn uiters unieke viool uit hout afkomstig uit Knysna te skep (Foto: Verskaf)

Houtkundiges aan die Universiteit Stellenbosch het die afgelope jaar gehelp om ʼn uiters unieke viool uit hout afkomstig uit Knysna te skep.

Wat hierdie viool merkwaardig maak, is die feit dat dit die tweede instrument van sy soort ter wêreld is. Die US was ook betrokke by die maak van die eerste Afrika-hardehout-viool enkele jare gelede.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die US het die houtkundiges met die hulp van Hadley Duminy, ’n luitmaker van Durbanville in Kaapstad, dié besonderse viool gebou. Die hout is verskaf deur Stander Houtwerke in Knysna.

Die vervaardiging van dié instrument is verlede jaar begin, net voor die aanvang van die eerste inperkingstydperk.

“Die voorkant van die viool is uit Knysna-swarthout van die boom Dalbergia melanoxylon gebou. Die rug bestaan uit hout van ʼn hardepeerboom (Olinia ventos), ’n immergroen boom wat in woude van die Kaap tot in KwaZulu-Natal aangetref word,” lui die verklaring.

“Hout van die sapele-boom (Entandrophragma cylindricum) uit Wes-Afrika, wat toenemend gewild raak in die maak van kitare, is gebruik vir die nek en ribbe. Die vingerbord is van ’n rooierige kershout gemaak. Hierdie spesie word van die Kaapse Skiereiland tot in KwaZulu-Natal aangetref.

“Die viool het nie die tipiese glim van ander viole nie, aangesien die span besluit het om dit nie te vernis nie. Dit is eerder behandel met byewas en borrie, Duminy se geheime resep.”

Die eerste viool wat uit Afrikahout geskep is, is verlede jaar met die hulp van die ervare Pretoriase luitmaker, Hannes Jacobs, vervaardig.

Die voorkant is van geelhout (Podocarpus latifolius), die rugkant, ribbes en nek van Wes-Afrikaanse sapele-hout en die bykomstighede soos die vingerbord en kenrus is van kommersieel beskikbare ebbehout.

Die projekleier, prof. Martina Meincken, ’n deskundige van hout en materiale van die departement bosbou en houtkunde aan die US, sê die tweede viool het ʼn vol klank, maar tog ook ’n bietjie sagter klank as die eerste viool wat uit Afrikahout gemaak is. Sy sê die viool is die ideale instrument om in jazz- en klassieke musiekstukke te gebruik.

Meincken se werk behels die bestudering van die eienskappe van houtgebaseerde materiale wat gebruik word in ’n wye reeks toepassings, soos bouwerk, in die maak van meubels en vir energieopwekking.

Skeppingsproses

Volgens Meincken is die vorms en al die vioolonderdele intern by die departement bosbou en houtkunde vervaardig.

Meincken het die vorm geskep waarom die ribbes gevorm is. Twee BSc Houtkunde-studente, Michiel Rust en Mario Liebenberg, het die plate, nek en vingerbord gemaak as deel van hul finalejaarprojek. Hulle het die vorms van die verskillende dele met die hulp van ’n 3D-konstruksie-sagtewareprogram geprogrammeer sodat dit deur gerekenariseerde numeries-beheerde (CNC) snymasjiene gesny kon word.

“Selfs met die hulp van tegnologie was dit steeds nie ’n maklike taak nie, en het heelwat handearbeid geverg. Ek moes behoorlik dae lank werskaf om seker te maak die verskillende dele is die regte grootte,” sê Meincken.

Volgens Meincken het die bouproses nie altyd glad geloop nie omdat soveel mense aan die verskillende dele gewerk het.

“Duminy moes behoorlik sy storie ken toe hy begin het om die viool uit die verskillende stukke op te bou. Hy moes op plekke baie paswerk en wegsnywerk doen aan die hout. Ons het aanvanklik gedink die viool sou nie ʼn goeie klank hê nie, maar verbasend genoeg klink dit regtig eintlik heel goed.”

Die eerste note wat Duminy op die nuwe viool gespeel het, was ’n vrolike bourrée-dans deur die komponis Johan Sebastian Bach.

Navorsingsprojek: Inheemse houtspesies

Volgens die universiteit vorm die twee unieke viole deel van ’n groter navorsingsprojek wat poog om die akoestiese eienskappe van inheemse houtspesies te verstaan. Dié projek het in 2019 ontstaan.

“Een van die eerste stappe in die projek was vir ’n honneursstudent in houtwetenskap, Keenan Nefdt, om te evalueer of inheemse boomspesies enigsins geskik is vir die gebruik as toonhoute. Sulke hout beskik oor sekere tonale eienskappe, wat dit geskik maak om akoestiese snaarinstrumente mee te maak.

“Die oefening om die viole te maak het gedien as opleidingsprojek vir finalejaarstudente wat BSc Houtwetenskap aan die US studeer. Daardeur het hulle eerstehandse ondervinding gekry in die programmering en gebruik van gerekenariseerde numeries-beheerde (CNC) snymasjiene wat by die departement bosbou en houtwetenskap beskikbaar is.”

Meincken het reeds ’n navorsingsartikel by ’n vaktydskrif ingedien oor navorsing wat in die proses gedoen is. Dit is gedoen in samewerking met US-kollegas prof. Thomas Niesler van die departement elektriese ingenieurswese en dr. Gerhard Roux van die departement musiek.

In dié navorsing word die verskille in klank tussen die eerste viool met die nuwe viool vergelyk. Gretna Heynike, ’n violis wat besig is met haar honneursgraad by die departement musiek van die US, het albei instrumente gespeel sodat die nodige opnames ontleed kon word.

Volgens Meincken het sy besluit om viole te bestudeer omdat dit die moeilikste vorm van alle snaarinstrumente het. “Oral is kurwes in elke moontlike rigting. ’n Kitaar, by voorbeeld het net ’n plat voorkant,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tiptol

Hoop die hout is herwin.

annie

Nie te vernis nie… seker ‘n slim Engelsman se idee. Tot die vernis dra by tot die unieke klank van elke viool en was in die verlede ‘n geheime resep van die vervaardiger. Vra die prof wie se tjello onlangs geduco is deur die dief of hy nou weer heerlike klanke opdiep wat die hartsnare roer. Die prys van die US- viool met sy onafgewerkte rowwe voorkoms gaan nie tot miljoene styg nie. Die US se eie vernis is afgeskuur en onlangs laat spuitverf. Laat dit waardeer…

Frank John

Wow en awesome.