US hof toe gesleep oor ‘geheimhouding’

Prof. Wim de Villiers. Foto: US

Die DA sleep die Universiteit Stellenbosch (US) hof toe oor sy weiering om die bewyse wat gebruik is om sy rektor onskuldig te bevind, openbaar te maak.

Daar is beweer dat prof. Wim de Villiers op ʼn onvanpaste wyse probeer het om regter Edwin Cameron van die Konstitusionele Hof te oortuig om die universiteit se nuwe kanselier te word terwyl Cameron die hofsaak teen die US se taalbeleid om Afrikaans prakties af te skaf, aangehoor het.

Die universiteit het ʼn ondersoek na De Villiers begin nadat ʼn klag in dié verband ontvang is. Die ondersoek het De Villiers van enige blaam onthef.

“As die universiteit vertroue het dat De Villiers niks verkeerd gedoen het nie, waarom steek hulle dan die bewyse weg?” wil dr. Leon Schreiber, DA-LP en die party se kiesafdelingshoof vir Stellenbosch, weet.

Schreiber het Vrydag hofstukke ingedien teen wat hy noem die US se “onwettige geheimhouding van inligting wat van kritieke openbare belang is”.

Die hofaansoek volg nadat die US vroeër geweier het om te voldoen aan ʼn aansoek onder die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting.

Schreiber het die aansoek om toegang tot inligting oorspronklik in Maart ingedien en die doel van die aansoek was die openbaarmaking van getuienis wat die US oorweeg het tydens die ondersoek na De Villiers.

Daar is beweer De Villiers het tydens die verloop van die taalhofsaak herhaaldelik persoonlike gesprekke met Cameron gevoer.

“Die doel van die gesprekke was skynbaar om Cameron te oorreed om ʼn nominasie te aanvaar vir die posisie van kanselier aan die US, nadat Cameron aanvanklik geantwoord het dat sy ‘posisie in die beregtiging van die saak’ oor Afrikaans ‘hopeloos gekompromitteer’ sou word indien hy die nominasie sou aanvaar. Ten spyte hiervan het Cameron later wel die nominasie aanvaar, waarna hy die hofuitspraak gelewer het wat Afrikaans aan die US wesenlik keelaf gesny het.”

Dr. Leon Schreiber.

Schreiber is van mening dat die universiteit se weiering om inligting bekend te maak op ʼn growwe skending van die US se grondwetlike plig neerkom om die waardes van openheid en deursigtigheid te bevorder.

“Dis ook onteenseglik duidelik dat die publiek ʼn belang daarin het om te weet of daar enige bewyse is dat die rektor van die US onbehoorlike gesprekke gevoer het met ʼn regter tydens die hofsaak oor die afskaffing van Afrikaans, of selfs probeer het om ʼn regter van die hoogste hof in die land te beïnvloed met die gesogte pos van kanselier.”

Die geheimhouding van inligting deur ʼn universiteit is fundamenteel strydig met die beginsel van akademiese vryheid, meen Schreiber. “Die DA sal hand en tand veg teen hierdie poging deur die US om die publiek in die duister te hou oor die ernstige bewerings teen De Villiers, en ons sal ook nie toelaat dat die grondwetlike reg op moedertaalonderrig in die proses verder vertrap word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

tweeling ·

Ek ondersteun dit 100%, van die begin af gedink daar is ‘n slang in die gras

Cherokee ·

Da? Julle verstom Cherokee nou werklik! Dit sal die eerste keer wees in die aangetekende politieke geskiedenis (sover ek weet) dat die DA (al is Leon Schreiber waarskynlik Afrikaanssprekend) vir die Afrikaanse taal in die bresse tree. En die eerste keer in die geskiedenis dat Cherokee sê “Dankie DA”.

Martie Smartie ·

Mooi so, hoop daai slange vd US ry aan die pen, verraaiers en konkelaars

Rooijan ·

Ek wil sommer hardop lag as ek sien hoe ywerig die DA skielik veg vir boere en Afrikaans. Mens sou sweer daar moet binnekort plaaslike verkiesings plaasvind. Afrikaners moet net nie val vir hierdie deursigtige verkiesings truuks nie. Stem steeds vir n party wat werklik Afrikaner belange op die hart dra. Die twee partye sal wel saamwerk waar ons gesamentlike belange oorvleuel, maar ons sal nie weer die DA die mag gee om ons in die rug te steek soos hulle gedoen het met die vorige algemene verkiesing nie. Moet nooit vergeet hoe die DA opgetree het met Schweizer Reyneke nie, die mannetjie wat die juffrou wou kruisig is steeds n LP.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.