US ignoreer menseregtevergrype teen Afrikaanse studente, sê DA

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Demokratiese Alliansie (DA) deel die pyn van Afrikaanssprekende studente aan die Universiteit Stellenbosch (US), wat vanoggend wakker geword het met die nuus dat die universiteitsbestuur – onder leiding van rektor Wim de Villiers – reeds vir ses maande lank die hulpkrete van Afrikaanse studente eenvoudig ignoreer.

Volgens berigte in Rapport, het studente van die Tygerbergkampus reeds in Augustus 2020 klagtes oor taaldiskriminasie aanhangig gemaak by die betrokke huiskomitee, koshuishoof, die TygerMaties kluster, sowel as die US se gelykheidseenheid.

“Vir ‘n halwe jaar lank het hul hulpkrete op dowe ore geval, met die universiteit wat skynbaar nou eers wakker geskrik het te midde van die voortslepende storm weens die verbod op Afrikaans aan die universiteit,” het Leon Schreiber LP, DA-kiesafdelingshoof in Stellenbosch, in ʼn verklaring gesê.

“Die DA is ook gewalg deur die berigte dat vrouestudente by sekere koshuise gedreig word met boetes en tugstappe as hulle Afrikaans praat. Daar is nou berigte van dosyne studente by minstens vyf koshuise dat hulle belet word om Afrikaans te praat in die openbaar, op WhatsApp, en selfs in hul eie kamers. Dit blyk nou ook dat Afrikaans spesifiek geteiken word, met een student wat aanvoer dat hulle toegelaat word ‘om alle tale behalwe Afrikaans te praat’ omdat dit glo as ‘n ‘onderdrukkende taal’ beskou word.”

Schreiber sê dit is teen hierdie tyd duidelik dat die grondwetlike regte van talle Afrikaanse studente aktief vertrap word aan die US.

“Maar waar is Wim de Villiers? Die rektor, wat die dryfkrag was agter die 2016-taalbeleid wat Afrikaans as ‘n gelyke taal afgeskaf het en daardeur klaarblyklik ‘n atmosfeer van diskriminasie teen Afrikaans geskep het, het nog nie ‘n enkele woord gerep oor hierdie menseregtevergrype nie. In plaas daarvan om proaktief en met empatie te reageer, het die bestuur van die universiteit tot dusver probeer wegkruip, die klagtes ignoreer of probeer afmaak as ʼn ‘verkeerde interpretasie’ van die ‘gees’ van die taalbeleid.”

Gegewe die feit dat De Villiers se taalbeleid openlik verklaar het dat Afrikaans minder belangrik is as Engels aan die US, blyk dit eerder asof die huidige vergrype die direkte gevolg is van die 2016-taalbeleid, voeg Schreiber by.

“Die enigste oplossing is dus om die taalbeleid te hersien deur seker te maak dat Afrikaans gelyk gestel word aan Engels. De Villiers se bestuur se weiering tot op hede om ferm op te tree ter beskerming van die vrouestudente wat verbied word om hul moedertaal te praat maak hulle aandadig en medepligtig in hierdie vergrype. Aangesien die bestuur duidelik geen aptyt het om op te staan vir hierdie studente nie, gaan die DA die nuutste onthullings oor studente wat gedreig word met boetes insluit by ons bestaande klagte by die Menseregtekommissie.”

Deur die loop van die komende week gaan die DA ook verdere aksies aankondig ter verdediging van moedertaalonderrig op Stellenbosch. Ons nooi elke Suid-Afrikaner wat verbind is tot ons Grondwet om met ons hande te vat vir die grootste veldtog van sy soort in die geskiedenis van ons demokrasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Kokerboom ·

Dis tyd dat ALLE finansiële ondersteuning deur Afrikaanse besighede en sakemanne gestaak word aan US.MAAR weens emosie en tweedrag onder Afrikaners sal dit NIE gebeur en die gekerm oor Afrikaans sal voortgaan

Cheryl ·

Slaan hulle waar dit die seerste maak. Hulle sakke. Dan kyk ons wat word van hulle.

Anoniem ·

Iemand in die DA het wakker geword. Ek wil meer sê maar dan gaan my kommentaar nie hier verskyn nie.

Willem ·

Kom ons maak soos die nie betalendes en staak in die strate en bring alles tot stilstand

KB ·

Wim de Villiers is op sy beste, nie ‘n goeie keuse nie. Hy is, myns insiens, die probleem…sy optrede is uiters verdag.

Michael ·

Wim de Villiers word sekerlik van die ANC hiervoor betaal.

Sneeutjie ·

Ja, so vergeet hulle waar Engels vandaan kom…. n Europese taal, n “kolonialistiese” taal… die taal van d slawehandelaars…
As daar hare gekloof moet word oor tale in hierdie land, sal ons almal maar gebaretaal moet praat, want nie een “taal” is sonder n verlede nie…

marius ·

Draai die krane toe , en binne ‘ n jaar is dit nog ‘n ashoop .

Abraham ·

Ai, ek is so dankbaar vir my kind se moedertaal onderrig aan die Noord Wes Universiteit. Dis net vir my moeilik om te verstaan hoe ń Golden Key student aan Tukkies, wie se ouers hul werk deur Covid verloor het geld moet leen om verder te studeer terwyl duisende druipelinge steeds Nisfas studie beurse kry? Dalk kan iemand my dit verduidelik.

Basjan ·

Wel Prof. Elmien du Plessis en trawante beywer hulself baie hard om Afrikaans af te skaf by Pukke. En dan word sy feitlik weekliks op RSG Monitor en Lynette Francis getrakteer om haar insette te lewer. Ons verraai onsself.

daniel ·

Wat kan hulle in elkgeval doen as die studente weier om gehoor te gee aan hierdie onsinnige kastige reels ?

FBS ·

Wat vir my baie interessant is dat die mense wat niks bydrae finansieel of skeppend vir die land nie het die reg om ons taal te vernietig, Afrikaners het die Universiteit gebou en betaal het. Wonder hoekom Afrikaanse Universiteite altyd verander maar hulle het nie die vermoë om hulle eie te bou en bestuur nie. Dr. De Villiers en sy span hoekom gaan julle nie dan na Rhodes of Wits toe nie, dit is klaar n Engelse universiteit.

OW ·

Ek stem FBS.Hoe het oom Jaap Marais jare gelede gesê.Dit is met blanke geld gebou.Hulle kan Maties maar vat.Ons is besig om te herrys.Ons intellektuele vermoëns kan hulle gelukkig nie aan raak nie.As ek ‘n oud Matie was het ek my bydraes lankal gestaak.

Sanet ·

As n Gautenger wil ek net weet wat het van UCT geword? Kyk maar net wat het van RAU geword met Wits net om die hoek. Studente van die Vrystaat en Gauteng is almal deesdae op die PUK. Hierdie hele storie vertel my net een storie en dit in onstellend.

Misky ·

Ek kan nie glo wat ek lees nie!!!! Hoe kan enigiemand jou voorsê watse taal jy mag en nie mag praat nie? Die US kan bly wees ek is nie n student daar nie, want ek sou uit my pad gaan om my moedertaal te praat en van die dakke uit te basuin!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.