US in rou na dood van rektor

Prof. Russel Botman. Foto: Twitter

Prof. Russel Botman. Foto: Twitter

Die raad van die Universiteit van Stellenbosch het sy innige medelye met prof. Russel Botman se vrou, kinders, familie en die universiteit se personeel en studente uitgespreek na sy afsterwe.

Die universiteit sê prof. Botman, rektor en vise-kanselier, is in by sy huis op Stellenbosch in sy slaap oorlede.

“Russel was ’n liewe en geliefde mens. Ek het groot ontsag vir sy integriteit en sy leierskap, onder meer die manier waarop hy gedurende die stormagtige jare destyds die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Wes-Kaapland oorgebring het na die Universiteit Stellenbosch. Hy is ’n man wat vas gestaan het ten opsigte van sy eie oortuigings en beginsels, en daarvolgens geleef het,” het George Steyn, voorsitter van die universiteitsraad, gesê.

Steyn sê die universiteit het die afgelope klompie jare groot baat gevind by prof. Botman se visioenêre leierskap, wat ʼn weerspieëling was van sy lewensfilosofie dat die US se uitnemende navorsing en onderrig ’n verskil in die samelewing moet maak.

“Russel het gereeld in gesprekke tussen ons verwys na die feit dat die ‘plaaseienaar se kind en die plaasarbeider se kind ʼn gelyke kans moet hê om ʼn Matie te wees’. Ook het hy telkens vir my gevra of ons genoeg doen om te verseker dat die US, as 21ste eeuse universiteit, genoeg doen om terselfdertyd toe te sien dat sy en my kleinkinders eendag hier in Afrikaans sal kan studeer.”

Dr Johann Rupert, kanselier van die US, het gesê dat prof Botman ʼn persoon met onkreukbare integriteit was wat hom altyd vir sy medemens opgeoffer het. “Hy het sy diep geloof daagliks uitgelewe. Die twee van ons het net verlede week ʼn heerlike middagete geniet waartydens ons ʼn breedvoerige gesprek gehad het. Taalkwessies, studente veiligheid en die algemene stand van Suid-Afrika was bespreek.”

Die universiteit sê prof. Botman sou komende week na die buiteland vertrek en het prof Leopoldt van Huyssteen, bedryfshoof van die US, as waarnemende rektor aangewys. Prof Botman sou in Julie vereer word met ’n eregraad van die Universiteit van Aberdeen in Skotland. Prof Van Huyssteen sal in hierdie hoedanigheid waarneem tot wanneer die Uitvoerende Komitee van die Raad in Julie vergader.

Prof. Botman word oorleef deur sy vrou, Beryl en vier kinders: Hayman, Ilse, Roxanne en Lizelle. Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

Prof Botman was sedert 2007 die rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch. In 2012 is hy heraangestel vir nog ʼn vyfjaar-termyn.

Lees ook:
Prof. Russel Botman oorlede

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.