US kap terug oor Paia: ‘Ons oortree gʼn die wet’

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Universiteit Stellenbosch (US) is in die proses om inligting in verband met ʼn ondersoek na die rektor, prof. Wim de Villiers, aan die DA te oorhandig. Die DA het dié inligting in ʼn Paia-aansoek van die universiteit versoek, maar die universiteit het aanvanklik geweier om dit te oorhandig.

Die hof het Donderdag beslis die universiteit kan nie die DA toegang hiertoe weier nie en het die US vyf dae gegee om dié inligting te oorhandig, het Maroela Media berig. Die universiteit het egter Maandag in ʼn verklaring benadruk dat hulle nié die wet oortree het, soos die DA verlede week in ʼn verklaring beweer het nie.

“Die hof het geen uitspraak gelewer of bevindings gemaak soos in die DA se verklaring beweer word nie. Daar was dus geen skuldigbevindings of oortreding van die wet nie. Die PAIA-wetgewing maak wel voorsiening vir strafregtelike oortredings (artikel 90), maar dit is nie ’n oortreding om ’n rekord te goeder trou te weier nie, selfs al sou dit later bevind word dat die redes vir die weiering ongeregverdig of verkeerd was,” lui die verklaring. Die inhoud van die tersaaklike verslag is ook intussen volledig op die US se webblad gepubliseer.

Prof Wim de Villiers (Foto: Stefan Els)

Die universiteit sê hy het die aanvanklike Paia-versoek in Maart 2020 te goeder trou geweier vir redes wat volgens die instelling geregverdig was ingevolge  artikel 44(1)(a) van dié wet. Die US het ook nie die daaropvolgende hofaansoek teengestaan nie.

Die DA het die US in Julie hof toe gesleep oor sy weiering om die bewyse wat gebruik is om De Villiers onskuldig te bevind openbaar te maak. Na bewering het De Villiers op onvanpaste wyse probeer om oudregter Edwin Cameron te oortuig om die nuwe kanselier te word terwyl Cameron die hofsaak teen die US se taalbeleid om Afrikaans in praktyk af te skaf, aangehoor het. Die US het nie die hofaansoek teengestaan nie.

Die US het ook kennis geneem van bewerings op sosiale media dat prof. De Villiers die kanselierskap aan regter Cameron sou “aangebied” het. “Dit is ook van alle waarheid ontbloot. Die rektor is nie by magte om ’n kanselierskap aan te bied nie, aangesien die kanselier deur ’n kieskollege verkies word.  Volgens die Fourie-verslag het die bewyse ten beste getoon dat die rektor, soos hy verplig was om te doen, gehelp het om geskikte kandidate vir die benoeming van kandidate vir die posisie van die nuwe kanselier te identifiseer,” lui die universiteit se verklaring.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

J ·

Die Trojaanse perd strategie is telkens gebruik om die Afrikaanse universiteite te ‘verower’ vir die ANC regime.

Ontplooi ‘n wit professor met ‘n Afrikaanse naam om die Afrikaanse instansies van binne te ‘verower’.

Die Afrikaanses het hulle vertrou … !

Martie Smartie ·

Die US is soos ‘n persoon in dryfsand – hoe meer hulle probeer uitkom, hoe dieper grawe hulle hulself in. Dis soooooo ooglopend dat hulle nou als probeer om beter te lyk in die media, terwyl almal weet dat as hulle niks had om weg te steek nie, hulle vd begin af sou gee wat die DA gevra het. Wim de Villers, jy behoort jou te skaam, jy is oneties deur en deur. Maar nou ja, wie se brood jy eet, die se lied moet jy mos sing

Jacobus ·

Wil eintlik net sê dat Maties (word die naam nog gebruik) hulself in vergetelheid gedompel. Nie net oor die saak nie, maar ook agv oud-maties wat die land en sekerlik ook Stellenbosch se naam krater maak.

Danie ·

‘n “Openbare” instelling het “geregverdige” redes om inligting van die publiek te weerhou.
Die anc het julle mooi geleer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.