US-konseptaalbeleid ‘bied weinig vir toekoms van Afrikaans’

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

’n Mens sou verwag dat universiteite hulle verbintenis tot Suid-Afrikaanse tale bewys deur in die onderskeie provinsies te sorg dat daar ten minste een instelling is waar ’n student ’n kwalifikasie volledig in sy of haar moedertaal kan behaal.

Só het AfriForum gesê nadat hy teen Saterdag se spertyd kommentaar op die tweede konsepweergawe van die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid ingedien het.

“In die Wes-Kaap kan voornemende studente kies tussen verskeie openbare tersiêre onderriginstellings, maar by nie een van hulle kan ’n student onderrig vir ’n kwalifikasie volledig in Afrikaans kry nie, ten spyte daarvan dat sowat die helfte van die provinsie se inwoners Afrikaanssprekend is,” het Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, gesê.

“Nou is die realiteit dat nege van die inheemse amptelike tale stadig vorder met geen sekerheid oor die uiteindelike status daarvan nie; Afrikaans moet veg om hoëfunksiestatus te behou en Engels is en bly eintlik maar die enigste oorheersende akademiese taal in die land.”

Volgens Bailey onderneem die US, soos in die verlede, dat veral drie tale, Afrikaans, Engels en Xhosa, op alle terreine gebruik sal word, en meertaligheid bevorder sal word. Verder word die beginsel van transtaligheid onderskryf en word ook erken dat die insluiting van Afrikaans vir die US deure in die internasionale akademiese wêreld oopmaak, met verwysing na Nederland en België. “Oor die geheel beskou is dit egter maar kleiner kosmetiese regstellings op die weg na verengelsing.”

Volgens Bailey geskied hierdie stand van sake ten koste van die studente se ontwikkeling en die bevolking wat hulle uiteindelik moet bedien se behoeftes. “Afrikaanssprekendes wat in die verlede aan enkeltalige Afrikaanse instellings in hulle moedertaal studeer het, beklee die mees senior posisies in verskeie sektore reg oor die wêreld. Moedertaalonderrig bevorder juis meertaligheid, verdraagsaamheid en lojaliteit aan die plaaslike gemeenskap, soos studies bewys het. Ongelukkig wil alle universiteite soveel studente as moontlik lok, en om dit moontlik te maak, moet hulle van moedertaalonderrig afwyk en Engels insluit. So word Engelstalige studente en gemeenskappe bevoordeel, ten koste van die meer as 90% Suid-Afrikaners wat nie Engels as eerste taal praat nie.

“Solank tale van kleiner gemeenskappe met Engels moet kompeteer, gaan die tale ’n ontwikkelingstryd beleef en die sprekers daarvan gevolge soos die vroeë staking van studies, laer geletterdheidvlakke, ’n gebrek aan redenasievermoë, minderwaardigheidsgevoelens, hoër werkloosheid en groter potensiaal vir maatskaplike onrus beleef. Universiteite doen egter nie die moeite om hierdie verskynsels, wat al dekades lank deeglik gedokumenteer is, in ag te neem wanneer taalbeleide opgestel word nie. Om dié rede is Suid-Afrikaanse gemeenskappe se vernaamste hoop op langtermynsukses en welvaart privaat instellings wat wel moedertaalonderrig aanbied,” sê Bailey.

AfriForum Jeug het intussen gister, op Afrikaanse Taaldag, in ’n skrywe aan prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, kommentaar gelewer oor die voorgestelde tweede weergawe van die US-taalbeleid.

Die studenteorganisasie eis onder andere dat Afrikaans en Engels albei ten volle as voorgraadse onderrigtaal gebruik word. Praktiese oplossings om hierdie model stabiel te bestuur word ook gegee.

“Die beleid is op so ʼn manier opgestel dat indien die US slegs twee vakke in Afrikaans aanbied, die US steeds volgens sy eie reëls hulself as meertalig kan beskryf,” sê Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug. “Daar is geen praktiese oplossings, doelwitte of mikpunte in die US se taalbeleid nie, maar dit dien slegs as lippetaal vir diegene wat nie die dokument self lees nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

casper ·

Die derde grootse taal in SA het GEEN kans teen die rassiste nie !!!!

VaalDonkie ·

Afrikaans is groter as Engels. Hy word net minder in akademia en besigheid gepraat.

Buck ·

Ek verstaan dat meeste handboeke in engels is. As jy internationaal wil kan gaan werk is dit goed as jy jou vakgebied in engels bemeester het. Tog Afrikaans is my Taal. Niemand kan my verbied om dit te praat, lees en te leef nie. Ek is trots Afrikaans

Piet Snot ·

Buck, hoeveel mense gaan werk in die buiteland? Dis irrelevant.
In iedergeval, ek het my grade 100% in Afrikaans gekry, en ek woon & werk reeds 10 jaar in die buiteland. Ek gebruik Engels, Frans & Arabies sonder probleem.
Ek het vir seker nie ‘n Engelse opvoeding daarvoor nodig gehad nie.

VaalDonkie ·

Mens leer baie vinnig die Engelse terme. Dis nie ‘n probleem nie. En ek het Ingels op die TV geleer. Dis ook nie ‘n probleem nie.

Anoniem ·

Wys jou net waar die probleem lê. Die wat ongeletter is, probeer kommunisme afdwing op almal.
Engels is ‘n taal wat van buite Suid Afrika ingekom het. Almal probeer Engels praat om ‘n indruk te probeer maak, maar in werklikheid praat en verstaan hul Afrikaans beter.

Nici ·

Wat vir my hartseer is is dat dit alreeds sowat twintig jaar gelede duidelik was waarheen tersiere instellings op pad was en al daai mense wat aanhou geld skenk aan US kon dit in ‘n fonds gegooi het en teen nou kon daar al Afrikaans kampusse in die Kaap en elders gewees het. Maar in plaas van te aanvaar dat daar ook ‘n plan B moet wees (Akademia te min en te laat) want duidelik kan plan A misluk, is daar nie genoeg oordentlike alternatiewe nie en duisende jongmense is nie behoorlik opgelei nie agv ‘n gebrek aan meer studiegeleenthede. Hulle kan dan nou aanhou om die dooie perd skop maar my voorstel is om in klein, mooi, goedkoper dorpies historiese geboue op te koop en oor te begin, onafhanklik, Christelik en in Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.