US-konseptaalbeleid is ‘irrasioneel en ʼn poging tot oëverblindery’

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

In reaksie op meedoënlose druk deur die Demokratiese Alliansie (DA) vir ʼn nuwe taalbedeling wat gelyke status aan Afrikaans en Engels bied, probeer die Universiteit Stellenbosch (US) nou met sy tweede konseptaalbeleid om Afrikaanse studente, ouers en die breër Afrikaanse gemeenskap deur middel van oëverblindery om die bos te lei.

Só sê dr. Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch.

“In plaas daarvan om die eise van die DA en die Afrikaanse gemeenskap ernstig op te neem deur praktiese stappe te doen om aan Afrikaans ʼn gelyke plek in klaskamers en koshuise te gee, het die US bloot kosmetiese veranderings aan die voorgestelde beleid aangebring.”

Maroela Media het vroeër berig belanghebbendes kan nou op die tweede konsep van die Universiteit Stellenbosch (US) se hersiene taalbeleid (2016) kommentaar lewer. Partye het tot 14 Augustus om kommentaar te lewer.

“In reaksie op die DA se veldtog vir gelykheid erken die beleid byvoorbeeld nou dat Afrikaans ‘ʼn internasionaal gerekende taal is wat oor verskeie dissiplines heen ’n aansienlike akademiese repertoire ontwikkel het’ en verbind dit die US skynbaar tot ‘die voortgesette gebruik van Afrikaans as ʼn wetenskaplike taal deur die hele Universiteit’. Ongelukkig vind hierdie mooi woorde geensins uiting in die beleid se praktiese maatreëls nie.”

Schreiber sê die praktiese kern van die beleid – soos vervat in paragraaf 7.1 – is presies dieselfde as die mislukte 2016-beleid waaronder studente selfs verbied is om Afrikaans in hul slaapkamers of op parkiebanke te praat. “Dit is dus duidelik dat Afrikaans onder die voorgestelde beleid steeds nie ʼn gelyke plek naas Engels aan die US sal geniet nie. Afrikaanse parallelmediumklasse word steeds nie geprioritiseer nie, Afrikaanse studente sal steeds slegs geregtig wees op ‘opsommings’ tydens andersins eentalige Engelse lesings, en die US sal op diskriminerende wyse steeds nie tolkdienste in dieselfde mate aan Afrikaanse as aan Engelse studente verskaf nie.”

Hy sê weens die US se keuse vir oëverblindery eerder as oplossings het die DA nou begin om voor te berei vir die volgende fase van ons versetveldtog, wat moontlike regsaksie sal insluit.

“Ons glo dat die US se desperate poging om die Afrikaanse gemeenskap met woorde eerder as dade te paai daartoe gelei het dat die tweede konseptaalbeleid geheel en al irrasioneel en teenstrydig is. Die beleid se praktiese maatreëls – wat Afrikaans aanhoudend aftakel – strook eenvoudig nie met die beleid se eie ondernemings vir ‘die voortgesette gebruik van Afrikaans as ʼn wetenskaplike taal deur die hele Universiteit’ en ‘om individuele en institusionele meertaligheid as ’n belangrike kenmerk van die US te bevorder’ nie.”

Die US-bestuur bevind hulself weens hul eie oneerlike toedoen nou in ʼn hoek, voeg Schreiber by. “Hulle het een laaste geleentheid om die situasie op te los deur in die derde weergawe van die beleid daad by die woord te voeg deur hul nuutgevonde retoriese verbintenis tot Afrikaans op te volg met praktiese stappe om aan Afrikaans ʼn gelyke plek naas Engels te gee in alle aspekte van die universiteitslewe. Die Afrikaanse gemeenskap verdien niks minder as gelykheid nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Dis mailik. As Wim en sy mede veraaiers nie Afrikaans op die kampus wil hê nie…dan kan my kids elders in Engels Universiteit beleef. Dan betaal ons bloot steeds in Afrikaans?

Soveel van blatante agteraf geheul het ek lanklaas ervaar.

Samuel ·

Ek stem met jou saam, Johann. Afrikaans sal nooit weer met mense soos Wim sy ereplek inneem nie. Hartseer dag. Sal nooit kon droom dat die US ons mense so sal verraai nie.

Anton ·

Nog ‘n trotse Afrikaanse instelling daar mee heen. Ons bou dan maar weer nuwes

JohanR ·

Praat met joe geld! Geen geld van nerens tot dat die beluid gelyk is. Alle instansies hou van daai 000000’s in die bank.

KB ·

Geen wonder ons praat van die Universiteit van Skelmbos nie…

Blikkies ·

Wim laat my baie dink aan ‘n man wat op die ‘Pay roll’ is van die Sosialiste, hy verraai openlik en kyk net ander pad….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.