US-konseptaalbeleid verder gekap

Die Universiteit Stellenbosh. (Argieffoto: US)

Die Universiteit Stellenbosch (US) se tweede konsepweergawe van sy taalbeleid is uit verskeie oorde opnuut gekap.

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) sê daar is grondliggende leemtes in die beleid en dit is in wese “rigtingloos”. Dít, meen kenners, skep juis ruimte vir die ondermyning van Afrikaans.

Leemtes in beleid

Die organisasie sê die US se hersiene taalbeleid spring vanaf ʼn algemeen uitstekende oorhoofse doel en beginsels na maatreëls in fyn besonderhede. Die ATR sê egter spesifieke en meetbare doelwitte en ʼn duidelike formulering van die uitsette wat nagestreef word, ontbreek.

“Daarsonder is die beleid in wese rigtingloos. Die afwesigheid van doelwitte en meetbare uitsette is ʼn kritieke tekortkoming wat die beplanning en evaluering van inwerkingstelling belemmer. Dit skep ook ruimte vir onuitgesproke en verskuiwende doelwitte en ondermyn daarmee die beleid se aansienlike potensiaal vir meertaligheid en Afrikaans.”

Die ATR sê hy het vantevore soortgelyke kommentaar gelewer, skynbaar sonder om daarmee by die US aanklank te vind.

“Dit is jammer, want die afwesigheid van spesifieke en meetbare doelwitte en uitkomste is die wortel van wantroue teenoor die universiteit en sy hantering van taal. Daardeur word rasionele gesprek ook ondermyn.

“Die Taalraad bly nietemin verbind tot gesprek met die US oor die inwerkingstelling van die taalbeleid en hoop om daarmee opbouend by te dra tot meertaligheid aan die US. ʼn Sterk vorm van meertaligheid is moontlik aan die US indien die politieke en bestuurswil daarvoor bestaan.”

Die ATR sê in sy kommentaar op die US se tweede konsep van sy hersiene taalbeleid die universiteit se volharding met beperkinge op die gebruik van die inheemse tale, Afrikaans ingesluit, op ʼn nagraadse vlak, veral in die lig van voorbeelde wat deur ander Suid-Afrikaanse universiteite gestel is, verbaas hom steeds.

“Die intellektualisering van dié tale en die handhawing daarvan vind immers hier eerder as op voorgraadse vlak plaas. ʼn Pragmatiese plan kan tog sekerlik hier gemaak word,” sê die ATR.

Die raad sê hy bly verbind tot verdere gesprek met die US oor die inwerkingstelling van die beleid en hoop om “sodoende die inkomste vir veeltaligheid, Afrikaans en isiXhosa aan die US te verbeter”.

Wes-Kaapse demografie nie in ag geneem

Die Afrikanerbond (AB) sê die US is reeds etlike jare lank gemoeid met die omskrywing en aanvaarding van ʼn taalbeleid wat onderrig betref.

“In dié tydperk het die bestuur van die US, waarskynlik onder politieke druk maar ook vir politieke korrektheid, die afskaling van Afrikaans verdoesel onder die dekmantel van allerlei modelle en opsies wat aangebied is,” sê Jan Bosman, hoofsekretaris van die AB.

“Die praktyk het egter bewys dat Afrikaans se status as akademiese en wetenskapstaal aan die US erg verskraal het. Ondanks talle versekerings wat gegee is, is die US nou oorwegend Engels en moet Afrikaans stoei om ʼn plek te vind. Dit skep gevolglik onsekerheid en ook onrustigheid by studente en ouers en veral ook alumni, aangesien die verwarring toelaat dat die praktyk die taalbeleid vorm en vestig, en nie die mooiklinkende raadsaalteorie van beleid nie.”

Bosman waarsku dat die geskiedenis die universiteit nie gunstig sal beoordeel vir die “versaking van sy morele verpligting teenoor Afrikaners op nasionale vlak, maar veral op provinsiale vlak nie”.

Bosman sê die Wes-Kaap se demografie word sedert die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch nie in ag geneem nie: Altesame 49,6% van die Wes-Kaap se inwoners is Afrikaans, teenoor 24,7% Xhosa en 20,2% Engels, sê hy.

“Politiek korrekte argumente stel dit telkens dat Afrikaans ʼn uitsluitende taal is. Deur Afrikaans kan die poorte van Suid-Afrika en Afrika egter ontsluit word en dit is ʼn gulde geleentheid wat stadig maar seker uit die bestuur van die Universiteit Stellenbosch se hande gly.”

Bosman sê dit strek die US nie tot eer dat daar nie met kreatiwiteit en respek vir die Wes-Kaap en sy rol in Afrikaans opgetree is nie.

‘Verdelend, oneerlik’

Solidariteit-Jeug sê op sy beurt die “ideologiese grondslag” van die regering word gebruik om ʼn wanindruk te skep oor die definisie van inheemse tale, wat in werklikheid die bestaansreg van Afrikaans ontken. Die organisasie meen ook dat die universiteit se “benadering tot die implikasie van sy taalbeleid, verbloem as inklusiwiteit, in werklikheid ʼn bedekte agenda is wat gevolg word om Afrikaans as onderrigtaal af te skaal”.

Paul Maritz, bestuurder van Solidariteit Jeug, sê die US gee voor dat Afrikaans as onderrigtaal sal bly voortbestaan terwyl hy reeds in sy beleid die bewoording tot so ʼn mate aangepas het dat hy in werklikheid enige verskoning kan gebruik om dit nie in werking te stel nie.

“Ons meen dat die US veel eerder die regering tevrede wil stel deur die aanneem van ANC-ideologieë wat sekere tale ontken, as wat hy na die behoefte in sy gemeenskap en veral onder sy studente kyk,” sê Maritz.

Maritz meen dat ʼn “geselekteerde keuse van inheemse tale deur die regering ondermyn word” wat dus die sprekers van daardie tale die reg ontneem om in die taal van hul keuse onderrig te kan ontvang.

Hy sê die US ondersteun die ideologie ten koste van sy studente, en meen dat die raamwerk verdelend en oneerlik is.

“Indien die taalbeleid van die US in werking gestel sou word, sal dit katastrofies wees, nie net vir Afrikaans as taal nie, maar vir elke Afrikaanse student. Dit impliseer die skending van hul reg om in hul moedertaal onderrig te kan ontvang. Solidariteit Jeug sal nie toekyk hoe die US met sy ANC-ideologie verder teen studente diskrimineer nie,” sê Maritz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
marius

Hou op om teen te wind te blaas . Vat die Afrikaner geld weg dat die plek kan verval in hool status soos die res van die land . Punt

Mariette

Wow Spel en die groot taalfees is jaarliks by Stellenbosch gehou en ek was onder die indruk dat die universiteit Afrikaans ondersteun en bevorder. Hierdie taalbeleid van US het ongelukkig die teendeel bewys. Ek dink baie voornemende studente is ontnugter en wil nie meer daar studeer nie.

Pieter

Stem saam vat hulle geld weg by my sal hulle nie n weer n sent kry nie.

Alida

Ek skaam my vir my alma mater. Soveel studente uit die Noordkaapse platteland en Karoo wat regtig nie goed Engels kan praat nie, maar wat altyd geweet het Maties is die plek vir hulle, sal nou uitgesluit word van tersiêre opleiding. Tragies.

Frederik C

Kan Solidariteit nie ‘n Akademia in die Wes Kaap oorweeg nie ??? US se grade word in min lande oorsee erken.