US-konvokasie: Stem vóór Dinsdag

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Lede van die konvokasie van die Universiteit Stellenbosch (US) het nog tyd tot net voor Maandag middernag om vir drie lede van die uitvoerende komitee (UK) van die konvokasie te stem. Die drie vakatures is vir die president, sekretaris en ’n gewone lid van die uitvoerende komitee.

Die US sê in ʼn verklaring die doel van die konvokasie is om die welsyn van die universiteit te bevorder deur ’n wedersyds voordelige verhouding tussen die instelling en die lede van die konvokasie te handhaaf.

Almal wat kwalifikasies op gradeplegtighede van die US verwerf het, is lede van die konvokasie. Die konvokasie sluit verder in die rektor, viserektore, uitvoerende bedryfshoof en alle voltydse akademiese personeel. Voltydse akademiese personeel van die US bly ook ná hul aftrede lede van die US-konvokasie.

Vir die presidentsvakature is twee benoemings ontvang; vier benoemings vir die vakante posisie van sekretaris; en ses benoemings vir die posisie van gewone lid van die uitvoerende komitee. Die ampstermyn vir lede van die uitvoerende komitee is drie jaar. Kandidate is weer verkiesbaar, maar nie vir meer as drie opeenvolgende termyne nie.

Die US sê hy het ook ʼn klagte ontvang dat drie kandidate se visiestellings die perk van 50 woorde met tussen drie en 14 woorde oorskry het, saam met die aandrang dat hulle gediskwalifiseer behoort te word.

“Die US het teen diskwalifikasie besluit aangesien nie enige van die kandidate hierdeur onregmatig bevoordeel word nie. Verwysings na ʼn vorige kandidaat wat gediskwalifiseer is, was vir die verkiesing van raadslede en nie vir die uitvoerende komitee van die konvokasie nie. Sy benoeming is ongeldig verklaar omdat een van sy sekondante nie ’n US-alumnus was nie en nié omdat hy die aantal toegelate woorde oorskry het nie.

“Die US het ook ’n klagte ontvang oor e-posse wat die ondersteuning van bepaalde kandidate aanmoedig. Die klagte hou verband met die oënskynlike beskikbaarstelling van die US se verspreidingslyste. Dit is egter nie die US se beleid om enige van sy studente-, personeel- of alumni-databasisse beskikbaar te stel aan individue of organisasies nie, tensy daar toestemming is of ander gronde bestaan vir beskikbaarstelling.”

Die verkiesing kom Maandag om 23:59 tot ʼn einde en die suksesvolle kandidate sal by die virtuele konvokasievergadering op 9 Desember aangekondig word. Die jaarlikse konvokasie-vergadering vind vir die eerste keer aanlyn plaas, wat alumni van regoor die wêreld die geleentheid bied om in te skakel en deel te neem aan die vergadering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie J ·

Hierdie engelstalige en vorige trots Afrikaanse instelling is ook in sy kanon in verpolitiseer. Bid jou aan, n person wat vir so n belangrike pos aansoek doen is te moeg om seker te maak dat sy aantal woorde nie die limiet oorskry nie. Wat gaan hy/sy in die toekoms ‘oorsien’?

Andrew ·

Geheime, geheime, later gaan hulle mooi woordtjies gee vir die diening aan die transformasie gode. As jy n Christen afrikaans sprekende is moet daai plek nie eers meer in jou woordeskat wees nie.

Coenraad ·

Ek het so ‘n e-pos gekry en wil graag daaraan uitvoering gee, maar die aanlynstelsel wil nie die kombinasie van my ID en studentenommer aanvaar nie. Het seker ‘n vermoede ek gaan “verkeerd” stem!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.