US loods nuwe aanlyn leerplatform

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn aanlyn leer- en onderrigplatform bekendgestel wat spesifiek daarop gemik is om die onderwysgaping van histories‑benadeelde kinders en opvoeders in die land te oorbrug.

Die nuwe platform, genaamd SU Advantage, fokus op die belangrikste onderwerpe wat hoërskoolleerders moet verstaan om hul begrip van lesse wat in die klas aangebied word, te verbeter.

Prof. Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel vir sosiale geregtigheid aan die US, sê die platform is daarop gemik om sosiale geregtigheid te bevorder deur toegang tot opvoedkundige inligting en kennis aan histories‑benadeelde kinders te vergemaklik.

“Baie leerders kry nou toegang tot onderwys en SU Advantage is een van verskeie boustene om die ekonomiese onderwysongelykhede uit die weg te ruim,” sê sy.

Die platform is geskik vir leerders in grade 10, 11 en 12, maar moet egter teen ʼn bedrag van R399 per maand aangekoop word.

Martin Viljoen, woordvoerder van die universiteit, sê die US se sentrum vir pedagogie (SUNCEP) is tans besig om donateurs aan boord te kry sodat die platform makliker aan behoeftige leerders beskikbaar gestel kan word.

“SU Advantage word gratis aan tien leerders beskikbaar gemaak vir elke duisend betaalde leerders wat die platform gebruik,” sê Viljoen.

“SUNCEP het juis probeer om die maandelikse bedrag so goedkoop as moontlik te hou sodat meer leerders toegang tot bykomende hulpbronne vir hul studies kan kry. Dit is beslis ook meer bekostigbaar as die tradisionele manier van bykomende skoolhulp aanbied, naamlik deur van individuele tutors vir elke vak gebruik te maak.”

Die platform bevat inhoud van minstens 11 skoolvakke wat in Engels aangebied word. Die inhoud bestaan ook uit videolesse, onderwerpgebaseerde assesserings en vraagsessies, gekonsolideerde werkboeke, memo-gebaseerde rekonsiliasie en omvattende regstreekse lesse.

ʼn Videoreeks sal ook binnekort vrygestel word waarin verskeie onderwysers eksamenvoorbereidingsklasse aanbied.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, het tydens die bekendstelling van die platform gesê dat die platform aan leerders beskikbaar gestel is in die lig van huidige uitdagings wat die land se onderwysstelsel beleef en die ekonomiese impak wat Covid-19 op baie gesinne gehad het.

“Hierdie inisiatief beoog om ʼn positiewe impak in die gemeenskappe te hê,” het hy gesê.

Maar wat van dié wat nie toegang tot internet het nie?

Viljoen sê daar is wel planne om ʼn aflyn weergawe van SU Advantage beskikbaar te maak.

Intussen, met behulp van donateurs, word behoeftige leerders van tablette en data voorsien om die platform te gebruik.

“Ons bied dus nie net toegang tot die platform nie, maar ook die gereedskap wat hulle nodig het om SU Advantage te gebruik,” sê Viljoen.

Dr. Benedict Khoboli, direkteur van SUNCEP, sê die realiteit is dat die hulpbronne vir doeltreffende onderwys beperk is en dat klaskamers eenvoudig te vol is om aan die behoeftes van al die leerders te voldoen.

“Ons doelwit is nie om tradisionele hoofstroomonderwys te vervang nie; SU Advantage is dus nie ʼn aanlyn skool nie. Dit het eerder ten doel om dít waaraan leerders in klaskamers blootgestel word, aan te vul en te versterk.”

Die US hoop dat die platform nie net leerders sal help om beter te presteer nie, maar hulle ook gereed sal maak vir hul toekoms. ʼn Reeks loopbaanvoorligtingsinstrumente wat leerders help met ʼn algemene oorsig van wat presies van hulle vereis word om hul drome na te jaag, is op SU Advantage beskikbaar.

Dié instrumente sluit aanlyn aanlegtoetse in, wat naatloos met die US se beskikbare kursusse geïntegreer is sodat leerders ʼn duidelike idee kan kry van die studievelde wat die beste by hul persoonlikheid en skoolprestasie pas.

“Ons het dit ons mandaat gemaak om tersiêre opvoeding ʼn realiteit vir meer Suid-Afrikaanse jeugdiges te maak,” sê Khoboli.

“Deur grondslagsteun aan hoërskoolleerders in die senior fases van hul onderrigreis te bied, kan SU Advantage hulle help om by tersiêre onderwysinstellings aanvaar te word.”

Ouers, leerders en onderwysers kan SU Advantage aanlyn besoek om te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andries ·

Uitstekend! Hulle moet sommer die leerplan gebruik om ook leerlinge se Afrikaans vroegtydig op standaard te kry sodat Stellenbosch weer kan word wat dit veronderstel is om te wees: afrikaanstalig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.