US ontvang kosbare joernalistieke argief

Die hele reeks van 250 uitgawes van die Suid-Afrikaanse ondersoekende tydskrif, Noseweek, is vroeër vanjaar deur die Open Media-trust aan die Universiteit Stellenbosch (US) se biblioteek- en inligtingsdiens geskenk. Die skenking sluit eksemplare van die tydskrif asook ʼn volledige digitale argief in.

Noseweek, wat deur Chaucher Publications uitgegee is, se laaste gedrukte uitgawe het in Maart vanjaar verskyn. Dié publikasie is sedert Junie 1993 maandeliks uitgegee met Martin Welz as redakteur.

Die tydskrif se voorganger het as Nose bekendgestaan en is in 1983 deur Martin Welz op die been gebring. Welz het die tydskrif begin met prysgeld wat hy as parlementêre korrespondent van die Sunday Express ontvang het vir ʼn onthulling oor “die korrupsie van dokters en openbare gesondheidsdienste deur ʼn farmaseutiese groep”.

Nose is tot 1987 uit Welz se motorhuis uitgegee en dit is belangrik dat sommige van hierdie vroeë getikte en gekramde uitgawes deel uitmaak van die fisieke versameling wat aan die US se biblioteek geskenk is.

Noseweek ʼn ryk bron van navorsing

Die Noseweek-versameling is ongetwyfeld ʼn ryk bron van navorsing oor die hedendaagse Suid-Afrikaanse geskiedenis, politiek, regering, samelewing, sakegebeure en joernalistiek.

Volgens prof. Lizette Rabe, voorsitter van die Departement Joernalistiek aan die US, is dit “te danke aan die joernalistiek, veral ondersoekende joernalistiek” dat Suid-Afrika se brose demokrasie beskerm is.

Noseweek sal ryk materiaal vir verdere navorsing bied, danksy die dapper werk van Martin Welz oor die verloop van soveel dekades,” sê Rabe. Welz se navorsing bevat inligting vanaf die donker dae van apartheid en die ongelooflike verskeidenheid korrupsie, bedrog en staatskaping wat sedert die koms van demokrasie hoogty vier.

Die versameling verryk ook die biblioteek se manuskripversamelings wat die afgelope paar jaar uitgebrei is. Dit is danksy die byvoeging van meer eietydse versamelings soos die Frederik van Zyl Slabbert-, IDASA- en die digitale Vrye Weekblad-versamelings.

Die US het onlangs ook die Suid-Afrikaanse Skuldkrisis 1985/86-versameling ontvang wat op 7 Mei vanjaar bekendgestel is. Hierdie belangrike versameling is ʼn betekenisvolle stuk in die legkaart ten opsigte van die pad na demokrasie in Suid-Afrika en die einde van apartheid.

Volgens radiojoernalis John Maytham het Noseweek “talle groot stories vir die eerste keer aan die lig gebring, wat daarna sonder erkenning aan Noseweek in die hoofstroommedia verskyn het. Dit het dus ʼn waardevolle rol in ons media-ekostelsel [gespeel]”. Hy beskryf dit ook as ʼn “idiosinkraties” belangrike publikasie wat nie “gekonformeer het nie”.

Prof. Janis van der Westhuizen, voorsitter van die Departement Politieke Wetenskap aan die US, beskryf die belangrikheid van die hulpbron soos volg: “ʼn Lewendige en aktiewe burgerlike samelewing is die hart van ʼn demokrasie, met ʼn vrye en onafhanklike mediasektor wat ʼn sleutelrol speel om regeringsleiers verantwoordbaar aan die land se mense te hou.

“As ʼn klein publikasie wat nie gehuiwer het om sy stem te laat hoor nie, het Noseweek ʼn uiters belangrike rol daarin gespeel om korrupsie en die misbruik van mag gedurende Suid-Afrika se onlangse verlede bloot te stel,” sê Van der Westhuizen.

Van der Westhuizen sê verder dat hoewel ʼn mens dus hartseer is oor die sluiting van klein, onafhanklike mediahuise soos Noseweek, is dit as sodanig bemoedigend om te weet dat die volledige Noseweek-versameling nou deur die SUNDigital-versameling tot navorsers en toekomstige geslagte se beskikking sal wees.

Die US se biblioteek- en inligtingsdiens voel geëerd om hierdie joernalistieke skat vryelik aan navorsers en die breër publiek beskikbaar te stel, deur die digitale versameling op sy webwerf. Klik hier om toegang tot die versameling te verkry. Al 250 uitgawes is hier in PDF-formaat beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.