US oortree wet deur Paia-aansoek te weier – hof

stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Donderdag bevind dat die bestuur van die Universiteit Stellenbosch (US) die wet oortree het deur te weier om inligting rakende ʼn ondersoek na die rektor van die universiteit aan die DA bekend te maak.

Regter Robert Henney het bevind die US se weiering van ʼn aansoek onder die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) was “onwettig”. Die universiteit ontken egter dat hy enige wette oortee het.

Die DA het die US in Julie hof toe gesleep oor sy weiering om die bewyse wat gebruik is om die rektor, prof. Wim de Villiers, onskuldig te bevind openbaar te maak. Na bewering het De Villiers op onvanpaste wyse probeer om oudregter Edwin Cameron te oortuig om die nuwe kanselier te word terwyl Cameron die hofsaak teen die US se taalbeleid om Afrikaans prakties af te skaf, aangehoor het. Die US het nie die hofaansoek teengestaan nie.

Donderdag se hofbevel het verder gelas dat die US binne vyf dae gehoor moet gee aan die Paia-versoek deur alle bewyse oor De Villiers se beweerde onbehoorlike kontak met Cameron tydens die hofsaak oor die afskaffing van Afrikaans as ʼn gelyke onderrigtaal naas Engels, aan die DA se kiesafdelingshoof op Stellenbosch en US-alumnus, dr. Leon Schreiber, te oorhandig.

Prof. Wim de Villiers. Foto: US

Die universiteit moet ook die DA se koste vir die hofaansoek betaal.

“Vandag se uitspraak is ʼn verdere oorwinning in die DA se soeke na geregtigheid rakende die gebeure tydens die hofsaak oor die afskaffing van Afrikaans as ʼn primêre en gelyke onderrigtaal met Engels aan die US,” het Schreiber na afloop van die hofsaak gesê. “Die DA put egter geen genot daaruit om te sien hoe die US dieper in ʼn moeras van beginsellose wanbestuur verval nie. Juis omdat die DA sulke hoë agting het vir wat die US sê hy streef om te wees – ʼn baken van meertalige uitnemendheid – bly ons vasbeslote om uit te vind presies wat gebeur het tydens ‘n hofsaak wat uiteindelik duisende Afrikaanse studente van hul reg op moedertaalonderrig ontneem het, en om enige onregte reg te stel.”

In reaksie hierop het die universiteit in ‘n verklaring gesê hy het in 2019 ’n “nouliks-geloofwaardige” klagte van Schreiber teen die US se rektor en visekanselier ontvang, wat verband hou met die verkiesing van die afgetrede regter Cameron as kanselier van die instelling. “Die US het nietemin, en in die belang van deursigtigheid, ’n onafhanklike regter aangestel om die klagte te ondersoek. Afgetrede regter Burton Fourie se bevinding het aangetoon dat Schreiber se klagte sonder meriete was. Die US-raad het die regter se verslag aanvaar en ook ter wille van deursigtigheid die volledige verslag openbaar gemaak.”

Luidens die verklaring is die universiteit oortuig daarvan dat die onderliggende dokumente en inligting waarvoor Schreiber vra, regter Fourie se bevinding sal bevestig. “Die Universiteit het Schreiber se versoek destyds geweier aangesien die instelling van mening was dat die vrystelling van die rekords geweier kon word in terme van artikel 44(1)(a) van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting. Die hofbevel wat vandag toegestaan is, bepaal egter dat die weiering nie ooreenkomstig die bepalings van die Wet was nie.”

Schreiber sê alle studente wie se taalregte deur die US in die proses geminag is, moet antwoorde by die US-bestuur eis oor waarom De Villiers so min agting vir die regte van Afrikaanse studente het dat hy gemaklik daarmee was om geheime gesprekke met Cameron te voer, terwyl die lot van moedertaalonderrig in die weegskaal gehang het.

“Uiteindelik sal De Villiers verantwoordbaar staan teenoor die Maties-gemeenskap, wat sal besluit of hulle gemaklik is met sulke optrede.”

Schreiber sê die DA sien nou uit daarna om die bewyse teen De Villiers noukeurig te bestudeer. “Na gelang van wat dit oplewer sal ons verdere stappe doen om te verseker dat die reg op moedertaalonderrig nie verder aan die US vertrap word deur kru magspeletjies nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Dit lyk my al hoe meer universiteite dink hulle is bo die wet verhewe.
Dink maar aan UNISA wat taal beleid verander en rasistiese, seksistiese lekotre beskerm.

Konsentreer eerder daaroor om gehalte onderig binne die riglyne van die wet te verseker. Dis my belasting geld wat julle daar hou.

Adam Adriaan ·

“n Boere verneuker bly darem ‘n skande vir die sameleweing

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.