US Raad aanvaar meertaligheid

Universiteit van Stellenbosch Foto: cair.za.net

Universiteit van Stellenbosch Foto: cair.za.net

Meertaligheid en die verhoging van die lesingsaanbod in Afrikaans en Engels is die kern van die Taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US) wat die Raad met ʼn oorweldigende meerderheid by ʼn buitengewone vergadering aanvaar het.

Die Raad het hom Saterdag tydens die vergadering ook verbind om addisionele fondse beskikbaar te stel, sodat minstens 75% van al die US se voorgraadse modules binne die volgende vyf jaar in Afrikaans en Engels aangebied kan word.

“Die US bly verbind tot die gebruik, beskerming en volgehoue bevordering van Afrikaans as akademiese taal,” het Martin Viljoen, senior mediaskakelpraktisyn, in ‘n verklaring gesê.

Die nuwe Taalbeleid gee gelyke status aan Afrikaans en Engels, maar deur die implementering van die nuwe Taalbeleid gaan die posisie van Afrikaans versterk word. In 2014 staan die modulekrediete vir Afrikaans op 63,9% nadat dit in 2013 net onder 62% gedraai het. Teen 2020 moet die modulekrediete vir die Afrikaanse aanbod op 75% staan. Die Engelse modulekrediete staan tans op 58,4% en net soos vir Afrikaans, is die teiken 75% teen 2020.

Volgens George Steyn, voorsitter van die Universiteitsraad, herroep die nuwe Taalbeleid ʼn vorige Raadsbesluit wat die minimum modulekrediete vir Afrikaans op 60% gestel het. “Ons beskou beide Afrikaans en meertaligheid as ʼn bate vir die Universiteit,” het Steyn gesê. “Die Afrikaanse aanbod word uitgebou maar sonder om nie-Afrikaanssprekers uit te sluit. Die wyse waarop die US meertaligheid vorentoe gaan bestuur, maak dit ʼn unieke onderskeidende eienskap omdat ons die konteks, die akademiese program en die student se behoeftes in ag neem. Die oogmerk is om optimale leer en onderrig vir alle Suid-Afrikaners aan die US moontlik te maak.”

Die Fakulteit Ingenieurswese bied reeds al hul modules se voorlesings in Afrikaans en Engels aan. Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe sal vanaf 2016 ook by 100% Afrikaans en 100% Engels wees.

Die Universiteit aanvaar ook die verantwoordelikheid om isiXhosa op oordeelkundige wyse en waar doenlik as akademiese taal en taal van sosiale omgang te bevorder. Daar is reeds verskeie inisiatiewe aan die US om isiXhosa te bevorder: as akademiese vakrigting in die Departement Afrikatale tot op PhD-vlak; kortkursusse vir basiese kommunikasievaardighede in Xhosa; loopbaanspesifieke kommunikasie soos in die Gesondheids-wetenskappe en Opvoedkunde en die vakterminolgiegidse wat die Taalsentrum ontwikkel het in onder meer maatskaplike werk, sosiologie, sielkunde, regsgeleerdheid en ekonomiese en bestuurswetenskappe. Die Taalsentrum het ook reeds drietalige sportterminologiegidse vir sokker en rugby ontwikkel.

Die US is verbind tot die bevordering van meertaligheid op beide institusionele en individuele vlakke. Dit erken taaldiversiteit en bevorder toeganklikheid vir personeel en student, en ontgin die inherente waarde van meertaligheid. Die aanwending van meertalige leer en onderrig word op pragmatiese wyse en met ʼn verskeidenheid aanmoedigingsmeganismes bewerkstellig.

Meertaligheid gaan ʼn belangrike rol speel in die uitvoering van die US se Institusionele Voorneme en Strategie (IVS), en baie spesifiek Visie 2030 – wat die US as inklusief, innoverend en toekomsgerig beskryf. Buiten die interne belyning met die IVS, stem die US se benadering tot taal ook ooreen met die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030, ʼn omvattende plan waarin duidelike uitsprake gemaak word oor die belangrikheid van meertaligheid, die voortgesette ontwikkeling van die land se tale en die noodsaak om mense se vaardigheid in meer as een taal te ontwikkel.

Agtergrond

Die Raad het in Junie 2014 versoek dat die Viserektor: Leer en Onderrig by die September raadsvergadering ʼn plan vir die US se taalaanbod voorlê. Die US se Taalbeleid bepaal ook dat die beleid elke drie jaar hersien moet word, het Viljoen verder gesê. Die US se vorige Taalbeleid is oorspronklik in 2002 aanvaar, en by die raadsvergadering in November 2011 herbevestig. In die Taalbeleid word ʼn hersiening elke drie jaar gespesifiseer. Die hersiening van die Taalbeleid het in September 2013 begin en die hersiende Taalbeleid is by Raadsvergadering op 29 September 2014 ter tafel gelê.

ʼn Konsep-taalbeleid en -plan is deur ʼn taakspan opgestel waarna deur voorleggings aan verskeie US-liggame gekonsulteer is, en personeel en student genooi is om insette te lewer. Alle terugvoer is in ag geneem.

Dié aangepaste dokumente is vir insette aan die Institusionele Forum (IF) en die Senaat voorgelê. Daarna het genoemde aangepaste dokumente met aanbevelings van die IF en Senaat op 29 September 2014 by die Raad gedien. Daar is op die vergadering besluit dat vanweë ʼn vol agenda die tyd vir bespreking te min was en dat raadslede genooi sal word om skriftelike insette te lewer wat by ʼn buitengewone raadsvergadering op 22 November bespreek sou word. Die buitengewone vergadering is geskeduleer omdat die agenda vir die laaste raadsvergadering van 2014 op 1 Desember, ook reeds baie vol met onder meer die voorlegging van die Institusionele Plan, die begroting vir 2015 en die aanstelling van die nuwe Rektor en Visekanselier.

Raadsbesluit

By die vergadering van 22 November 2014 het die Raad die Taalbeleid indringend bespreek en is insette gegee ten opsigte van die Taalplan. Die Raad het die voorgestelde Taalbeleid met ʼn oorweldigende meerderheid aanvaar en die Viserektor: Leer en Onderrig sal die bydraes ten opsigte van die Taalplan in ag neem wanneer dit gefinaliseer word.

Die Raad het ook die Universiteitsbestuur versoek om jaarliks verslag te doen oor die vordering met meertaligheid teenoor die gestelde teikens en ook aan te dui hoeveel modules onderskeidelik uit Afrikaans en uit Engels getolk word.

Die Viserektor: Leer en Onderrig, as eienaar van die Taalbeleid en –plan, sal nou toesien dat die beleid en plan in samewerking met al die fakulteite aan die  US geïmplementeer word. In steundiensomgewings word die Taalplan via die lynbestuurstrukture geïmplementeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hanno Visagie ·

Ek wil weer voorstel : Lees vir perspektief ook asb prof Christo Viljoen, president van die US-Konvokasie, se artikel op netwerk.com getitel “US: koeël is deur die (taal)kerk”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.