US Raad keur nuwe taalbeleid goed

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het Donderdag die voorgestelde nuwe Taalbeleid vir die instelling met ʼn oorweldigende meerderheid goedgekeur. Daarmee is die proses wat in Oktober 2020 begin het amptelik afgesluit. Die hersiening van 2021 maak deel uit van ’n hersieningsiklus van vyf jaar wat die beleid self voorskryf.

Die Senaat het op 26 November 2021 die finale konsep van die Taalbeleid (2021) met ’n oorweldigende meerderheid goedgekeur en by die Raad aanbeveel. Ingevolge die Wet op Hoër Onderwys sowel as die US Statuut is die Taalbeleid die enigste beleid wat die Raad met die instemming van die Senaat moet goedkeur. Ook die Institusionele Forum (IF) het twee weke vantevore die finale konsep aanvaar en by die Raad aanbeveel.

“Die hersiene Taalbeleid herbevestig dat die Universiteit Stellenbosch ’n nasionale bate in ’n diverse samelewing is,” het George Steyn, voorsitter van die Raad, gesê. “Sonder om uit die oog te verloor dat die US ook gemeenskappe oor die vasteland en die wêreld heen bedien, verbind ons onsself opnuut tot meertaligheid deur die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, naamlik Afrikaans, Engels en isiXhosa, te gebruik. Sodoende ontgin ons die intellektuele rykdom wat in ons taaldiversiteit opgesluit lê.”

Prof. Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, onder wie se portefeulje die Taalbeleid ressorteer, het die Raad se besluit verwelkom.

“Die US stel billike toegang en studentesukses hoog op prys, en daarvoor is taal van die allergrootste belang,” het hy gesê. “Ons hersiene Taalbeleid sal studentesukses ondersteun, want dit skep ’n bevorderlike onderrig- en leeromgewing – sowel binne as buite die klaskamer, in studentegemeenskappe en in sosiale ruimtes.”

Prof Ramjugernath het bygevoeg: “Ek is vas oortuig daarvan dat meertaligheid ons ook sterker sosiale kohesie op kampus kan help bou. In plaas daarvan om ons te verdeel, kan taal gebruik word om verhoudings te bou en onderlinge begrip te skep.

“Ons respekteer taalregte en glo dat ons studente meer keuses, beter toegang en ’n blinker toekoms het as gevolg van die benadering wat in ons Taalbeleid gevolg word.

“Wanneer ons van meertaligheid praat, gaan dit oor institusionele en individuele meertaligheid, maar ook oor meertaligheid as ’n manier om inklusiwiteit en ’n waardering vir die waarde van diversiteit te bevorder,” het Ramjugernath verduidelik. “Meertaligheid strek verder as die skep van ruimtes en strukture om verskillende tale in akademiese, administratiewe en sosiale omgewings te gebruik, of individue se bereidheid om verskillende tale aan te leer. Dit gaan ook oor ’n gesindheid, ’n ingesteldheid, wat ons graag by ons instelling wil kweek.”

Die DA het die US vroeër hof toe gesleep om hom te dwing om “sy eie taalbeleid toe te pas”. Die aansoek word saam met die studente-organisasie Studenteplein ingedien.

DA sowel as Studenteplein kla al geruime tyd dat die US nie sy eie taalbeleid toepas nie, deurdat studiemateriaal nie meer in Afrikaans beskikbaar gestel word nie en studente in sekere gevalle verbied word om Afrikaans in koshuise te praat.

Beleidsbepalings

Die beleid maak voorsiening vir die gebruik van Afrikaans, Engels en isiXhosa in leer en onderrig aan die US én in kommunikasie (sien hooftrekke hieronder). Dit beskryf ook die mate waarin elke taal in verskillende omstandighede gebruik behoort te word.

Afrikaans en Engels word as die US se primêre leer- en onderrigtale aangewys, maar transtaligheid in veelvuldige tale word aangemoedig om leer te ondersteun en te verryk. IsiXhosa as akademiese taal sal besondere aandag geniet met die doel om dit na gelang van studentebehoeftes geleidelik in verskeie dissiplines bekend te stel, waar dit redelikerwys doenlik is.

Noudat die Raad die hersiene US Taalbeleid goedgekeur het, sal dit met ingang van Januarie 2022 in werking tree.

Die volgende kerndokumente is onder meer op die US se toegewyde taalwebblad by www.sun.ac.za/taal te kry:

  • Taalbeleid (2021) (in Afrikaans, Engels en isiXhosa)
  • Konteksdokument vir die hersiening van die Taalbeleid (2016)
  • Hoofopinie oor die regsgeldigheid van die voorgestelde Taalbeleid 2021
  • Aanvullende opinie oor regsgeldigheid van finale konsepweergawe van Taalbeleid (2021)

Klik hier vir antwoorde op gereelde vrae oor taal aan die US, sowel as statistieke

Inligtingsgrafiek oor die Taalbeleid van 2021

Klik hier om die inligtingstuk in .pdf-formaat te sien.

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Shakespeare ·

Wie gaan die handboeke in Xhosa vertaal. Gannie gebeur nie.

Harley Davidson ·

Dit is makliker om te leer in jou eie taal en jou kennis te deel in n wêreld taal soos Engels.

Gerhard ·

Verskil effens van jou. In tegniese velde soos motorwerktuigkunde het dit ons langer gevat om agter te kom wat terme soos klos en knormoer beteken as om te leer wat hul doel is.

piet ·

Ek het die teenoorgestelde aanvaar, dis dikwels makliker om in Engels te leer, Tegniese vak-begrippe is oor ‘n baie langer tyd ontwikkel en vereenvoudig om dit makliker verstaanbaar te maak. Dis veral waar vir na-graadse studies volgens my ondervinding.

Zilla ·

Piet ek stem saam met jou. Skool en voorgraads Uni was Afrikaans, maar ek het besuit on nagraads (geesteswetenskappe en regte) in Engels te doen, want die terminologie in Afrikaans is net doodeenvouding te moeilik om sommer net so in Engels te vertaal.

piet ·

Een van die beste “tips” vir ouens wat nog eksamen skryf is om die Engelse en Afrikaanse vrae te vergelyk (as jy so gelukkig is om albei tale in een vraestel te kry). Ek het al Afrikaanse vrae gesien wat ek nie seker is wat word gevra en verwag word nie. Dan kyk ek na die ooreenstemmende vraag in Engels en dan is dit so duidelik soos daglig. En as jou studiemateriaal oorwegend in Engels is, is dit beslis makliker om ‘n vraestel in Engels te beantwoord.

Jaada ·

Volgens hulle reputasie gaan hulle dit nie prakties toepas nie!!!!

casper ·

Sal baie graag wil week presies hoeveel vakke dan nou in Xhosa aangebied word met Xhosa studie materiaal.
Enigiemand wat dalk weet ???

Gerhard ·

Moet net soveel wees as afrikaans. Dit moet mos regverdig wees.

007 ·

Hoekom so lank gevat om so maklike besluit te neem? En die handboeke is alles in Engels. Geen probleem.

christo ·

In dié Wes-Kaapse platteland is die hoof voertaal Afrikaans. Dit blyk dat die studente meer tuis sal voel by die Noordwes Universiteit ( die Puk ) as by die US .

Nici ·

Ja die meerderheid het geen universiteit in die Wes- Kaap en die minderheid het drie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.