US-raadsvoorsitter sterf ‘onverwags’

Ainsley Moos (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Die Universiteit Stellenbosch (US) het die skielike dood van Ainsley Moos, voorsitter van die universiteitsraad, Woensdag betreur en as ’n “geweldige skok” beskryf.

“Die universiteit het nie net ’n uiters knap raadsvoorsitter verloor nie, maar ook ’n besonder gewaardeerde en lojale vriend van die instelling,” het Wim de Villiers, US-rektor en visekanselier, gesê.

Die oorsaak van Moos (45) se dood Dinsdag is nie in dié stadium bekend nie.

“Dit is uiteraard ’n geweldige skok vir die universiteitsgemeenskap en dit kom, om die minste te sê, in ’n tyd wat die universiteit nie net swaar geleun het op sy bestuurskundigheid én sy bewese ervaring as kommunikasiespesialis nie, maar ook wat betref sy vaardighede as bestuurder van belanghebberverhoudinge in die korporatiewe wêreld.

“Op ’n persoonlike vlak was sy ondersteuning aan my inspirerend. Matieland het inderdaad ’n groot vriend verloor. In die besonder dink ons in hierdie hartseer tyd aan sy familie en geliefdes.”

Dr. Nicky Newton-King, ondervoorsitter van die raad, sê Moos was uiters passievol oor die rol wat die universiteit, sy studente en personeel in die land, maar ook op die internasionale verhoog moet speel, en dat hy hard gewerk het om hierdie visie te deel.

“Sy nederigheid en kalm leierskap was die raad tot groot voordeel soos was dit die afgelope jaar ’n reeks kritieke uitdagings hanteer het. Die universiteit was bevoorreg om Ainsley op hierdie kritieke tyd in sy geskiedenis onder sy leiers te kon reken.”

Moos was ’n lid van die uitvoerende span van die finansiëledienstemaatskappy African Rainbow Capital (ARC). Hy dien reeds sedert 2014 in die raad en was onder meer as voorsitter van die vergoedingskomitee, uitvoerende komitee en menslikehulpbronnekomitee. Hy is in 2018 as ondervoorsitter aangewys en het die voorsitterstoel op 3 Desember 2021 ingeneem.

Die DA het ook hul medelye met Moos se afsterwe uitgespreek.

“As ’n lid van die US-raad waarvan hy voorsitter was, het ek mnr. Moos altyd as welwillend, waardig en as ’n beginselvaste leier ervaar. Die DA deel ons medelye met sy familie en eer sy nalatenskap en diens aan die universiteit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.