US-skandaal: Regter Cameron nou by Regterlike Gedragskomitee verkla

stellenbosch

Universiteit Stellenbosch.

Die kanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), regter Edwin Cameron, se beweerde verbreking van die Grondwet, die regterlike gedragskode en die gemene reg moet op die strengste moontlike wyse gesensureer word.

Só is vandeesweek voor appèlregter Dumisane Zondi, ʼn lid van die Regterlike Gedragskomitee, aangevoer. Luidens ʼn verklaring van Dawie Beyers Prokureurs lei Zondi die amptelike ondersoek na Cameron se interaksie met die US-rektor, prof. Wim de Villiers, gedurende die Konstitusionele Hof se verhoor oor die US-taalbeleid.

Cameron het die uitspraak geskryf.

Die klagte by die Regterlike Dienskommissie (RDK) is aanhangig gemaak deur adv. Johan Bruwer. Bruwer was tydens die bewind van oudpres. Nelson Mandela en sy opvolger, Thabo Mbeki, die adjunk-hoofstaatsregsadviseur. Hy het ook met die destydse opstel van die Grondwet gehelp.

Beyers sê die klagtes spruit uit Cameron se optrede onderwyl die saak van Matie-studente en die beweging Gelyke Kanse (GK) oor die US-taalbeleid voor die Konstitusionele Hof hangende was.

Zondi moet vasstel of daar gronde vir die klagte is, of remediërende aksie ingestel moet word en of die klagte na ’n tribunaal verwys moet word.

Bruwer voer aan dat dit ʼn skending van ʼn eeue-oue beginsel is dat niemand ʼn regter in sy eie saak mag wees nie. Hy voer aan dit is wat Cameron as verkose kanselier was toe hy die uitspraak oor die taalbeleid geskryf het.

“As die universiteit se verkose nuwe kanselier het Cameron oplaas ook ten gunste van die universiteit beslis,” sê Beyers in die verklaring.

Prof. Wim de Villiers. (Foto: Twitter)

Bruwer gee in sy beëdigde verklaring ook ’n uiteensetting van geheime telefoongesprekke, e-posboodskappe en selfs ’n geheime ontmoeting tussen Cameron en De Villiers nadat Cameron vir die prestigeryke pos van kanselier benoem is, maar voordat hy ten gunste van die US beslis het. Dit het gebeur sonder dat die partye se regsverteenwoordigers daarvan bewus was, soos wat regtens vereis word.

Bruwer voer aan dat Cameron verplig was om die betrokke partye en sy mederegters hieroor in te lig, maar dit nie gedoen het nie. Hy sê ook die volgehoue geheime vergaderings het tot gevolg gehad dat Cameron van plan verander het en hom weer beskikbaar gestel om kanselier te word.

Cameron, wat sy eie kollegas op die regbank lank in die duister gehou het, het hulle eers op 29 Augustus 2019 van die rektor se toenadering in kennis gestel, maar steeds versuim om alle feite openbaar te maak. Op daardie stadium het hy reeds sy konsep-uitspraak – sonder twyfel ten gunste van die universiteit – onder sy kollegas gesirkuleer.

Bruwer voer voorts aan Cameron het drie weke voor die uitspraak gelewer is vir De Villiers in die geheim by die OR Tambo-lughawe ontmoet. Hy verwerp die bevinding dat dit net ʼn “sosiale kuiertjie” was en vra of Cameron – wie se verkiesing tot US-kanselier feitlik gewaarborg was – in die omstandighede téén die universiteit sou beslis.

“Op stuk van sake sou só ʼn bevinding ʼn enorme persoonlike vernedering vir die rektor en die raadsvoorsitter gewees het.”

Cameron is ʼn week later tot kanselier verkies.

“Cameron het in sy verweer volgehou dat hy korrek, in goeie trou en stipte noulettendheid opgetree het. Hy beweer dat Bruwer as ʼn front vir GK optree en dat dit ʼn poging is om die hofuitspraak – téén GK en ten gunste van die universiteit – ongedaan te maak.”

Regter Edwin Cameron en hoofregter Mogoeng Mogoeng. (Argieffoto: Itumeleng English/ANA)

Bruwer ontken dat hy as front vir GK optree, sê dat hy nog nooit ʼn ondersteuner van die organisasie was nie en dat hy ook nie ʼn oud-Matie is nie. Hy verwys na Cameron se bewerings as ʼn “samesweringsteorie” en kritiseer in ʼn beëdigde verklaring sy “omvangryke verdoeseling van die ware feite”.

“Nuwe inligting het sedertdien aan die lig gekom dat die US se registrateur, dr. Ronel Retief, voor die kanseliersverkiesing vir Cameron op “hoogs onbehoorlike wyse” ingelig het oor hoe rektor De Villiers en prof Marius de Waal steun vir hom werf, asook dat sy aangebied het om hom ingelig te hou en dat die US “ten diepste vereer” is dat hy hom vir die kanselierskap beskikbaar stel.

“ʼn Raps meer as twee weke daarna – op 10 Oktober 2019 – het Cameron as aangewese kanselier die uitspraak ten gunste van die US gelewer,” lui die verklaring.

“My besorgdheid is dat, as die ernstige verbreking van die Grondwet, die Regterlike Gedragskode en die gemene reg deur Cameron nie op die strengste moontlike wyse gesensureer word nie, dit sekerlik ʼn inwerking op die beeld, reputasie en integriteit van die regterlike gesag as geheel sal uitoefen,” sê Bruwer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JohanR ·

Wat het met US gebeur? Dit was eens op ‘n tyd ‘n eerlike en betroubare instansie, waar ouers graag hulle kinders WOU stuur om te studeer!

Nici ·

Sjoe wat ‘n skok! Hoe kan Cameron uitspraak lewer en dan amper dadelik ‘n pos by Stellenbosch aanvaar. Klink erg korrup en eks bly iemand neem die saak hof toe. Ek hoop Cameron kry presies wat hy verdien.

Kerneels ·

Universiteit SKELMbosch! de Villiers was nog nooit ‘n eerdbare man nie.

marius ·

Onthou hom van my Justisie dae . As jy nie iets goed van iemand kan se nie bly eerder stil . Ek sal vir ewig stil moet bly .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.