US skuld Afrikaanse studente ʼn ‘verskoning’

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch (US) is klaarblyklik ʼn “nagedagte of versiering”.

Só het dr. Leon Schreiber, DA-LP en die party se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, Maandag gesê na al hoe meer berigte dat Afrikaans nie by die universiteit se koshuise geduld word nie.

Maroela Media het vroeër berig daar is al hoe meer klagtes van al hoe meer studente by verskeie van die US se koshuise dat hulle nie toegelaat word om met mekaar Afrikaanse te praat nie – en daar was nou berigte dat hulle selfs beboet kan word of ʼn ander vorm van straf opgelê word indien Afrikaanses met mekaar in hul moedertaal praat.

Schreiber sê die DA samel in hierdie stadium beëdigde verklarings in by verskeie studente wat op hierdie manier geviktimiseer is, sodat dit as deel van die party se klagte by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien kan word. Sommige van die studente wat al op hierdie manier deurgeloop het, wil nie hul name bekend maak nie uit vrees dat hulle selfs verder geviktimiseer gaan word.

Schreiber sê die DA beoog ook om vandeesweek ʼn petisie oor die kwessie van stapel te stuur.

“Dit is ongelooflik. Verstommend. Dit lyk vir my of die universiteitsbestuur net niks aan die situasie doen nie. Die universiteit sê die 2016-taalbeleid is verkeerd geïnterpreteer, maar dit lyk vir my of dit eerder reg geïnterpreteer word.

“Hierdie optrede sê vir my dat Afrikaans minder belangrik is, jou moedertaal word ongeskik gestel en dat jy gestraf gaan word as jy nie by daardie reëls hou nie.”

Schreiber sê die US het in die verlede byna aggressief gereageer op bewerings van diskriminasie. Hy het onder meer na die sogenaamde “persgesig”-aangeleentheid by die universiteit verwys toe twee inwoners van die Heemstede-dameskoshuis in 2016 geskors is nadat ʼn foto op sosiale media versprei is waarin dit voorkom asof hulle hul gesigte swart gesmeer het.

Die skorsing is later opgehef nadat dit aan die lig gekom het dat hul gesigte eintlik pers geverf en met blinkertjies bedek was met die oog op ʼn partytjie met ʼn sterreruim-tema.

“Daar was destyds geen twyfel oor waar die universiteit gestaan het nie; hoekom tree hulle nie nou met dieselfde soort entoesiasme op nie? Dit is nou nie meer ʼn vraag oor of dit gebeur en of dit ʼn geïsoleerde voorval was nie. Dit gebeur en dit gebeur by verskeie koshuise.”

Schreiber sê die US se gebrek aan optrede laat dit lyk of die US die optrede óf ignoreer óf verskoon.

Hy sê ʼn onafhanklike ondersoek na die voorvalle is nodig sodat studente die vrymoedigheid het om die kwessies wat hulle pla, te opper.

Die studenteorganisasie StudentePlein het intussen ook gesê hy is diep bekommerd dat die US se bestuur nou al vir ʼn week nadat klagtes oor die afdwing van Engels in verskeie koshuise ontvang is, steeds nie proaktief iets daaromtrent gedoen het nie.

“Die bewese skending van taalregte tydens die verwelkomingsweek kan egter nie slegs voor die deur van studenteleiers gelê word nie. Daardie organe van die US wat vir die opleiding van studenteleiers verantwoordelik is, het daarin versuim om ʼn bewustheid vir meertaligheid te kweek, en ʼn verwronge opvatting van inklusiwiteit ingeboesem wat op vrees, verleentheid vir moedertaal en vooroordeel gebaseer is,” lui ʼn verklaring van die organisasie.

Hy eis soos die DA dat die universiteit die voorvalle van die afdwinging van Engels onafhanklik laat ondersoek en dat ʼn oudit van taaldiskriminasie-praktyke kampus-wyd van stapel gestuur word.

StudentePlein eis ook dat ʼn regstelling en verskoning vir elke voorval aangebied word.

Die US het nie spesifieke vrae beantwoord nie, maar Maroela Media verwys na ʼn mediaverklaring wat Woensdag reeds uitgestuur is. Daarin sê die universiteit onder meer dat hy voortgaan met gesprekke oor die implementering van die beleid en die waarde van meertaligheid en inklusiwiteit, asook met bewusmaking oor bestaande meganismes vir terugvoer oor ​die implementering van die 2016-taalbeleid.

“Nuweling-eerstejaars het eers gedurende die week van 1 Maart 2021 op kampus aangekom, waar hulle mekaar en hul studenteleiers vir die heel eerste keer ontmoet het. Hierdie studente se taalvaardighede wissel en hulle is uit diverse agtergronde en verskillende lande afkomstig. Nie almal is meertalig nie, maar almal verstaan ten minste Engels.

“In ʼn splinternuwe omgewing kan dit wees dat studente nie die inligting en reëlings kan verstaan wat nuwelinge moet help om hul voete gedurende die verwelkomingsweek te vind nie. Daarom gebruik studenteleiers in koshuise gedurende die verwelkomingstydperk hoofsaaklik Engels in formele situasies om ʼn atmosfeer van inklusiwiteit te skep en om te verseker dat almal toegang tot belangrike inligting het,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Wie is die mens/mense by US wat hierdie dom besluite neem? Ek dink by elke dom US besluit moet die naam, of die name wat die besluit gemaak het ook gepubliseer word sodat ons kan weet wie se brein het skielik uit rat gespring!

Willem

Jy as student mag nie afrikaans praat nie maar jy mag strate versper en goed aan die brand steek

Hennie

So dan probeer hulle wraggies om die taal in ons mond stil te maak! As my studente in hul eie taal praat dan gun ek hulle dit, want ek weet dit is die taal waarin hulle, hulself die beste uitdruk!

Ek en nog van my kollegas sou ‘n kursus gedoen het deur US, maar nou gaan ons dit beslis nie meer doen nie. Gelukkig net registrasie fooi betaal…rasiste!

Dup

Dit help nie die US bak mooi broodjies of speel met woorde,(“double speak”) nie.Hulle oogmerk is om Afrikaans van die US kampus te verban.Oor en uit.

Karen

Hoekom moét andersprekendes juis na n Afrikaanse universiteit toe gaan? Gaan na n universiteit wat jou taal ophef en vakke in jou taal aanbied. Verdomp dit is so maklik soos 1 + 1 om dit uit te werk. Alles Afrikaans moet vernietig word…