US stel dít voor vir nuwe taalbeleid

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

ʼn “Finale konseptaalbeleid” word dié week aan die Universiteit Stellenbosch (US) se senaat en volgende week tydens ʼn spesiale vergadering aan die Institusionele Forum voorgelê.

Volgens die konseptaalbeleid sal daar voortaan aparte lesings in Engels en Afrikaans wees in voorgraadse kursusse. “Vir voorgraadse modules waar sowel Afrikaans as Engels in dieselfde klasgroep gebruik word, word alle inligting in ten minste Engels oorgedra, en word opsommings of beklemtoning van inhoud ook in Afrikaans voorsien. Vrae in Afrikaans en Engels word ten minste in die taal van die vraag beantwoord.”

Indien ʼn dosent slegs Afrikaans of slegs Engels magtig is, sal ʼn lesing slegs in die spesifieke taal aangebied word. “Indien die lesings in Afrikaans is, stel die US intydse tolking in Engels beskikbaar. Indien die lesings in die eerstejaarmodules in Engels is, stel die US intydse tolking in Afrikaans beskikbaar.”

Waar alle studente in die klasgroep deur middel van ’n geheime stembrief daartoe toestem, sal die module in slegs Afrikaans of slegs Engels aangebied word, mits die betrokke dosente en onderrigassistente die nodige taalvaardigheid het en instem om dit te doen.

Alle verpligte leesstof vir voorgraadse modules word in Engels voorsien, behalwe waar die module oor die taal self handel. Verpligte leesstof (buiten gepubliseerde materiaal) word ook in Afrikaans voorsien, tensy dit nie redelikerwys uitvoerbaar is nie.”

Die beleid bepaal dat Afrikaans, Engels en isiXhosa oordeelkundig by amptelike geleenthede soos vergaderings, seremoniële geleenthede en intreeredes gebruik word. “In koshuise en ander leefomgewings word taal op so ʼn wyse gebruik dat, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, geen belanghebbende uitgesluit word van deelname aan enige formele aktiwiteite in hierdie omgewings nie.”

Die finale weergawe van die konseptaalbeleid sal op 3 Junie aan die senaat en op 7 Junie aan die Institusionele Forum voorgelê word. “Die taalbeleid word deur die raad goedgekeur met die instemming van die senaat en ná oorlegpleging met die Institusionele Forum.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Victor ·

Solank die US daarby hou, klink dié nuwe taalbeleid vir my heel aanvaarbaar.

johann cb ·

Hierdie lyk of dit moontlik kan werk. Dit kom voor of die wysiging meer gemaak is om die dosente te pas! Solank almal net tevrede gaan wees.

Johann ·

Kyk mooi hoe Afrikaans weer in die spervuur gaan kom van politiek behepte”studente” wie se selfsug vir korttermyn verkiesungs punte hoog gety vier.

Loeis ·

Nou gaan “transformation” sorg dat slegs Engels meer en meer gebruik word waar dosente nie Afrikaans magtig is nie. Kyk nou mooi.

Ook, seker goed sal in “ten minste” Engels gedoen word. Wat beteken dat Engels ‘n status het wat ander tale nie het nie.

hans ·

Die sogenaamde geheime stemming klink vir my verdag en manipulasie is moontlik en gevolglik is die opsie nie vir my aanvaarbaar nie. Dink nie dit behoort n probleem te wees vir Afrikaanssprekende dosente te wees ook in Engels klas te gee nie aangesien meeste van hulle in Engels en ander europese tale navorsing gedoen het. .

Klippie ·

Ag tog, hierdie proses gaan ons net langer weghou van die waarheid. Die US is verengels deur Afrikaners wat net op hul sakebelange gefokus het. n Anti-Afrikaanse atmosfeer is reeds geskep en groepsdruk sal studente toenemend op Engels laat besluit. Kom ons fokus nou op Akademia, ons nuwe Afrikaanse privaatuniversiteit. Ons moet finaal breuk van ‘n anti-Afrikaanse regering en Afrikaners met Engelse harte. Ons taal verdien beter.

Ek ·

Klippie, ek kan nie meer met jou daam stem nie. wens net Akademia kon in die suide ook ‘n kapus oopmaak vir ons arme Afrikaans sprekende kinders.

Rupert Ashford ·

Slippery slope. Dit het so begin by Kovsies ook. Nou net ‘n kwessie van tyd want die “aktiviste” het die “geheime stembrief” troefkaart. En wat soek ‘n dosent wat nie Afrikaans magtig is nie in elk geval by ‘n Afrikaanse Universiteit, of sal meeste weer uitheemse vanne he soos Wenderbaail. Ons het diesulkes ook al lank in ons midde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.