US-studente vies oor geen Afrikaans in klasse

Die Universiteit Stellenbosh. (Argieffoto: US)

Die onafhanklike studenteorganisasie StudentePlein het Woensdag ’n prokureursbrief aan die voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se senaat gerig. Prof. Wim de Villiers word in die brief versoek om ’n stokkie te steek voor die “onregmatige” afwyking van die universiteit se taalbeleid.

Die afwyking is spesifiek van toepassing op dubbelmediumklasse aan die US wat tans slegs in Engels aangebied word.

StudentePlein sê dié afwyking van die universiteit se taalbeleid is nie net sonder die voorgeskrewe prosedures goedgekeur nie, maar dit is ook nou langer as ooreengekom van krag.

Maroela Media het vroeër vanjaar berig die senaat het ’n versoek vir ’n tydelike afwyking van alle fakulteite se taaltoepassingsplanne goedgekeur, in ’n poging om die druk op dosente te verlig te midde van die Covid-19-pandemie.

Die afwyking was egter veronderstel om slegs vir die eerste semester van krag te wees.

StudentePlein het intussen verskeie klagtes van lede in verskillende fakulteite gedurende die tweede semester ontvang, naamlik dat sogenaamde dubbelmediumklasse stééds slegs in Engels aangebied word.

Tian Alberts, voorsitter van StudentePlein, sê verskeie rekords, waaronder ’n klankopname van ’n vergadering vroeër vanjaar, dui boonop nou daarop dat die US se besluit om van die taalbeleid af te wyk geneem is sonder om die voorgeskrewe prosedures te volg.

“Die taalbeleid vereis dat afwykings van fakulteite se taaltoepassingsplanne eers op fakulteitsvlak gehanteer en dan aan die senaat voorgelê moet word. ’n Mediaverklaring van die US op 10 Maart vanjaar beweer dat fakulteite die afwykings van die taalbeleid versoek het. In werklikheid het die uitvoerende komitee van die senaat hierdie besluit geneem sonder dat fakulteite dit versoek het,” sê Alberts in ’n verklaring.

“Dit blyk nou dat die senaat vir twee agtereenvolgende semesters op onregmatige wyse besluit het om van die US se taalbeleid af te wyk deur fakulteite toe te laat om klasse wat veronderstel is om in Afrikaans én Engels aangebied te word, slegs in Engels aan te bied.”

StudentePlein eis nou dat die senaat fakulteite verplig om hul taaltoepassingsplanne voort te sit. Die US word tot Dinsdag gegun om op die studenteorganisasie se versoek te antwoord. “Verdere regstappe sal oorweeg word indien dit nie gebeur nie,” sê Alberts.

Die DA het intussen die US daarvan beskuldig dat hy nie heeltemal deursigtig oor die inhoud van ’n verslag oor die beweerde onderdrukking van Afrikaans op die universiteit se kampus was nie. Lees meer daaroor hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Frederik C ·

Kan Akademia nie ‘n universiteit in die Wes-Kaap bou nie? En dan sommer help met die afstigting.

VaalDonkie ·

Ek sal dit nogal waardeer. My kind sal moet verder studeer en ek kannie dink sy moet Stalinbos of “Moscow on the Hill” toe gaan nie.

Kobus ·

Ek is pure afrikaans. Ek stem saam met al die patriote maar kom ons wees realisties. Jy met ngelukkig engelstalig wees om dit in die beroepswereld te maak. Al die afrikaanssprekende sudente wat oorsee wil gaan werk nadat julle afgestudeer het, gaan afrikaans julle daar help? Byna al die maatskappye in SA se voertaal is engels, dit is ongelukkig ‘n feit en glo my,indien jy tydens onderhoude stammel en stotter indien jy in engels moet antwoord,is jou kans op sukses maar skraal. Dus my liewe jongmense,aanvaar die engelse klasse want dit gaan tot julle eie voordeel wees.
Wat my baie opval is dat afrikaanse taalpuriste tydens gesprekke hulle onderonsies met engeslssprekende mense in gebroke engels oorvertel. Lagwekkend!

Johnny ·

Loutere onsin.
Ek is Afrikaans, was in ‘n Afrikaanse skool tot in Matriek en het in Afrikaans aan ‘n (destyds) Afrikaanse universiteit studeer. Ek is in ‘n professionele riugting gekwalifiseerd.
Ek kan Engels praat soos ‘n eerste taal, en het nie nodig gehad om in Engels klas te loop om dit te vermag nie.
Meeste Afrikaanse mense, veral diegene wat op universiteitsvlak kan dink en werk, is Engels magtig sonder dat hulle hulle eie taal hoef te verraai het.

Blikkies ·

Kobus, Glad nie nodig om ‘n grap van Afrikaans te maak nie, Word jy maar ‘n engelsman, dan is jy ook lagwekkend. Kom By.

Johan D ·

Hoekom sal Afrikaans nou ʼn struikelblok wees?
Met al die Afrikaanse studente wat deur baie jare aan Afrikaanse universiteite studeer het was daar geen probleem nie en kon ons op enige gebied ons man staan!

Hennie ·

Ek dink dit is ‘n klug. Ek het in die vroeë tagtigs my graad aan RAU verwerf. ‘n Afrikaanse universiteit maar feitlik al ons boeke was in Engels. Daar leer jy die terme in beide tale so niks is vreems nie.

Ek is woonagtig in Kanada en taal was nooit ‘n probleem nie. Dink ‘n bietjie daaraan dat mense van verskillende lande emigreer hulle taal gebruik kan baie swakker wees as ons in Engels maar dit is nie ‘n struikelblok nie. Mense word aanvaar ongeag hoe goed jou Engels is.

Thelsa ·

Dit is hartseer. Dit is egter die begin van die einde. So sal hulle alle oorblyfsels van Afrikaans teiken en afbreek. Die PIEPOLS gaan wen

Samuel ·

Afrikaanse studente het dit nog altyd oral in die beroepswêreld gemaak al het hulle nooit in Engels klas gedraf nie. Wim de Villers en vennote breek net die Afrikaanse taal af asook dit wat deur Afrikaners opgebou is.

VaalDonkie ·

Duitse studente swot in Duits, Franse in Frans, ens en hulle lyk nie of hulle swaarkry nie. Ja mens moet seker Ingels kan praat, maar jy kan dit as ‘n vak neem. Of sommer net televisie kyk.

Blikkies ·

Dankie Samuel, dit is waar. Gaan kyk maar in Kanada, Oostenryk, Australia, Nederland daar het Suid-Afrikaners wat in Afrikaanse Universiteite, en van hulle nogal in die Vrystaat opgelei is groot hoogtes bereik. Ek noem dit sodat Kobus ook kan lees…..

Lesly ·

Hulle wil maar Afrikaans uitwis. Die agterblydendis besef baie goed dat die Afrikaans sprekende ‘n gawe het om te wen en op te bou. Hulle grootste doel is om ons onder te hou en ons wil en moed te breek. Ongelukkig is die verraainde liberaliste kop in een mus saam met hulle

Frank John ·

Die US moet verstaan dat Afrikaans veral in die Kaap “n taal is wat hier is om te bly. Afrikaans word deur meer nie- blankes gepraat as “wit” . Afrikaans is nie ‘n “apartheids” taal nie en apartheid of diskriminasie is nie deur Afrikaans ingestel nie . Oorspronklik is dit deur die engelse in die land ingebring wat die Afrika mense slawe gemaak het en hul stem reg ontneem het. Gaan kyk maar na wat Cicil John gesê het toe hy in SA kom en sien die locals het stem reg in engelse kolonie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.