US-taalbeleid: AfriForum stel regsaksie in

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

Universiteit Stellenbosch. Foto: Facebook

AfriForum se regspan het Vrydag ʼn aanmaning aan die uitvoerende bestuur van die Universiteit van Stellenbosch (US) beteken.

Dit volg nadat dit onder die aandag van AfriForum gekom het dat minstens twee van die universiteit se fakulteite glo besluit het om af te wyk van die taalbeleid van die US soos deur die universiteitsraad, met instemming van die senaat, bepaal is.

“AfriForum is van mening dat hierdie fakulteitsrade se besluite strydig is met die US se taalbeleid asook met die kontrakooreenkoms wat studente met die US sluit en wat op daardie taalbeleid berus,” het Hein Gonzales, AfriForum se woordvoerder, Sondag gesê.

Op 25 Januarie 2016 het die fakulteitsraad van Regsgeleerdheid onder meer besluit:

  • Engels sal die primêre onderrigtaal tydens lesings wees.
  • Daar sal geleentheid vir ʼn inleiding en opsomming in Afrikaans wees.
  • Studente mag vrae in Afrikaans vra wat in daardie taal beantwoord sal word.
  • Daarbenewens het die fakulteitsraad van Ingenieurswese op 23 Januarie 2016 die volgende sogenaamde “visie” aanvaar:
  1. Voorlesings sal by verstek in Engels plaasvind met tolking na Afrikaans en slegs in parallelmedium plaasvind wanneer oorwegings soos onder meer klasgrootte dit haalbaar maak.
  1. Dosente word aangemoedig om bykomende leerhulpmiddels in Afrikaans én Engels beskikbaar te stel, en kernbegrippe mag aan die einde van elke periode deur dosente wat Afrikaans magtig is, herhaal word.
  1. Die inwerkingstelling hiervan verander die meeste oorblywende A+1-modules na E+1-modules selfs indien dit verskil van die moduleraamwerk soos uiteengesit in die 2016-jaarboek.

Gonzales het ʼn ultimatum aan die US gestel om voor of op Dinsdag 2 Februarie 2016 onomwonde die versekering te gee dat die bestuur stappe sal doen om die inwerkingstelling van hierdie afwykende besluite te verhoed. “By versuim sal ons sonder verdere verwysing na die US-bestuur by die hooggeregshof om ʼn dringende hofbevel teen die US aansoek doen om die inwerkingstelling van hierdie besluite te voorkom en die inwerkingstelling van die taalbeleid af te dwing ten einde ons lede se regte te beskerm.”

Gonzales het bygevoeg dat die US-bestuur nie skroom om onwettige en onreëlmatige besluite te neem nie, en nog minder om dit in werking te stel. “Dit is tyd dat die US-bestuur tot verantwoording geroep word deur die uitvoerende raad.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Michael

Weereens is dit Afriforum wat opkom vir die huidige benadeelde minderheid se regte ek weet ten minste my klein finansiële bydrae word goed benut

Berhalet Beukes

Geen Afrikaans…. En dan geen Engels? Die hele spul is ‘n klomp verraaiers wat lekker bakhande gestaan het terwyl ons deur die jare maar moes betaal het en steeds doen!

Izzy

Totsiens Afrikaans…..

John

Die topbestuur skerm vir hul poste, so ook die lektore en hoe meer studente hoe meer die staatsbydraes. Indien klasse in Engels is kan lektore van elders in die wereld wat in hul eie lande sukkel, hierheen skuif. Ons rand is so swak dat elkeen wat hier kom bly 15 tot 25 keer ryker is as in hul eie lande. Die universiteitsbesture redeneer ook dat die studente nadat hulle afgestudeer het ‘n beter kans staan om werk te kry, hier en elders in die wereld. So, ons moet maar ander planne maak. Die Jode het deur die geskiedenis na-uurse klasse… Lees meer »

sarel strydom

Ek is van mening dat engels tog op die u einde sal wen, want dit gaan oor die onderdrukking van Afrikaans. Laat hulle voortgaan terwyl die Afrikaanse Jeug hulle eerder kan toespits op die bevordering en uitbouing van Afrikaans deur Kulturele bedrywighede en opvoedingsprogramme binne en buite die Universiteit.