US Taalbeleid: ‘Afrikaans gelyk met Engels’

stellenbosch

Universiteit Stellenbosch (Foto: Facebook)

Afrikaans bly ’n onderrigtaal aan die Universiteit Stellenbosch, en studente kan steeds alle assesserings in Afrikaans voltooi, het ’n afvaardiging aan die US in ’n verklaring bevestig.

Dié groep het vroeër in Junie byeengekom om die US se jongste konseptaalbeleid te bespreek.

Danie van Wyk, sameroeper van die afvaardiging, het gesê die US het tydens die gesprek bevestig Afrikaanse studente, veral diegene uit arm, bruin gemeenskappe, sal nie deur die nuwe taalbeleid benadeel word nie.

Prof. Arnold Schoonwinkel, viserektor vir leer en onderrig, het aan Maroela Media gesê studente met beide taalvoorkeure het volledige toegang tot die US se kennisbasis. “Dit beteken daar is volle toegang tot die universiteit se kennisbasis vir studente wat in Afrikaans of Engels wil studeer en dosente en ander personeel, wat deur middel van hierdie twee tale hul funksies aan universiteit wil verrig, word ook verwelkom.”

Volgens Schoonwinkel stel die nuwe taalbeleid dit duidelik dat Afrikaanssprekendes nie uitgesluit word nie. “Afdeling 7.1.3 van die taalbeleid bepaal aparte lesings sal in Afrikaans en Engels aangebied word, waar dit redelikerwys uitvoerbaar en opvoedkundig verantwoordbaar is om meer as een klasgroep te hê.”

Hy het verduidelik dat opsommings ook in Afrikaans verskaf word in voorgraadse modules, waar Afrikaans en Engels in dieselfde klasgroep gebruik word.

“Gedurende elke lesing word alle inligting ten minste in Engels oorgedra en opsommings of beklemtoning van inhoud word ook in Afrikaans verskaf. Vrae in Afrikaans en Engels word ten minste in die taal van die vraag beantwoord,” lui die taalbeleid.

Schoonwinkel het benadruk tolke sal beskikbaar gestel word indien die behoefte bestaan.

Lesings gaan egter slegs in een taal aangebied word “waar die aard van die leerstof in die module dit regverdig, byvoorbeeld as die module oor die taal self handel” of wanneer die dosent slegs een taal magtig is. “In daardie gevalle word tolking ook beide kante toe aangebied,” het Schoonwinkel bygevoeg.

Van Wyk het gesê gereelde gesprekke oor die monitering van die taalbeleid se implementering word in die vooruitsig gestel om haakplekke te identifiseer en hanteer.

Schoonwinkel sê ook die US is bereid om die resultate van die implementering van die nuwe Taalbeleid met belangegroepe, soos die Kans vir Afrikaans-afvaardiging en ander belangegroepe te bespreek. “Die Taalbeleid spesifiseer die meganismes waarvolgens taalimplementering gemoniteer sal word. Die resultate sal aan die einde van elke semester bekend gemaak word en aan die Senaat en Raad rapporteer word,” het hy bygevoeg.

Dr. David Piedt, voorsitter van die Wyk Demokratiese Forum, sê dié gesprek het die afvaardiging hoop gegee vir die toekoms van Afrikaans en vir mense wat slegs dié taal magtig is. “Die byeenkoms het my die gemoedsrus gegee dat Afrikaanse leerders van plattelandse skole kan voortgaan om aan die US te studeer en presteer. Dit het my ook net weer bewus gemaak van die waarde daarvan om dinge uit te praat eerder as om konflik op die spits te dryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarie ·

Afriforum Jeug wil ook praat, maar daar is nie spreekbeurt toegestaan nie. Het dit dalk met die kleur van die sprekers te doen? Wil ook maar eers sien hoe dit in die praktyk werk. Te veel dosente word aangestel wat nie Afrikaans magtig is nie.

JC ·

Ons sal maar sien hoe draai die een uit…vir ons geliefde taal Afrikaans.

Hendrik von Wielligh ·

Hier sal met erns gemonitor moet word want dit was reeds voorheen duidelik dat dit maar skraal aan integriteit gaan.

gotlieb ·

Skielik sal geen Afrikaans Lektore aangestel word nie. Daar is baie hierbo geskryf waar hulle ons kinders sal kniehalter. Lees mooi deur. Ek is egter seker dat Afri-Forum en Solidariteit dit sal uitsorteer. Baie “loop holes ” vir die US te bespeur en dan kry hulle nie eers skaam daaroor nie? Mag die duiwel hulle haal – en dit gaan gebeur. Net ‘n kwessie van tyd. Kan nie wag dat ou Wim en sy maatjies stert tussen die bene pad vat nie.

pieter ·

Afriforum – jeug moet eenvoudig ‘n spreekbeurt kry. Lyk my die US is bang vir hulle want Afri is te ver gevorderd vir die US se “menere” . Duidelik sigbaar.

Pro-Afrikaans ·

Die pro-Afrikaanse personeel is reeds uitgewerk en daar gaan nie nuwes aangestel word nie. Schoonwinkel was deels verantwoordelik vir die uitfasering van die pro-Afrikaanse 2002 taalbeleid, en die enigste persone wat hierby baat gevind het, was die wit Engelse elite. Plaas liewer meer berigte oor Akademia, ons nuwe Afrikaanse privaatuniversiteit.

Gedagtes ·

Duidelik verstaan Heunis en Van Niekerk die situasie verkeerd.

(sien litnet vir die skakels)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.