US-taalbeleid: Saak in September voor grondwethof

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Die konstitusionele hof sal op 13 September die appèlaansoek in die saak om die Universiteit Stellenbosch (US) se taalbeleid te hersien en tersyde te stel, aanhoor.

Gelyke Kanse, ʼn organisasie wat hom beywer vir die toekoms van Afrikaans op tersiêre vlak en die opheffing van alle inheemse tale, die president van die US-konvokasie en ses studente is as applikante in die saak gelys met die US en die voorsitters van die US se senaat en universiteitsraad as respondente.

Die applikante doen aansoek om verlof tot appèl nadat regters Daniel Dlodlo en Kate Savage ʼn aansoek om die US-taalbeleid te hersien en tersyde te stel, in die Wes-Kaapse hooggeregshof in Kaapstad op 25 Oktober 2017 van die hand gewys het.

Gelyke Kanse het toe aangevoer die vorige taalbeleid van 2014 het omvattend voorsiening gemaak vir die gelyke gebruik van Afrikaans en Engels op die kampus. Die 2016-taalbeleid het die US egter nou op ʼn trajek geplaas om te verengels. Die organisasie het aangevoer dat ʼn irrasionele proses gevolg is om die nuwe beleid te aanvaar en dit is deur die rektor se bestuurspan gedryf.

“Die verengelsing van universiteite het ʼn bedreiging vir toekomstige studente en onderwysers se onderrig op tersiêre vlak, sowel as die kultuurbelange van alle taalgemeenskappe in Suid-Afrika geword,” het prof. Philip Spies, voorsitter van Gelyke Kanse se stigtingskomitee, gesê.

Hy meen hierdie sal ʼn deurslaggewende regsgeding oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika wees.

“Hierdie raak alle inheemse tale, waarvan Afrikaans tans die verste op tersiêre vlak ontwikkel het. Veral Afrikaans is in die laaste loopgraaf aangesien die een universiteit ná die ander verengels.”

Spies het gesê die appèlsaak gaan eerstens oor die US se taalbeleid, maar dit hou ook ʼn veel wyer implikasie vir Suid-Afrika se onderwysstelsel en die ontwikkeling van die samelewing in.

“Onderrig in inheemse tale is oor die afgelope twee dekades indringend deur veral swart intellektuele bespreek, wat ontnugter is oor talle Afrika-regerings se verheffing van ʼn koloniale taal as dominante taal tot nadeel van die inheemse tale waardeur die meeste mense benadeel word.

“Bruin Afrikaanssprekendes het byvoorbeeld sowel die laagste deelnamekoers, as die laagste deurvloeikoers op universiteitsvlak van alle gemeenskappe in Suid-Afrika.”

Spies het aangevoer die agteruitgang van die spesifieke gemeenskap kan voortduur indien daar met Afrikaanse onderrig op tersiêre vlak weggedoen word.

“In die dekolonisasiedebat het sommige in hierdie verband verwys na Afrikaans as die suksesvolste inisiatief van dekolonisasie op die vasteland. Moedertaalonderrig word as een van die vernaamste ontwikkelingsinstrumente vir enige gemeenskap beskou, soos die geval met Afrikaans was en steeds is.”

Spies het bygevoeg dat dié hofsaak nou ook ʼn nuwe dimensie gekry het omdat die beoogde nuwe taalbeleid van die departement van hoër onderwys en opleiding die belang van inheemse tale sterk beklemtoon.

“Prominente status word in die nuwe taalbeleid aan Afrikatale verleen. Die tale se aanwending en ontwikkeling moet daadwerklik gesteun word en die behoud van alle akademiese tale, Afrikaans inkluis, moet verseker word.”

Spies het verwys na navorsing wat getoon het matrikulante kan ʼn agterstand van tot vyf jaar agter hul moedertaal-eweknieë hê. Hy glo ook dat leerders wat net tot in gr. 3 onderrig in hul moedertaal kan ontvang en daarna moet oorskakel na Engels as onderrigmedium, is die oorsaak van Suid-Afrika se disfunksionele skoolstelsel.

Gelyke Kanse het benadruk dat alhoewel die konstitusionele hof se uitspraak in die saak van AfriForum teen die Universiteit van die Vrystaat (UV) se taalbeleid in Desember 2017 sommige mense mismoedig gestem het, daar talle belangrike verskille tussen die twee sake is.

“Eerstens is die aanvaarding van die nuwe US-taalbeleid in 2016 ’n ontkenning van die bevolkingsamestelling van die Wes- en Noord-Kaap. In dié provinsies, anders as in die Vrystaat, is Afrikaans die meerderheidstaal en ook die taal van die meerderheid bruinmense.

“Tweedens is daar in die Wes-Kaap, binne ’n radius van 60 km, drie ander volledige Engelse universiteite. Derdens is dit, anders as wat die geval met die UV was, nie die US se saak dat parallelmediumonderrig aan dié universiteit tot onbedoelde segregasie sal lei, soos wat in die geval van die UV bevind is nie.”

Nog ʼn verskil in die saak is dat 11 regters die partye se mondelingse betoë sal aanhoor – iets wat nie in die UV se saak gedoen is nie.

gelyke-kanse

Grafika: Gelyke Kanse/Facebook.

Gelyke Kanse is positief dat die konstitusionele hof oortuig sal kan word dat die aanvaarding van die US se taalbeleid ongrondwetlik én irrasioneel was.

“As dít gebeur, sal dit dié kantelpunt word vir positiewe prosesse wat moedertaalonderrig in Suid-Afrika gaan bevorder. Sukses in hierdie hofsaak is daarom van die grootste belang vir die verdere ontwikkeling van die land, sy multikulturele bevolking en al die inheemse tale.

“Grondwetlike regte is hier op die spel en dit was vir Gelyke Kanse duidelik dat die konstitusionele hof die tersydestelling van die US se 2016-taalbeleid sou moet bereg. Die feit dat dié hof die saak aanhoor, beteken dat die lang pad deur die hoogste hof van appèl na die konstitusionele hof nou aansienlik verkort is en daarmee ook verminderde kostes meebring.”

Volgens Spies sal ʼn bedrag van R1,5 miljoen vir regskostes in hierdie appèlsaak benodig word. Hy het mense gevra om Gelyke Kanse in die saak te ondersteun deur bydrae, wat van belasting vrygestel is, te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

marous ·

Inheemse taal by die plek ? Dit kan niks anders as Khoi wees nie .

White Rhino ·

De Villiers het blykbaar vergeet wie hier universiteit op die been gebring het – en wie se geld gebruik was – en nou wil hy alle ander tale behalwe Afrikaans daar he.
Hy is so opgekruip dat mens hom nie eers meer kan sien nie.
Hy vergeet egter dat die wiel wel draai.

Allesverloren ·

Dit is nie die regering wat die US verengels het nie, maar die Stellenbosse boeties. Hul lang, uitgerekte argumente oor meer- en veeltaligheid het tot eentaligheid (verengelsing) gelei. Niks en niemand kan die proses nou meer keer nie. Dit is te laat. Ook net n mors van geld. Spandeer liewer daardie geld op Akademia, ons nuwe private Afrikaanse universiteit. Alle skenkings/erflatings wat ter bevordering van Afrikaans gemaak is, behoort ook na Akademia gekanaliseer te word.

Lerato ·

Die oorgrote meerderheid mense in Wes Kaap se huistaal is Afrikaans.

Hoekoem Afrikaans hier wegvat, is vir my onbegryplik

Stephen Namibia ·

Waarom die geveg om in Afrikaans onderrig te word? Jy kan niks met Afrikaans in die sakewereld doen nie. Alle terminologie, transaksies, boeke, mediese joernale ens is in Engels.
Uit ondervinding het ek geleer dat kinders wat slegs in Afrikaans opgevoed word n geweldige agterstand het in die latere lewe.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.