US-taalbeleid skend menseregte – taalgroep

Lede van die DAK Netwerk, ʼn groep vir voorheen benadeelde Afrikaanssprekendes, tydens ‘n vroeëre betoging in Stellenbosch. (Foto: Mia Slabbert)

Die DAK Netwerk, ’n Afrikaanse belangegroep uit die bruin gemeenskap, meen die Universiteit van Stellenbosch se nuwe taalbeleid ontneem Afrikaans van sy status as amptelike én inheemse taal. Dít, meen die organisasie, grens aan menseregtevergrype en die minagting van kulturele en linguistiese erfenis.

Die netwerk is gestig vir die bemagtiging en vooruitgang van agtergestelde Afrikaanssprekendes en vernoem na die Khoi-leiers Doman, Autshumao en Krotoa.

Maroela Media het vroeër berig belanghebbendes kan nou op die tweede konsep van die Universiteit Stellenbosch (US) se hersiene taalbeleid (2016) kommentaar lewer. Partye het tot 14 Augustus om kommentaar te lewer.

Volgens Danie van Wyk, uitvoerende hoof van die DAK Netwerk, staan twee potensiële twispunte uit.

“Dit is nodig dat die 2016-taalbeleid van die universiteit deur verskeie belangegroepe en drukgroepe teengestaan word, gegewe die ‘dwalinge’ in die hofsake waar oor die aangeleentheid beslis is,” het Van Wyk gesê.

“Daar is veral bedenkinge oor bepaalde omskrywings, definisies, bepalinge en interpretasies. Een voorbeeld hiervan is dat dit steeds kommerwekkend is dat Xhosa pertinent as ʼn inheemse taal gemeld word, terwyl hierdie status Afrikaans ontsê word.”

Volgens Van Wyk volhard die departement van hoër onderwys in hul taalraamwerk dat Afrikaans ʼn uitheemse taal is. Slegs sogenaamde “Suidelike Bantoetale” (die departement se terminologie) is op inheemse status geregtig.

“Die DAK Netwerk wil dit onomwonde stel dat die ontkenning hiervan aan menseregtevergrype, minagting, disrespek en die afgradering van die kulturele en linguistiese erfenis van bogenoemde groeperinge grens. Om iemand te ont-taal is om daardie persoon te ont-mens,” sê Van Wyk.

stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch.

Hy het verwys na ’n onlangse uitspraak van regter Steven Majiet in die Grondwethof, en het gesê dat ons die taal moet toe-eien.

“Dit kom daarop neer dat Afrikaans  gestroop is van haar Suid-Afrikaanse sowel as Afrikawortels. Afrikaans is ʼn ontwikkelde akademiese taal met ʼn bewese rekord. Hiervan getuig die talle hoogs gekwalifiseerdes in verskillende beroepsektore van ons samelewing,” sê Van Wyk.

Die tweede kwessie wat die DAK Netwerk volgens Van Wyk wil opper, is moedertaalonderrig.

“Vir die DAK Netwerk is hierdie ʼn ononderhandelbare saak. In al ons onderhandelinge met die Universiteit Stellenbosch (US) het ons dit onomwonde gestel dat ons baie sterk op meertaligheid steun en selfs die ontwikkeling van ander inheemse tale aanmoedig,” aldus Van Wyk.

“Tans is moedertaalonderrig in die grondslagfase in Suid-Afrika verpligtend en nie onderhandelbaar nie. Soos internasionale praktyk dit ook het, is dit tot met gr. 3 verpligtend. Ons is egter oortuig dat moedertaalonderrig tot ʼn eerste voorgraadse universiteitskwalifikasie deurgevoer moet word.

“Ons is maar te bewus dat taal mense bemagtig. Indien Afrikaans in haar spore op die US gestuit word, word derduisende, veral bruin Afrikaanssprekende landelike en selfs stedelike studente, ʼn toekoms ontsê,” het Van Wyk gesê. Hy meen die groot uitvalkoers op universiteit is getuienis van die belang van moedertaalonderrig.

DAK Netwerk meen dat die Universiteit Stellenbosch met die opstel die finale taalbeleidsdokument moet poog om weereens ʼn taal- en kultuurwarmte aan die huidige en plattelandse student uit te straal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Andrew ·

Hoog tyd dat daar uit alle Afrikaanse gemeenskappe opgestaan word vir Afrikaans (en die erkenning as inheemse taal) en nie net die Afriforums’ nie.

Zombie ·

Ek stem honderd persent saam. Is daar meer as een Afriforum?

Belinda ·

Net soos Zulu, Xhosa, Sotho, Engels ens n moedertaal is, is Afrikaans ook ene. Hoekom mag daar skole wees wat daardie tale as moedertaal wees maar al die Afrikaanse skole word forseer om alles te verander na Engels. As jy nie die taal van die skool kan verstaan nie, gaan soek n ander. Almal is geregtig om skool te gaan in die taal waarin hul grootgemaak is. Ons beter baklei vir ons taal want dit gaan vergaan. Ons het n pragtige taal, en moet dus alles in ons mag doen om ons taal erkenning te gee want Afrikaans is nie net n wit taal nie, maar word ook gespreuk deur baie anders-kleuriges.

Tiptol ·

Belinda, jy slaan die spyker op die kop. Niks verder nodig om te sê nie.

Sylvia ·

Ek stem dit is hoog tyd dat Afrikaans erken word as een van die Afrika-tale, en ook die erkenning van blankes as deel van Afrika. Dit is al meer dat blankes by die uitbeelding van Suid-Afrika en of Afrika daar geen blanke gesigte op die embleem, uitbeelding en advertensies verskyn nie.

Grond ·

DAK het sy oorsprong in die sogenaamde bruin gemeenskap. Om hierdie Afrikaanse gemeenskap uit te sluit in jou standpunt maak jy ‘n fundamentele fout. Jy is egter reg dat Afrikaans ‘n Afrika taal is wat so erken moet word.

Harley Davidson ·

Stem saam Piet hulle moet vir die afrikaans sprekende mense n tuisstaat gee sny die weskaap af van Suid-Afrika en laat ons ons eie heil uitwerk

Samuel ·

Wim de Villiers en sy meelopers, is verraaiers van hulle eie mense en die taal waarin hulle groot geword en studeer het. Sies.

Rian ·

Dit is baie maklik vir Afrikaans sprekendes om hul taal weer op die voorvoet te kry. Boikot enige winkel of diens wat nie in Afrikaans wil adverteer nie. Die deuntjie sal baie vinnig verander.

Anoniem ·

Die taalbeleid van die Regering is in elk geval ‘n belaglik. Net soos Afrikaans nie meer gebruik mag word nie, moet hul dan alle Afrika tale ook verban en almal word in Engels gebore.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.