US weer gekap oor Engels – dié keer in nuwe kursusse

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Universiteit Stellenbosch (US) slaan vure dood oor die jongste bewerings dat nuwe kursusse aan die US binnekort dalk net in Engels aangebied gaan word.

Die universiteit sê die senaat se akademiese beplanningskomitee en die komitee vir leer en onderrig het ’n versoek aan die universiteit se senaat gerig vir ʼn afwyking van alle fakulteite se taalimplementeringsplanne – maar slegs vir die eerste semester van 2021.

Dié versoek is ingedien weens die geweldige druk wat die Covid-19-pandemie en die aanbied van afstandsonderrig, -leer en -assessering op dosente veroorsaak. Dit word aangevoer dat eentalige Engelse onderrig dié druk sal verlig.

“Indien die voorstel aanvaar word, is die afwyking ʼn tydelike maatreël vir die eerste semester,” het Martin Viljoen, US-woordvoerder, Dinsdag aan Maroela Media verduidelik.

Die burgerregteorganisasie AfriForum sê die druk wat dit op Afrikaanssprekende studente gaan plaas, skeel die komitee vir leer en onderrig blykbaar min.

Dié organisasie meen die versoek is net nóg ’n voorbeeld van hoe Covid-19 misbruik word as verskoning vir menseregteskendings.

Die Afrikaanse Taalraad het Dinsdag in ’n verklaring gesê dit word genoem dat baie lesings ten spyte van die verslapping van afsonderingsregulasies steeds virtueel moet plaasvind en dat lektore dit moeilik gaan vind om lesingsmateriaal betyds in Engels en Afrikaans te ontwikkel en te vertaal.

Die voorstel om van die taalimplementeringsplanne af te wyk word tydens die senaatsvergadering op 19 Maart as aanbeveling van albei komitees ter tafel gelê.

Die Afrikaanse Taalraad wys daarop dat volgens ontstelde dosente,  ʼn voorstel soos dié nie deurdringend in ʼn senaatsvergadering bespreek kan word nie en dit sal derhalwe waarskynlik sonder meer aanvaar word.

Viljoen sê dit is nie waar nie. “Dit kan inderdaad bespreek word.”

Hy sê ook die bewering dat die voorstel waarskynlik net aanvaar sal word, is ongegrond.

Universiteit Stellenbosch (Foto: US)

Dosente word aangemoedig om die universiteit se Taalsentrum se vertalers te gebruik om Engelse podsendings, waar prakties uitvoerbaar, in Afrikaans te vertaal. Hulle moet ook in ander leerformate, soos aanlyn gespreksforums, voortgaan om studente met behulp van Afrikaans en Engels te ondersteun.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, wys op haar beurt daarop dat die US ’n groot en uiters bekwame taalsentrum het wat ondersteuning kan verleen aan dosente wat probleme ervaar. Afstandsonderrig het ook besparings tot gevolg, wat beteken dat die aanbod van dié dienste selfs uitgebrei sou kon word as die nood dan werklik só hoog is.

“Ons leef in ’n tyd waar tegniese ontwikkelinge die aanbied van meertalige dienste gedurig verbeter en vergemaklik. Dat eentalige onderrig dan nou skielik as enigste oplossing voorgehou word deur diegene wat die voorstel opgestel het, dui op ’n gebrek aan dienslewering aan ’n beduidende deel van die studentegemeenskap, ’n gebrek aan kreatiewe denke en aanpasbaarheid, maar bowenal ’n miskenning van die menseregte van alle betrokkenes.”

Bailey sê die versoek vir ʼn afwyking van al die fakulteite se taalimplementeringsplanne is net nóg ’n gebeurtenis vandeesweek wat die US se gebrek aan verbintenis tot veeltaligheid, en meer spesifiek tot Afrikaans, illustreer.

Maroela Media het vroeër berig Afrikaanssprekende inwoners van minstens een dameskoshuis is tydens verwelkomingsweek aangesê om slegs Engels met mekaar en besoekende ouers te praat. Dit, selfs al is almal teenwoordig Afrikaans.

Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad, sê dit is jammer dat die voorstel so kort voor die lang verwagte hersiening van die US se taalbeleid kom aangesien die hersiening ʼn gulde geleentheid bied om mense uit die loopgrawe te kry en vir ʼn slag pragmaties en deelnemend oor meertaligheid aan die US te besin.

“Daarvoor stuur hierdie voorstel egter die verkeerde sein,” sê Steenkamp.

Viljoen hou egter vol dat die versoek geensins verband hou met die universiteit se hersieningsproses wat reeds aan die gang is nie. “Dit is ʼn voorstel vir ʼn tydelike reëling gegewe die druk van Covid-19 op dosente.”

Die Afrikaanse Taalraad doen ʼn beroep op die US se senaat om die voorstel op sy vergadering af te keur.

“Die senaat sal die voorstel oorweeg en ʼn besluit neem wat in die beste belang van die universiteit, sy studente en sy dosente is,” sê Viljoen.

Bailey meen die senaat se besluit oor die versoek sal wel ’n aanduiding wees van die US se toekomstige verbintenis tot Afrikaans en meertaligheid. “Die universiteit se nuwe taalbeleid wat in die vooruitsig gestel word, sal verder toon tot watter mate die bestuur se verbintenisse tot die bevordering van Afrikaanse studente se taalregte lippediens is al dan nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Ai tog ·

Hierdie is nou die laaste strooi! Stop vandag nog my maandelikse bydraes aan die US.

VaalDonkie ·

Dis jammer University of Cape Town en University of the Western Cape bestaan nie meer nie. Anders kon die Ingelse kinnertjies daar gaan studeer het.

Keith ·

Oh NO !! Not again. !! Seems like US is competing with the EFF to see how many times they can make the headlines.

Dup ·

Afrikaans se grafsteen word tans by elke groot universiteit in SA opgerig.Die bewoording op die grafsteen sal egter slegs in Engels aangebring word……

Nici ·

Hoe het die Wes Kaap met ‘n meerderheid Afrikaanssprekendes albei hul Afrikaanse universiteite verloor en die Wes Kaap met drie Engelse universiteite gelaat? Ek dink hierdie voorgee dat US nog enigsins plek in die son bied vir Afrikaanssprekendes moet nou eerlik benader word. Hierdie probleem sou nooit ‘n probleem gewees het as regverdigheid geheers het en US steeds vir Afrikaanse studente studie aangebied het nie. Afrikaners moet ophou skenk aan US en iets nuut self begin. US is verlore en ‘n mors van tyd en geld.

Aikie ·

As jy ‘n padda in’ n pot met warm water gooi, spring hy uit, die water is warm, maar sit die padda in koue water en dan op die vuur, sit hy gelukkig daar tot hy dood kook. Die truuk klink vir my soos ‘n series van klein geveggies om ons gewoond te maak en as ons weer ons oë uitvee is ons ons taal kwyt.

Willem ·

Hulle sê net die eerste semester,nee ons is nie onnosel nie,as dit werk wotd dit ń instelling

Jacobus ·

Stellenbosch is besig om homself te vernietig vir korttermyn voordele. Die wêreld is vol afgestudeerdes van Afrikaanse universiteite wat hulle heel goed in die internasionale arena handhaaf – of jy dieselfde kan sê van ……..? Hoe hoog wil julle poppemeesters nóg hê julle moet spring?

4ntj13 ·

Verskonings, verskonings…
Mens sou dink dat lektore op tersiëre vlak skeppender kan dink. In Indië gebruik elke JanRap en sy maat blykbaar ʼn app om in die verskillende tale te kan kommunikeer. Dis mos nou ideaal om so ʼn projek vir Afrikaans (en ander inheemse tale) by ʼn universiteit te loods! Plaas die verantwoordelikheid op die studente om dan te vertaal! Dit bemagtig hulle. Dit maak die opvatting dat als met ʼn lepel ingegee gaan word nietig. As ʼn dosent self Engels is, sal dit dan ook nie meer ʼn probleem vir Afrikaanse studente wees nie. In ʼn praktiese klas kan hulle met oorfone inskakel soos al dekades by die VN gemaak word. En, als raak makliker met elektroniese media!
Groei, mense! Of vergaan dat ons ander kan laat groei!

Jannie van Niekerk ·

engels! engels! engels! engels wat mens sien en hoor.
By die parlement en die Maties word ons Moedertaal vermoor…

Francois ·

As eggenoot van ‘n onderwyseres wat aanlyn klas gee, verstaan ek die praktiese meriete van die maatreël, al hou ek ook nie daarvan nie.

Dis haas onmoontlik om daagliks aanlyn- lesse voor te berei vir meer as een taalgroep. Deeglike aanlynonderrig is baie meer werk as konvensionele onderrig. Vra maar onderwysers/dosente wie erns met hulle werk het!

Blue Butterfly ·

Die sg senaatsvergadering om daaroor te besluit is een groot KLUG. Ons almal weet mos teen hierdie tyd dat deelname oor onteiening, petisies en dies meer bloot geignoreer word as dit van die AFRIKANER GEMEENSKAP afkomstig is. Dit is maar net nog ‘n poging om die padda in die pot nog warmer te maak. Ons taal en kultuur word onderdruk en vertrap maar ONS moet met oop hande staan en gee en bystand verleen as geld benodig word. Om nie eers te praat van die verbod op Afrikaans in sommige vd koshuise nie – met die verskoning dat daar ‘n “MISVERSTAND” in hierdie verband is. US se verskonings en redenasie is belaglik en ‘n bespotting van ons intelligensie. Ek is GATV OL vir die regering, US, EFF en al die papbroekige liberale afrikaners.

Mariana ·

Wat de hel het taal met Covid te doen. Nee regtig hulle moet aan beter verskonings dink. Als net om die res tevrede te stel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.