US ‘weerspreek homself’ met nuwe taalbeleid

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

AfriForum en Solidariteit Jeug sê hulle is ongelukkig oor die voorgestelde nuwe taalbeleid van die Universiteit Stellenbosch (US), waar Afrikaans weer eens aan die agterspeen moet suig. Die nuwe taalbeleid is Donderdag amptelik deur die raad met ʼn geweldige meerderheid goedgekeur.

Volgens Bernard Pieters, bestuurder by AfriForum Jeug, is die taalbeleid só geskryf dat selfs indien so min as twee klasse by die US in Afrikaans aangebied word, dit basies voldoen aan alle aspekte van die nuwe beleid. “Die US sê dat hulle meertaligheid wil bevorder, maar deur die Afrikaanse aanbod te verminder en af te gradeer, voldoen die universiteit verseker nie aan die woordeboekdefinisie van ‘bevorder’ nie,” sê Pieters.

Die US onderneem in die nuwe taalbeleid om die drie amptelike tale van die Wes-Kaap, waaronder Xhosa, Engels en Afrikaans, te gebruik en te bevorder.

Pieters sê die universiteit weerspreek homself egter deur te sê dat die taal wat in die studentegemeenskappe (koshuise en privaatorganisasiewyke) gebruik word, almal moet insluit en in staat stel om deel te neem. Hy is van mening dat hierdie enkele sin gebruik kan word om die eksklusiewe gebruik van Engels by en in alle fasette van die US se struktuur te verdedig, sou dit in regsaksie aangeroer word.

Paul Maritz, die hoof van Solidariteit Jeug, meen ook die toenemende verengelsing van die US is hartseer.

“Die universiteit neem nie sy omgewing in ag nie en mens moet ook in ag neem dat die Wes-Kaap meer as driekwart Afrikaans moedertalig is. Die universiteit gaan eintlik net mense wat die taal die nodigste het, uitsluit,” sê Maritz.

“Solidariteit Jeug neem hierdie besluit van die US as bevestiging dat Afrikaans nie deur staatsinstellings gered of beskerm gaan word nie. Ons moet eerder geld, moeite en momentum agter ons eie instellings instoot as ons wil hê Afrikaans moet aanhou funksioneer op die hoogste vlak.”

Volgens Pieters is AfriForum Jeug vir die afgelope 11 jaar reeds betrokke by die US se taalstryd, maar dié stryd is nou verby.

“Daar is vir jare vergaderings gehou en voorleggings gemaak wat op dowe ore geval het. Ons as AfriForum Jeug sal ons nou toespits op die behoud van Afrikaans, met die doel om dit in die toekoms weer as gelyke taal te herstel onder ’n bestuur wat fokus op akademiese vooruitgang eerder as politieke ideologieë.”

Ook die DA meen daar is niks te vier vir Afrikaanssprekende studente in die US se nuwe taalbeleid nie. “Die beleid sit bloot die ideologiese proses voort wat in 2016 onder rektor Wim de Villiers begin is om die universiteit heeltemal te verengels, met Afrikaans en Xhosa wat as goedkoop versierings ingespan word om hierdie agenda te bevorder,” sê dr. Leon Schreiber, die DA se kieshoof in die Wes-Kaap.

Die DA sal daarom voortgaan om ʼn sterk netwerk en vertrouensverhouding met US-studente te gebruik om die situasie op die kampus te monitor sodat enige diskriminasie teen Afrikaanse studente onmiddellik hanteer kan word.

Die DA en StudentePlein gaan intussen ook voort met die hofsaak teen die US se misbruik van die Covid-19-pandemie om weg te doen met nuwe Afrikaanse leermateriaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

casper ·

Ek soek nou die 3e jaar Chemie handboeke in Xhosa !!!!
Onthou die spul daarbo het mos nou gepraat en dit op skrif gestel !!!!

VaalDonkie ·

Ons het hom al in die 70’s probeer skryf, maar toe “liberation before education” hulle mos vir ons

marbacca ·

Ek is trots Afrikaans, en verstaan nie hoekom ons cANCer regering probeer om Afrikaans nie as inheemse taal te klassifiseer nie – dis geheel en al belaglik.

Wanneer dit egter kom by die Universiteite sien ek wragtig nie die nood om bv. Ingenieurswese in Afrikaans te kan swot nie – die hele industrie daar buite is Engels (veral as jy enige planne het om buite Suid Afrika te werk) – wat studeer in Afrikaans baie keer ‘n algehele dwaasheid sal maak. Afrikaanse terminologie is dikwels onherkenbaar van die Engelse, en dus kan mens moontlik baie sukkel om aan te pas in meeste werksomgewings.

Al is ek pro-Afrikaans sal ek altyd verkies om eerder in Engels te swot – tensy ek iets swot wat ek spesifiek die Afrikaanse kennis en terminologie voor nodig sal hê.

Robert Sydney ·

Vir bykans ‘n honderd jaar was al Stellenbosch se kursusse in Afrikaans. Ek self het daarna in Londen, by MIT en in Harvard gewerk sonder enige taal probleme. In oa Franse , Duitse , Nederlandse ens universiteite hoor jy nie ‘n woord Engels nie en hulle funksioneer baie goed dwarsdeur die wêreld.

Nico ·

Stem 100% saam dat ingineurswese nie altyd haalbaar is in Afrikaans. My seun wat elektroniese ingenieurswese by tuks geswot het was dit beter in engels omdat die termelogie beter verstaanbaar in engels is.

Pieter9 ·

As ek kon het ek my studiegeld terug gevra… Hulle dink ons verstaan nie wat ons lees. Sal maar met ‘n nuwe storie vorendag moet kom want ons sien dwarsdeur hierdie een.

Nico ·

Daar word ook gesê dat Afrikaans ‘n uithemese taal is, ek is trots op my taal, afrikaans bestaan uit Vlaams, Hollands en Duits.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.