US-werker sien sewe rektore kom en gaan

Basil van Wyk (Foto: Universiteit Stellenbosch)

’n Werknemer by die Universiteit Stellenbosch (US) het in sy 50 jaar by dié universiteit sewe rektore sien kom en gaan. Nou werk hy aan ʼn boek oor sy lewensreis by Maties.

Basil van Wyk, ’n administratiewe beampte en geboubestuurder van die RW Wilcocks-gebou in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, was 12 jaar oud toe hy by dié universiteit begin werk het.

“Ek het skool verlaat toe ek in graad ses was. Ek het grootgeword by my ouma en oupa in Kylemore (in die Wes-Kaap), maar hulle het finansieel swaargekry en ons het erg daaronder gely. Daar was dikwels nie kos op die tafel nie en soms het ek gewonder hoe ons familie sou oorleef,” vertel Van Wyk. Dié daaglikse stryd is die rede dat hy sy droom om ʼn onderwyser te word moes laat vaar en skool verlaat het om ’n inkomste te verdien en tot die huishouding by te dra.

Van Wyk onthou nog die boom naby die Admin A-gebou op kampus waar hy destyds vir sy eerste werksdag aangetree het. “Langs daardie boom was daar ’n klein hokkie waar die toesighouer gesit het as hy verf vir die verwers gemeng het. Destyds is die geboue altyd grys geverf en die vensterrame wit. Ons het nie steierwerk gebruik nie, maar slegs lang lere om by die hoogste plekke by te kom,” verduidelik hy.

“Dit was baie gevaarliker om op hierdie lang lere te werk, maar ons het nie ’n keuse gehad nie: óf jy aanvaar die werksgeleentheid óf jy sit sonder werk en werk was baie skaars.”

Van Wyk se werk was om die swaar lang leer vas te hou terwyl die verwer sy werk voltooi. Wanneer die verwer een deel voltooi het, sou hy afklim en Van Wyk sou die leer na ’n ander afdeling verskuif sodat die verwer weer kon opklim om ’n nuwe deel te verf.

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Wanneer Van Wyk ’n blaaskans sou neem, sou hy deur die universiteit se tuine stap. “ Dan vergeet ’n mens sommer van die swaarkry wat jou agtervolg.”

Van Wyk het destyds reeds besluit om ’n sukses van sy lewe te maak. “Om suksesvol te wees, moet ’n mens hard werk en vasberade wees om jou einddoel te bereik. Ander mense gaan jou nie motiveer nie. Jy moet jouself motiveer. My motivering was die swaarkry wat ek my gesin moes sien verduur weens ’n tekort aan geld.”

Hy vertel dat hy besluit het om harder as al die ander werkers aan die universiteit te werk, aangesien hy geen kwalifikasie agter sy naam gehad het nie. “Ek het geleer om met my oë te ‘steel’ en te leer hoe om verskeie dinge te doen ten einde ’n sukses te maak van my loopbaan.”

Van Wyk het ook verskeie kursusse voltooi en het tien jaar gelede graad nege deur die ABET-program geslaag.

Vandag is Van Wyk ’n trotse pa van twee dogters en ’n seun nadat hy 41 jaar gelede met sy vrou, Pauline, getroud is. Sy naasoudste dogter het self ’n graad aan die US behaal waarna sy ’n nagraadse diploma in Insolvensiereg aan die Universiteit van Johannesburg voltooi het.

Sy oudste dogter werk as ’n belastingkonsultant en sy seun is ’n sweiser. Een van Van Wyk se ses kleinkinders voltooi ook tans sy BRek-graad aan die US.

Die universiteit vertel op sy webblad dat Van Wyk op kampus bekend is vir sy vermoë om ander te laat lag, asook sy behulpsaamheid. Prof. Anthony Leysens, die huidige dekaan van die fakulteit, het Van Wyk in 1985 ontmoet toe hy aan die universiteit begin studeer het.

stellenbosch

Universiteit Stellenbosch

“Ek het Basil geken vandat ek ’n student was en hy die fotokopiëring gedoen het vir studente in ons fakulteit. Hy was en is altyd behulpsaam, bereid om die ekstra myl te stap, maar hy vat ook nie nonsens van ons nuwelinge nie. Basil is ’n mense-mens, altyd gereed met ’n glimlag en ’n snaakse storie om jou te laat glimlag. Hy blink uit in wat hy doen en het voortdurend hard gewerk om homself op te hef,” sê Leysens.

Hy vertel dat hy nie beplan om binnekort af te tree nie en werk tans aan ʼn boek oor sy lewensreis. Hy het reeds 73 bladsye vir dié boek voltooi.

“Ek is op my lewensreis geseën en God het altyd ’n deur geopen vir my wanneer ek dit nodig gehad het. As dit nie Sy plan was nie, sou ek nie die dinge gehad het wat ek vandag het nie. Maar dit is ook die opofferings wat my ouma en oupa gemaak het en al hul pogings om my te help met hul beperkte kennis, wat my gemaak het wie ek vandag is.”

Prof. Nico Koopman, viserektor van sosiale impak, transformasie en personeel, het Van Wyk namens die rektor se bestuurspan gelukgewens met 50 jaar by die universiteit.

“Ons vier ons kollega, Basil van Wyk, wat hierdie instelling 50 jaar gelede aanvaar het as sy werknemer van keuse. Hy het hier begin as ’n jong man en stel ’n voorbeeld wat studente en personeel inspireer. Hy is een van ons grootste Maties en dit is ’n eer om hom ’n kollega te noem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Griet ·

groot RESPEK vir jou Basil van Wyk, dit wil gedoen wees! Wens daar was meer mense, soos jy!

Francois le Cochon ·

Welgedaan my maat. Jy kon ook soos baie ander in die son gesit het en gewag het op ‘n beter lewe, en ander geblameer het omdat jy niks het nie, en ook elke moontlike geleentheid gebuik het om te “demand” vir als onder die son. Jy is ‘n bewys dat elke persoon vir sy eie lewe verantwoordelik is. Weereens geluk.

Baie baie geluk ·

Baie baie geluk Basil, alles het by 1 klein puntjie begin, jy het gekies om ‘n sukses te wees. Dit is weereens een van die mooiste voorbeelde van maak nie saak wat ek doen, solank ek trots is op wat ek doen en altyd probeer om beter te doen en goed aan ander te doen, sal jy suksesvol wees met wat jy doen, maar nie net as mens en werk nie, maar in geheel sal jy nou ‘n Goue medalje wenner van ‘n Olympics gewees het, sou dit in dieselfde maat gemeet kon word. Jy is dus ‘n Goue medalje in Sukses, wow ‘n goeie voorbeeld en goeie motivering.

Johanna Botha ·

En hier word gelde gesteem van UJ ….kyk #UJfraud …wat n SKANDE !

JohanR ·

Hoop jy is nog daar Basil van Wyk, om prof. Anton van Niekerk te sien gaan? Waai hom goodbye namens die hele Suid Afrika!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.