Utrecht al ʼn week lank sonder ʼn druppel water

‘n Straat in Utrecht. (Foto: Verskaf)

Die gemeenskap van Utrecht in KwaZulu-Natal sit al vir die tweede keer hierdie jaar sonder water, as gevolg van stakende werkers by die munisipaliteit. Nou oorweeg die gemeenskap regstappe, asook ʼn klag by die Menseregtekommissie.

In ʼn verklaring van die Amajuba-munisipaliteit, wat Woensdag op die I care Utrecht-groep op Facebook gedeel is, het die munisipaliteit eers die watertekort aan ʼn gebarste pyp toegeskryf. Die munisipaliteit sou die saak so gou moontlik regstel. Verskeie inwoners het egter in antwoord hierop gesê dat die munisipaliteit besig is om “blatante leuens” aan die gemeenskap te verkondig.

Vrydagoggend het Mabaso Ayanda, namens die munisipaliteit, in ʼn tweede inskrywing op dié blad erken dat die watertekort die gevolg van ʼn onwettige staking onder die munisipaliteit se werkers is. Dié werkers staak glo oor lone en omdat hulle nie wil hê dat werkers wat buite Utrecht woon, vir die munisipaliteit mag werk nie. “Die staking het veroorsaak dat die gebarste pyp nie reggemaak is nie, en dus het die reservoir leeggeloop,” het die verklaring gelui.

Gevolglik sit die dorp al ʼn week lank sonder ʼn druppel water. In April vanjaar was die dorp drie weke lank sonder water toe werkers oor lone gestaak het. Destyds het die werkers die watertoevoer na die dorp afgesny. Die gemeenskap het toe ʼn kriminele saak aanhangig gemaak by die polisie, maar dit is nooit opgevolg nie.

Sanet Bezuidenhout, ʼn inwoner op die dorp en eienaar van die Owl Cabins-gastehuis, het Vrydag emosioneel geraak toe sy met Maroela Media gesels het. “Die hekke by die waterwerke is gesluit en ons word as gyselaar aangehou. Die dorp is een van die plekke in die provinsie wat geoormerk is vir toerismeontwikkeling, maar hoe ontwikkel jy ʼn dorp en help die arm mense as daar nie aan basiese behoeftes voldoen word nie?”

Sy vertel sy het ʼn boorgat op haar erf, wat sy gebruik vir haar eie behoeftes en ook om water aan dorpsmense uit te deel. “Maar die water in die boorgat is ook besig om op te droog. Wat van die provinsiale hospitaal? Hulle het nie ʼn boorgat nie en hulle bedien ʼn groot landelike gebied. Hier is ook ʼn verswakte sorg- ouetehuis op die dorp wat nou sonder water moet klaarkom. Omtrent 60% van die inwoners daar is in doeke.”

Bezuidenhout sê daar is tans ʼn projek op die dorp wat 560 eenhede oprig vir laekoste behuising. “Daar is reeds te veel druk op die munisipale stelsel soos dit nou is. Ons dam is leeg, die Buffelsrivier én die reservoir is leeg. Dit is verskriklik droog hier. Hoe gaan die dorp vir nóg mense kan sorg?”

Sy sê die arbeiders betrokke by dié projek klop boonop by haar aan vir water.

Die munisipale bestuurder van Amajuba sou inwoners Vrydag teen 16:00 in die Utrecht-stadsaal toespreek tydens ʼn gemeenskapsvergadering.

“As ons nie nou begin om voet neer te sit nie, is ek bevrees dat die ding gaan draaie loop wat dit nie moet nie,” het Bezuidenhout gesê. “Daarom wil ons ʼn regsaksie begin en die Menseregtekommissie nader.”

Die verantwoordelikheid oor wie aan Utrecht water moet verskaf het ook die afgelope paar maande van plek tot plek geskuif. Eers was uThukela Water, in Newcastle, so 50 km buite Utrecht, verantwoordelik vir die water. Daarna is dit na die Amajuba-munisipaliteit geskuif, omdat die Amajuba- en Ummzinyathi-munisipaliteit na bewering nie hul rekeninge by uThukela kon betaal nie, omdat daar nie geld beskikbaar is nie.

Die plaaslike koerant, Newcastle Advertiser, het ook Donderdag berig dat Eskom die Newcastle-munisipaliteit se krag sou afsny. Dié munisipaliteit vereffen glo nie sy maandelikse uitgawes by die kragverskaffer nie en sy skuld staan tans op R200 miljoen. ʼn Saak dien tans in Pietermaritzburg se hooggeregshof in dié verband.

Die Amajuba-munisipaliteit het nog nie op navrae van Maroela Media gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Hanlie ·

Dit is omdat verkeerde mense wat nie 2 en 2 bymekaar kan sit nie die poste vul. Sonder elektrisiteit kan ‘n mens nog ‘n plan maak, maar sonder WATER ……………!!!!!

Alwyn du Preez ·

Eenvoudig!
Begin persone met die nodige kwalifikasies en ondervinding, ongeag kleur of assosiasie , indiens neem . Bygesê, dit sal egter nie gebeur nie.

Snoefie ·

Nou toe nou! Tweede lone staking in een jaar? Deel bedankings vorms uit. As hulle so ongelukkig met hulle werksomstandighede en mense van buite is kan hulle bedank en ses maande verlof twee keer per jaar elke jaar aan hulself toeken. Die dorpenaars wat opbetaalde munisipale rekeninge het kan gerus daaroor stem.

MCS ·

Ag dit is niks snaaks vir ons inwoners van Witbank nie. Hier gebeur dit minstens twee keer ‘n maand vir die afgelope 15 jaar. Mens moet privaat mense huur om jou JOJO vol tekom maak ander sal ‘n mens vergaan.

Boervrou ·

Ons het lank in n dorp gebly,nou bly ons op n plaas.ons kan net dankie se ons sukkel nie soos die dorps mense met water,krag en vullisverwydering nie.Strekte vir almal.

Amelia ·

Hier in Pretoria het ons water maar watermeter foutief ook word daar nie gereeld elektriese lesing gevat nie en het 2 maande terug lesing vanaf Januarie gevat waarvan n groot gedeelte reeds betaal is volgens skatting

JR ·

Ek lees graag die kommentaar maar wat help dit ons lewer kommentaar niks word daar aan gedoen nie so gehoop al ons kommentaar beland in die parlement

Survivor ·

Laat die belastingpyp ook bars! Hoekom betaal vir niks? Wanneer die werkers en raadslede nie meer betaal word omdat daar nie geld is nie, sal als gou herstel word sodat die geld weer kan inkom!

GL ·

Daar is net een antwoord maar ongelukig het dinge al te ver gegaan om om te draai.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.