UV gekap oor kansellasie van Gangster State-praatjie

Betogers ontwrig die bekendstelling van Pieter-Louis Myburgh se boek Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture by Exclusive Books in Sandton City vroeër vanjaar. (Foto: Penguin Random House)

Penguin Random House (PRH), uitgewer van die omstrede boek Gangster State, sê eerder as om ʼn paneelbespreking oor die boek te kanselleer, moes die Universiteit van die Vrystaat (UV) die reg tot vryheid van spraak verdedig het.

Die praatjie sou volgende Donderdag op die universiteit se kampus in Bloemfontein plaasgevind het.

PRH sê in ʼn verklaring hy is geskok deur die universiteit se besluit om die geleentheid te kanselleer, en dít boonop sonder om die uitgewer óf skrywer Pieter-Louis Myburgh daaroor in te lig.

“Ons glo die universiteit het die geleentheid gekanselleer op die aanbeveling van sy veiligheidsdepartement. Dit is die universiteit se plig om op te staan vir vryheid van spraak en sy kantoor vir veiligheid moet daardie reg verdedig, sou dit nodig wees,” het Steve Connolly, uitvoerende hoof van PRH, gesê.

Connolly het gesê die eerste Kaapstadse bekendstelling van Gangster State is ʼn ruk gelede ook op aanbeveling van die V&A Waterfront se veiligheidspan gekanselleer, maar dit het vreedsaam verloop ná die geleentheid na ʼn ander plek geskuif is.

“Ons het nie al die besonderhede nie, maar die besluit het al die kenmerke van lafhartigheid weens druk van magtige rolspelers in die Vrystaat,” het Connolly gesê.

Myburgh se boek, Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture, bevat verskeie skokonthullings oor Magashule, ʼn voormalige Vrystaatse premier en ʼn man wat deur baie mense as Suid-Afrika se gevaarlikste politikus beskryf word. Magashule is ook glo steeds uiters invloedryk in die provinsie.

(Foto: UV/Facebook)

Lacea Loader, woordvoerder van die universiteit, het by navraag gesê die UV doen risikobepalings vir alle geleenthede om die veiligheid van sy studente, personeel en infrastruktuur te verseker. Besluite word gegrond op inligting oor ʼn spesifieke geleentheid, asook op hoe die gemeenskap daaroor voel.

Loader het gesê in dié geval is bevind dat die geleentheid moontlik ontwrig kan word en gevaarlik kan wees.

“Hoewel die geleentheid na die tweede semester uitgestel is, bevestig die universiteit net weer sy verbintenis tot vryheid van spraak en die behoefte om dit binne ʼn spesifieke konteks te bepaal,” het Loader gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

marous ·

Bemark die boek oorsee sodat diegene wat hul swaar verdiende geld skenk aan die ashoop land presies sien waar gaan dit heen . Hier gaan dit geen impak maak nie , want diegene wat direk genoem word swaai steeds septer , en dit sal nooit verander nie .

JohanL ·

Baie lafaards wat by UV rondloop deesdae – tye het verander.

marco polo ·

Dis nou dieselfde UV vir wie Afriforum wil verplig om MT Steyn se standbeeld te behou? Iewers het n paar ruggrate verlore geraak.

Dries ·

So word UV se bestuur aandadig tot toesmeerdery van korrupsie.

Koos de Meyer. ·

Ongelukkig sit ons met ‘n klomp hensoppers wat nie hulle man kan staan nie, jammer dat dit so moet wees maar dis hartseer.

Retha ·

Kovsies het agteruit gegaan sedert Freek Fourie nie meer die rektor van die universiteit is nie.

Johan ·

Dit beteken nou indirek dat staatskaping, korrupsie en diefstal verdedig word ongeag of dit waar is of nie..
“Shame on you”

klip in die bos ·

Hierdie gebeure moet as ‘n oorwinning vir die skrywer en uitgewer gesien word. Dit gaan die boek se verkope nou verdubbel nie net in SA nie, maar ook in die buiteland. Die geskiedenis bewys dat die pen magtiger is as die wapen in vredestyd.

Andreas ·

Dit lyk dan nou die probleem is baie, baie groter en strak baie wyer as wat in die boek oor geskryf word. Dalk sal daar ‘n paar opvolgreekse nodig wees om die hele omvang te verstaan.

Hb ·

Hoe kan julle geskok wees. Dis logies dat met julle gaan gebeur soos wat met Steve gebeur het. Dis baie jammer . Baie erg

PJC ·

Kyk net wie is aan die stuur van sake by die universiteit dan maak alles sin soos met die verwydering van MT Steyn se standbeeld.

alwyn burger ·

Kry die eens hoogaangeskrewe UOVS nou opdragte van die ANC se Sekretaris-Generaal !??

Bekommerd ·

Nes die hele SA, word die UFS ook gyselaar gehou deur ‘n handjievol geweldadige radikale ekstremiste. En probeer hulle nou vasvat, is dit so goed jy gooi ‘n klip binnein ‘n bynes op ‘n warm dag. Die hele regering is ruggraadloos en plein slapgattig.

Gewese Kovsie ·

Ek kry skaam om te sê ek het al my grade daar ontvang en geglo dat hulle groot voorstanders was van vryheid van spraak. Ek het ook daar gewerk en het bedank toe ek sien hoe ruggraatloos topbestuur is. Prof Jansen se legacy duur voort. Hoe hartseer. UV ek smeek jou om op te staan teen hierdie snotkoppe wat niks wil leer nie en net chaos wil skep. Het niemand by die UV meer selfrespek nie?

Eddie de Jager ·

Die grootste sonde is dat die universiteit polities gekaap is. Studente moet in ‘n vry en oop omgewing denke kan vorm. Wat steek UV weg? Word die instansie in die boek impliseer? As ‘n oud Vrystater kan ek sien wat die nalatenskap is van ‘n regime wat teer op hulpbronne en na uitputting soos ‘n parasiet migreer nie die volgende gasheer om op te teer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.