UV kyk na skadevergoedingseis

Cobus Muller en Charl Blom Foto: all4women.co.za

Cobus Muller en Charl Blom Foto: all4women.co.za

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) en sy rektor, prof. Jonathan Jansen, is besig om regsverteenwoordigers te raadpleeg oor die eisbrief vir R1 miljoen wat op hulle beteken is deur twee oudstudente.

“Prof. Jansen en die senior leierskap van die UV is in gesprek met die universiteit se regsverteenwoordigers en is geadviseer om in die stadium nie die aangeleentheid in die openbaar te bespreek nie,” het Lacea Loader, woordvoerder van die universiteit, gesê.

Cobus Muller en Charl Blom, oudstudente van die UV, eis skadevergoeding van R1 miljoen van Jansen en die universiteit.

Die partye is twee weke gegee om die eis uit te betaal. AfriForum Jeug se regspan het ’n eisbrief op Jansen beteken. Dit kom nadat Muller en Blom verlede jaar van poging tot moord aangekla is, maar deur die hof asook die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie onskuldig bevind is.

“Muller en Blom is sonder prosedure of verhoor van die kampus verban en geen geleentheid gegun om hul kant van die saak te stel nie. In hierdie tyd is hulle openlik uitgemaak as misdadigers. Hulle kon nie hul nagraadse studies voortsit of hul gradeplegtigheid bywoon nie,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Die oudstudente eis R500 000 elk vir vermoënskade en injuria wat hulle gely het. Dit sluit verkwiste uitgawes, vertraagde toetrede tot die arbeidsmark en ’n aantasting van hul menswaardigheid en reputasie (dignitas en fama) in.

“Persone in magsposisies moet verantwoordelik en onpartydig optree. Twee studente se toekoms kan nie die prys vir politieke gewin wees nie, daarom is dit vir ons van groot belang as jeugorganisasie om Muller en Blom by te staan,” het Maree gesê.

Indien die eisbedrag nie binne die twee weke betaal word nie, sal ʼn dagvaarding teen Jansen en die UV uitgereik word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Bruno Stef ·

Die ou jonathan jansen wou mos voorbarig en beterwetig wees straf hom .Dit is nie nou n kwessie van kollektiewe verantwoordelik heid nie staan Pa vir jou sondes en skroef sommer terseldetyd die aanvanklike klaer op vir sy spul leuens.

Christo van Heerden ·

Jansen is ’n rassis. Hulle moet hom afdank by sy werk want hy is dit nie waardig nie. Hy neuk alles op en skep ’n teelaarde vir swart rassiste by die universiteit

Kaspaas Breekwater ·

Hoekom net R500000 ? Ek sou dit baie meer gemaak het – al is en was hulle onskuldig sal die onregmatige stigma vir altyd aan hulle klou. Ek dink “jonathan van die oos rand” praat meer sense as “jonathan van die UOVS”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.