UV rou ná dood van twee studente

universiteit van die vrystaat 3

Die hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat. (Foto: UV/Facebook)

Die bestuur van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het sy skok en hartseer te kenne gegee ná die dood van twee studente in afsonderlike voorvalle in Phuthaditjhaba en op die Bloemfontein-kampus.

Volgens die universiteit was ʼn groep studente verbonde aan die Qwaqwa-kampus – maar wat nie op die kampus woon nie – Woensdag in die vroeë oggendure betrokke in ʼn “sinnelose aanval” wat tot die dood van een student gelei het.

Nog twee studente is in ʼn bedenklike toestand in die hospitaal.

“Die polisie ondersoek die betreurenswaardige voorval. Die bestuur van die Qwaqwa-kampus is in verbinding met die familielede en steun word vir die geraakte studente en hul families gegee,” lui ʼn verklaring van die UV.

In die tweede voorval is die liggaam van ʼn student wat in een van die koshuise op die Bloemfontein-kampus woon, gisteroggend in sy kamer aangetref. Dit is in hierdie stadium onduidelik wanneer hy gesterf het.

Die polisie ondersoek ook dié voorval en die UV sê nes met die voorval in Phuthaditjhaba, “kan meer besonderhede nie in hierdie stadium bekend gemaak word nie”.

“Die universiteitsbestuur betuig sy diepe medelye met die families, naasbestaandes en vriende van die twee studente en wens hulle krag in hierdie moeilike tyd toe. Hulle sal soveel as moontlik ondersteuning ontvang.”

Die UV sê sy bestuur is ook in verbinding met die twee studente wat in die Phuthaditjhaba-aanval beseer is en wens hulle spoedige beterskap toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.