UV se raad sê ja vir Engels

Universiteit van die Vrystaat Foto: UV, Facebook

Universiteit van die Vrystaat Foto: UV, Facebook

Die raad van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het ʼn voorstel dat Engels die primêre medium van onderrig moet word, goedgekeur.

Die raad het Vrydag tydens ʼn vergadering riglyne uit die Taalkomitee se verslag goedgekeur. Daar is beslis “Engels word die primêre medium van onderrig in voorgraadse opleiding, asook – soos dit reeds tot ‘n groot mate gebeur – in nagraadse opleiding”.

Die raad het gesê die UV moet ‘n “taalryke omgewing skep en bevorder wat tot veeltaligheid verbind is, met besondere aandag aan Afrikaans, Suid-Sotho, Zoeloe en ander tale wat op die drie kampusse verteenwoordig word”.

‘n Uitgebreide studieklas-stelsel sal vir eerstejaarstudente in Afrikaans, Suid-Sotho, Zoeloe en ander tale beskikbaar wees om die oorgang na onderrig in Engels te “vergemaklik”. Die raad het gesê die parallelle voertaalbeleid in bepaalde professionele programme sal voortgaan, gegewe die duidelik gedefinieerde Afrikaanse markte wat sodanige taalspesifieke graadvoorbereiding tans steeds toepaslik maak.

Die universiteit se administrasietaal sal voortaan Engels wees. “Die Engelse voertaalbeleid sal met buigsaamheid en begrip in werking gestel word, eerder as ‘n onbuigsame reël wat nie die omstandighede in ag neem nie.”

Die universiteit het gesê die besluit van die raad is geneem nadat die universiteitsbestuur in Junie ʼn mandaat gekry het om die institusionele taalbeleid te hersien. “’n Taalkomitee is gevolglik deur die universiteitsbestuurskomitee (UBK) tot stand gebring om ‘n omvattende hersiening van die bestaande parallelle voertaalbeleid te onderneem en om aanbevelings oor die pad vorentoe met betrekking tot die universiteit se taalbeleid te maak.”

“Hierdie belangrike en emosionele aangeleentheid is tydens ʼn oop debat van hoë gehalte bespreek en ek is tevrede met die wyse waarop die besluit geneem is,” het regter Ian van der Merwe, voorsitter van die UV-raad, gesê.

Volgens die universiteit het die Taalkomitee ʼn omvattende konsultasieproses met al die belanghebbendes van die universiteit onderneem. “Dit het onder meer verskeie dialoog- en voorleggingsessies, asook ‘n meningspeiling, op al drie kampusse ingesluit. Met die raadsbesluit van 4 Desember 2015 as riglyn, sal die UV-bestuur nou voortgaan om ‘n Taalbeleid te ontwerp wat weer vir stemdoeleindes aan die UBK en die Senaat voorgelê sal word. Die uitslag van die stemming sal tydens een van sy 2016-bestuursvergaderings formeel aan die raad voorgelê word.”

Die universiteit het gesê indien ‘n nuwe taalbeleid in 2016 deur die raad aanvaar word, sal die vroegste moontlike datum vir die inwerkingstelling daarvan Januarie 2017 wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

Kaspaas ·

Die begin van die einde van die UV. Nog ‘n UWC/UJ aan die gebeur.

Pieta ·

Die ‘einde’ het aangebreek toe die ‘deurlugtiges’ by Kovsies destyds besluit het om vir Jansen aan te stel.

elize naude ·

ek leef in ń land waar minderhede beskerm geniet & vrede sedert mensegeheugnis heers…
switserland is ń paar olifantspore groter as die kruger wildtuin en het 4 amtelike landstale (duits, frans, italiaans & retro-romeins), 26 kantone (provinsies) & 2 halwe kantone… elkeen met sy eie regering… in elke kanton word ń eie dialek gepraat & en verskil dikwels van dorp tot dorp & van stad tot stad…
hier heers oneindig veel verskillende tradisies & kulture… maar iets wat almal in hierdie land verbind is solidariteit & respek vir mekaar & ń ander se oortuiging…
geen wonder dat meestal in genève die wêreld se hardekoppe bymekaar kom op neutrale bodem & die switsers verhandel sodat leiers mekaar nie in die hare vlieg nie…
je suis suisse :-)

Alwyn Nel ·

Jonathan Jansen en sy gatgabbas sal beslis eendag hiervoor boet

Ludwig ·

‘n Engelse Kovies? Word dit nou “Couhsies” of somme rnet Kof-SIES!”

Genis ·

Vir al wat dit werd is in hierdie moeras van ‘n ashoop land kan hulle die primêre onderrigtaal maar Grieks ook maak.

Kiewiet ·

As my taal nie goed genoeg is nie….. Is my geld ook nie. Met onmiddelike effek stop ek my aftrekking vir allumni fondse

pieter ·

Jaar: 2018
“Welcome to our Afrikaans students, this is AFR101. We all are here to learn ‘die Taal’ in english….”

Pieter ·

…en ek neem aan met ‘n naam soos Ian van der Merwe is hy baie trots op hom self en het seker die aankondiging in sy gunsteling taal, Engels, gedoen?!

Flippie ·

Ian van der Merwe ‘n regter. Kon net ‘n regter geword het as sy god die ANC is. Die ANC het hom regterkant gemaak nou moet hy sy pond vleis lewer.

Johann Marx ·

Blanke Afrikaners bou ‘n Universiteit. Ontwikkel dit en bou dit uit totdat dit kan meeding met die bestes in die wêreld. Die liberale Engelse ervaar ‘n instroming van “Non-Afrikaans Speaking” massas waarmee hulle nie kan huishou nie, en stroom na die “Afrikaanse” Universiteit toe….waar daar dissipline is. (Gaan kyk maar na elke Afrikaanse Universiteit se getalle statistiek.) Sodra hulle daar kom begin hulle om aan te dring om in “Engels” onderrig te word. Die Universiteit gee toe….en die “massas” stroom in. Die kamtig “engelssprekende” massas neem oor, breek af, stel eise, steek brand, boikot, toyi-toyi, intimideer…..swot nie regtig nie (want hy verstaan “as ek vir my graad betaal…dan moet ek hom kry!!)…..en die standaarde verlaag. Die blanke, hardwerkende, betalende studente vat hulle goed en loop…..en gaan begin ‘n “nuwe” Universiteit êrens anders. Net sodra dit gevestig is en uitstekende resultate lewer….dan kom die liberale Engelse….hulle verander die onderrig taal na Engels…en die massas stroom in….en so gaan dit aan. G’n wonder my ouma-grootjie was nie ‘n groot “fan” van die “Ingelse” nie…

Francois ·

Dit is absoluut noodsaaklik dat die akademiese aanbod by Akademia so gou as moontlik uitgebrei word sodat studente wat in Afrikaans wil studeer, dit kan doen by ‘n instelling waar Afrikaans as voertaal gewaarborg is. Akademia behoort daarna te streef om binne die afsienbare toekoms graadkursusse in Lettere en Wysbegeerte, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (benewens dié wat reeds aangebied word) asook Regsgeleerdheid tot hul akademiese aanbod toe te voeg. Ek is daarvan oortuig dat gerekende Afrikaanssprekende akademici nie sal skroom om by Akademia aan te sluit en sodoende gehalte-onderrig en navorsing in Afrikaans uit te bou nie.

Flippie ·

Dit is hartseerdag in my lewe.

Ek wil nie verder kommentaar lewer nie – dit is soos die dood van iemand na aan my.

Totsiens Kiepesol, Totsiens Landbou fakulteit. Totsiens UOVS. Totsiens Kovsies. Totsiens aan ‘n hersinskim, ‘n droom, ‘ n waan of is ek nou in ‘n nagmerrie.

Ek wil huil ek wil slaan ek wil ontplof ek wil verdwyn ek wil ophou bestaan want my verlede word deur verraaiers ontdaan.

Ian van jou het ek dit nie vewag nie. Ons sal mekaar weer sien.

John ·

Nee wat professor Jansen, sy edele regter Van der Merwe & Kie, die UV is nie die nes waar Afrikaans uitbroei nie. Die Kakies het ook hard gesoek na die oorsprong. Doen so voort. Ons Boere is baie soos die Jode. Uitroei is min. En al moet ons studente in Engels eksamen skryf sal die uitslae goed wees en sal dit nie nodig wees om die punte opwaarts aan te pas soos dit die geval is by baie ander ‘Engelse’ studente nie.

Dywie ·

hoekom het Solidariteit en Afriforum nie ook ‘n referendum gehou soos vir US nie? Ek glo alumni en ondersteuners sou hulle stem kon dik maak voor die Raad hieroor besluit het?

Alana Bailey ·

Hallo Dywie, die Solidariteit Beweging het presies soos vir NWU en US ‘n referendum/veldtog geloods vir die behoud van Afrikaans by Kovsies vanaf 30 Junie vanjaar. Daar is net soos by US en NWU baie sterk standpunt ingeneem vir Afrikaans, maar hierdie raad steur hulle nie daaraan nie. Ideologie en/of politieke punte weeg swaarder vir hulle as taalregte of gehalte onderrig. Skande

Therese van Schalkwyk ·

Nou ja, daar is dit toe so.

As iemand wat van dag een af deur Jonathan Jansen se leuens gesien het, is ek nie geskok of verbaas nie. Net bitter teleurgesteld dat die voorstanders van Afrikaans by Kovsies so ruggraatloos oorgee. Dankbaar vir die goeie tye daar en die puik moedertaalonderrig.

‘n Engelse kampus in die hartjie van die Vrystaat. Goeie genugtig, hoe belaglik klink dit nie. Wie het dit nou ooit kon dink!

Henry ·

Dit wil mos al lyk asof oorle’ Kovsies se voorstanders-van-Afrikaans toe verkies het om hul identiteite af te skud.

Het dit met die Jansen aanstelling vermoed – nou WEET mens.

Wonder ek opnuut oor Eloff, Kgwadi en die ander PK’s by Potjiesdorp se identiteitsbewustheid.

tsk tsk

Therese van Schalkwyk ·

Henry ja, nóú verstaan jy presies wat Hannes Noëth met sy treffende stuk wou tuisbring.

Willem van Rensburg ·

Ek kry nie hierdie inligting op UV webwerf nie. Wie is die lede van die Raad ?

Izzy ·

Stem saam met Francois…..brei Akademia uit so gou as moontlik. As ons wil he dat Afrikaans moet oorleef,sal ons na onsself moet kyk.

anna ·

die begin van die einde van hierdie univ. rugraatloos geen integriteit nie. adverteer luidkeels hulle tekort aan respek vir afr. afr studente gaan almal us toe kom en wanneer akademia reg is gaan us en vrystaat soontoe en einde van uv en us.

Dywie ·

Dankie, Alana! Ek was nie bewus van die referendum vir Kovsies nie. Jammer om te hoor dat die UV Raad hulle nie gesteur het aan die gevoel van die alumni en ondersteuners nie. Ai, ai,ai!

Rupert Ashford ·

Antwoord is Akademia. Maar mense om dit te kan maak het hulle baie geld nodig (onthou geen staatsubsidies). Nou oor daai aftrekorders wat gestop word…..

Francois ·

Rupert, ek stem saam dat die vestiging en uitbou van ‘n private hoër onderwysinstelling ‘n duur oefening is. Derhalwe my voorstel dat Akademia, as eerste stap om hul akademiese aanbod te vergroot, moet fokus op graadprogramme wat, relatief gesproke, nie so ‘n groot kapitaaluitleg verg nie. BComm, BA en LLB is uitermate geskik hiervoor, aangesien dié programme nie byvoorbeeld duur laboratoriums, wetenskaplike toerusting en dies meer benodig nie. Die meeste leermateriaal (byvoorbeeld hofsake vir regstudente) is ook elektronies beskikbaar en hoef dus nie as harde kopieë aangekoop te word nie. Kombineer bogenoemde graadprogramme met telematiese leer in Afrikaans, en jy het die begin van ‘n wenresep.

Bach ·

Skande. Die US raad sit met ‘n beginsellose rektor maar het meer ruggraat as die Kovsies.

Flintstone ·

Ek sien hoe die vrystaatse boere-kinders almal oppad Stellenbosch toe gaan.Dink ‘n bussiediens elke naweek behoort ‘n goeie roep te wees.Op en aflaaipunt:KOVSIES!As oud KOVSIE student is ek bitter teleurgesteld.

Sakkie du Plooy ·

Is dit net nog ‘n stap om Afrikaanssprekende (meestal Afrikaners) uit te jaag sodat standaarde by UV ook kan verlaag na Afrikastandaarde? Ek reken Afrikaners word oral weggewens en weggejaag omdat hulle Christelik-Westerse standaarde wil handhaaf in die Akademiese wêreld sowel as hulle persoonlike en sosiale lewe. En meeste van hulle se werkywer en prestasies stel die middelmatigheid van (akademoliese Engelasprekende studente) in ‘n swak lig. Waarom vlam toyi toyi partytjies gereeld op net voor eksamentye? Is dit omdat studente eenvoudig nie oogewasse is vir die eksamens nie?

Vra maar net ·

Welkom by die “Royal British University of the Orange River Colony”.

heni seemann ·

‘n taal wat gebesig word sterf nie uit nie… hoeveel van diegene wat hier so ‘n bohaai opskop is nie eers in staat om in ordentlike afrikaans met mekaar te kommunikeer nie…

Francois ·

Heni, jy is reg – dit stuit my teen die bors wanneer ek hoor hoe Afrikaanssprekendes hul taal verfomfaai, veral deur die onnodige gebruik van Engelse woorde. Luister maar na baie van ons (sogenaamde) vermaaklikheidsterre wanneer daar met hulle onderhoude gevoer word: alles is ‘awesome’ en ‘amazing’. Dit getuig van intellektuele laksheid wanneer mense op openbare forums nie eers poog om suiwer Afrikaans te praat nie. Maar dit gaan in hierdie debat oor Afrikaans se hoër funksie as universiteitstaal. Die bedreiging van hierdie hoër funksie regverdig myns insiens die bohaai wat daaroor opgeskop word. Die feit dat Afrikaans steeds gebesig word en dus nie sal uitsterf nie, vorm nie die kern van die debat nie. Die feit dat Afrikaans se hoër funksies (wat, terloops, in die Grondwet gewaarborg word) onbeskaamd en dikwels met kwetsende politieke motiewe afgeskaal word, is waaroor die bohaai werklik gaan.

charlie ·

Plan A: Die Grondwet.
Plan B: Akademia
Plan C: Pukke, Maties of Tuks.
n Boer maak n plan.

N.s. Dit blyk in elk geval nie meer die moeite werd te wees om by die Plek te studeer nie-die Standaarde gaan, en het in elk geval alreeds so verswak, @dat n ernstige student nie
Die Plek as voldoende sal beleef nie -die mense wat nie regtig kan of wil presteer nie sal nou baie tevrede voel-dws die wat 4 of 5 jaar op kampus spandeer en niks behaal nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.