UV-taalbeleid dalk weer in die hof

universiteit van die vrystaat 3

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Solidariteit en AfriForum se regspan het Vrydag aansoek gedoen by die konstitusionele hof om verlof om te appelleer teen die hoogste hof van appèl se uitspraak oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Die instellings vra die hof om die UV se besluit om ʼn nuwe taalbeleid te aanvaar, tersyde te stel.

Hierdie aansoek volg ná die uitspraak van die appèlhof op 28 Maart 2017 ten gunste van die UV se nuut aanvaarde taalbeleid waarvolgens Engels met infasering vanaf 2017 ten koste van Afrikaans die enigste primêre taal van onderrig word.

Teen die agtergrond van die grondwetlike opdrag om diversiteit (insluitende taalkundige diversiteit) te bevorder, asook die verskanste reg tot onderrig in ʼn taal van keuse wat redelikerwys uitvoerbaar is, argumenteer Solidariteit en AfriForum dat die UV-raad nie integrasie in klasverband en transformasie van die universiteit kan bereik deur Afrikaanse onderrig te skrap nie.

In sy uitspraak het die appèlhof toegegee dat die erosie van die posisie van Afrikaans as taal van onderrig ʼn regmatige bron van kommer is en dat verskille oor die taalbeleid van die universiteit tot ingewikkelde grondwetlike vrae aanleiding gee. Solidariteit en AfriForum meen dat hierdie standpunte ruimte skep vir sukses met die aansoek om appèl tot die konstitusionele hof. Die twee instellings se regspan is gereed om ten gunste van die reg van Afrikaanssprekende studente op Afrikaanse onderrig in dié hof te argumenteer. Daar word gretig op die konstitusionele hof se besluit gewag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.