UV-taalsaak na appèlhof verwys

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Evert Kleynhans (RooistoelTV) via UV Facebook

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Evert Kleynhans (RooistoelTV) via UV Facebook

’n Volbank regters van die Bloemfonteinse hooggeregshof het vandag beveel dat die Universiteit van die Vrystaat (UV) nie sy nuwe taalbeleid mag implementeer totdat die universiteit se appèl teen ’n vroeëre uitspraak ten gunste van Solidariteit en AfriForum, afgehandel is nie.

Die hof het vandag die Universiteit van die Vrystaat (UV) verlof tot appèl toegestaan nadat AfriForum en Solidariteit die universiteit vroeër hof toe gesleep het oor sy taalbeleid. Dié nuwe taalbeleid bepaal onder meer Afrikaans as onderrigtaal sal vanaf 2017 uitgefaseer word.

Volgens Alana Bailey, adjunkhoof van AfriForum, wou die UV nie ’n onderneming gee dat die nuwe taalbeleid nie toegepas sal word tot tyd en wyl die appèl afgehandel is nie. “Ons het geen keuse gehad nie as om die hooggeregshof met ’n dringende aansoek te nader ten einde te verseker dat diegene wat van voornemens is om in 2017 in Afrikaanse te studeer, wel die reg daartoe sal hê,” het sy gesê.

AfriForum Jeug het in Augustus glo klagtes van studente uit verskeie fakulteite van die UV ontvang dat klasse wat oorspronklik in Afrikaans aangebied is, toenemend slegs in Engels aangebied word. Dít het gebeur ondanks die uitspraak deur die hooggeregshof op 21 Julie 2016 téén die UV se nuwe taalbeleid, wat dit duidelik gemaak het die UV moet meertalige onderrig bevorder.

Bailey het gesê die saak word deur die hof as dringend beskou, aangesien aansoeke deur studente om tot die universiteit toegelaat te word teen Oktober sluit. Studente sal van hul grondwetlike taalreg ontneem word as ʼn nuwe taalbeleid geïmplementeer word, het sy gesê.

Volgens Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, is dit duidelik dat, waar prakties haalbaar, die grondwetlike reg op moedertaalonderrig aktief beskerm en opgeëis sal moet word. “Afrikaans as onderrigmedium het ’n speelbal geword in ’n kwalik verbloemde politieke aanslag op Afrikaanse kampusse,” het hy gesê. “Harde werk en vasberadenheid van Afrikaanssprekendes wat wil sien dat die taal op tersiêre vlak behoue bly, is nou nodiger as ooit tevore.”

Die kostebevel was Maandag in AfriForum en Solidariteit se guns.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JC ·

Mooi Solidariteit en Afriforum!! EK IS BLY OM TE SE EK WAS DAAR TOE GESKIEDENIS GEMAAK IS!
Ek is bitter trots op julle!Dit is duidelik dat die UV ‘n verlore stryd baklei.
Die veldslag EN die oorlog is alreeds verlore in my opinie.
Afrikaanse studente MOET egter aandring op onderrig in hul moedertaal, anders is dit alles akademies van aard en SAL daar beslis gepoog word om steeds afbreuk te doen aan Afrikaanses se grondwetlike moedertaal-onderrig reg! Ek glo wel dit is die geval, (dat Afr studente baklei) veral a.g.v die briljante werk van Afriforum Jeug.
Viva Afrikaans!! Viva Afriforum!! Viva Afrikaanses!!

Maria van Dieweeck ·

Ditto JC! En elke Suid Afrikaner moet moedertaal onderrig kan ontvang!

Alida ·

Ek hoop die UV moet al die kostes betaal sodat hulle vir eens en vir altyd n les kan leer.

Fanie nKemp ·

Baie dankie AfriForum en Solidariteit dat julle so onvermoeid op ‘n beskaafde, verantwoordelikke wyse voortveg vir Afrikaanssprekendes en daardeur ook vir ander Inheemse taaalsprekers se regte op moedertaal onderrig.
Nou moet Afrikaanssprekende studente hulle kant bring en lojaal bly aan hul moedertaal en so verseker dat Afrikaans behoue sal bly as onderrigtaal ook vir toekomstige geslagte.
Sterkstaan almal!
Fanie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.