UWK skort lesings op

'n Brand binne 'n gebou op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) tydens studentebetogings. (Oktober 2016). Foto: Twitter

‘n Brand binne ‘n gebou op die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) tydens studentebetogings. (Oktober 2016). Foto: Twitter

Ná weke lange ontwrigtings en gewelddadige betogings het die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) Woensdag al sy lesings opgeskort weens bekommernis oor veiligheid by die instansie.

Die universiteit het gesê die raad het ʼn dringende vergadering gehou om te besluit oor die pad vorentoe en het op skrif op al die studente se eise gereageer. “Vandag [Woensdag] het die situasie op die kampus vererger. Dit het duidelik geword dat om net voort te gaan met regstreekse akademiese lesings die veiligheid van studente en personeellede ernstig in gedrang sal bring,” het die UWK in ʼn verklaring gesê.

“Aangesien ons naby aan die einde van ons akademiese onderrigprogram was, was baie van die modules al reeds of byna afgehandel. Die dekane het aangedui dat hulle in ʼn posisie is om te begin voorberei vir formele eksamens.” Die UWK het gesê besluite oor die metodes om die akademiese program te voltooi sal aan die fakulteite oorgelaat en deur die dekane en hoofde van die departemente bestuur word.

Studente sal kan besluit of hulle volgende maand wil eksamen skryf of eers in Januarie 2017. “Die eerste sessie eksamens sal op 7 November 2016 begin en ʼn eksamenrooster sal binne die volgende paar dae uitgestuur word. Ons sal voortgaan om die situasie te monitor en as die omstandighede op die kampus onstabiel bly, sal alternatiewe eksamenlokale aangekondig word,” het die universiteit gesê.

“Die tweede eksamensessie sal waarskynlik op 10 Januarie 2017 begin. Bevestiging van die datums en tye sal betyds aangekondig word.”

Die universiteit het vroeër gesê petrolbomme is by sy Belville-kampus gevind. Studente en personeellede is gewaarsku om weg te bly van die kampus ter wille van hul veiligheid. Die UWK-bestuur het besluit om nie ʼn beplande massa-vergadering gister by te woon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marinda ·

Kan die weermag ni ingestuur word ni? Waar is die polisie se lemmetjiesdraad?

John ·

Gaan dit dieselfde vraestelle wees wat albei groepe skryf? Dan was al die betogings tog die moeite werd? In Kenia is daar groot glo geld te maak in die verkoop van vraestelle, in der mate dat skeepshouers met gewapende veiligheidsmagte nou gebruik word om vraestelle te bewaak. Ha, ha…

Basson ·

Tuks studente sit nou al omtrent 5 of 6 weke tuis.
Daar is wesenlike gevaar dat semestertoetse nou gedruip kan word agv die blokkies wat UP nou vinnig wil afmerk, net om hulle kant skoon te kry. (Maw dis nog ‘n ekstra jaar potensieel – o wag, ek het vergeet dis moontlik ‘n manier van geld maak vir universiteit?)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.