Vaalbesoedeling skend dié regte, aanbevelings gemaak

Riool loop in die Vaalrivier in (Foto: Verskaf)

In die afwesigheid van tydige en doeltreffende reaksie van verskeie regeringsfere is Gauteng se belangrikste waterbron, die Vaalstelsel, heel moontlik onherstelbaar beskadig.

Die Menseregtekommissie (MRK) het Woensdag sy verslag oor die besoedeling van die Vaalstelsel, wat die Vaalrivier, Vaaldam, die Vaal Barrage en die Rietspruit insluit, bekend gemaak.

Die uitwerking van die rou riool wat in die Vaal en die strate van die Emfuleni-munisipaliteit loop, het ʼn groot invloed op die regte van die gemeenskap en op ʼn belangrike waterbron, is daar bevind.

Die MRK het reeds in 2018 met sy ondersoek begin nadat ʼn prima facie-skending van menseregte in die Emfuleni-munisipaliteit waargeneem is rakende die vloei van rou, onbehandelde riool in strate, huise se erwe en begraafplase, asook riool wat in die Vaalstelsel invloei.

Meer as 19 miljoen mense maak op die Vaalstelsel staat vir drinkwater asook water vir huishoudelike en kommersiële gebruik. Volgens die verslag het dit tydens die ondersoek duidelik geword dat die Vaalstelsel nou buite aanvaarbare standaarde besoedel is, en dat dit veroorsaak word deur kiloliters onbehandelde rioolwater wat die Vaal binnedring weens afvalwaterbehandelingsaanlegte wat buite werking of vervalle is.

Die besoedeling het ʼn beduidende invloed op die omgewing met verskeie vis- en plantspesies wat deur uitwissing bedreig word. Daar is ook berigte ontvang dat lewende hawe wat van die water gedrink het, doodgegaan het. Die vloei van rou riool in openbare strate, paaie en huise se erwe hou ʼn groot gesondheidsgevaar in vir mense en is ook ʼn duidelike skending van hul regte op waardigheid, is daar bevind. Die besoedeling het ʼn negatiewe uitwerking op die ekonomie en gaan gepaard met toerisme en ontspanningsaktiwiteite wat afgeneem het weens die omvang van die besoedeling.

Die uitwerking van die besoedeling het tot gevolg dat verskeie menseregte oortree word, waaronder menswaardigheid, vryheid van veiligheid, ʼn omgewing wat nie skadelik vir gesondheid en welsyn is nie, asook water en voedsel.

Ingrypings deur onder meer die nasionale departement van water en sanitasie, die nasionale tesourie en provinsiale tesourie, om die rioolbesoedeling en ineenstorting van die Emfuleni-munisipaliteit te pak was nie genoeg nie.

Die MRK beveel onder meer in die verslag aan dat die departement van waterwese en sanitasie of die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake tesame met waterspesialiste en die onderskeie tesourie-departemente ʼn kostedoeltreffende tussentydse plan opstel om die vloei van riool in strate en huise se erwe van inwoners in die Emfuleni-omgewing en ook in die Vaal dringend te beëindig of te beperk.

Die nasionale en provinsiale regering moet op medium en lang termyn ʼn behoeftebepaling in fyn besonderhede uitvoer vir die opruiming en rehabilitasie van die Vaal. Sodanige evaluering moet ondersteun word deur insette van kundiges om ʼn projekplan en begroting vir die inwerkingstelling van so ʼn plan in te stel.

Die departement van water en sanitasie moet ook beleid en standaarde vir die hantering van waterkrisisse in Suid-Afrika, en veral die besoedeling van die Vaalrivier, ontwikkel en instel.

MRK se aanbevelings

‘n Skermskoot uit ‘n video op die ‘SAVE the Vaal Environment’ se Facebook-blad wat die besoedeling in die Vaalrivier wys. Foto: @SAVEthevaal/Facebook.

Die MRK beveel aan dat die Vaalrivier en gepaardgaande infrastruktuur kragtens wet tot kritieke infrastruktuur verklaar word om te verseker dat dit beskerm en herstel word. Daar moet oorweeg word om veiligheidsbeamptes van private veiligheidsmaatskappye by die rioolwerke te plaas om verdere diefstal en vandalisme te voorkom en enige voorvalle hiervan moet gereeld by die polisie aangemeld word.

Enige onreëlmatige of vrugtelose en verkwistende uitgawes wat aangegaan is, moet ondersoek word. Die skuldige partye moet die geld aan die munisipaliteit terugbetaal en enige onwettige optrede moet by die polisie aangemeld word. Alle bewerings van korrupsie moet by die Openbare Beskermer of die polisie aangemeld word en kontrakte wat nie nagekom word nie moet gekanselleer word.

Die MRK het die nasionale, provinsiale en plaaslike regering in kennis gestel dat die rioolprobleem ʼn krisis en ʼn ooglopende aanspreeklikheid vir die regering is. Die gevolge van die besoedeling kan lei tot ʼn aantal wettige siviele eise teen die departement van water en sanitasie vir skadevergoeding.

Daar word ook aanbeveel dat die kabinet dit ernstig oorweeg om ʼn besluit te neem vir die nasionale regering om in te gryp in die bestuur van die Emfuleni-munisipaliteit. Daar word voorgestel dat alle departemente van die munisipaliteit, afgesien van dié wat die provinsiale en nasionale regering kan aantoon wel voldoende funksioneer, deur die nasionale regering oorgeneem word.

Die betrokke partye het 60 dae om op die MRK se verslag te reageer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Akhenatha ·

Daar was al SOVEEL sake teen die munisipaliteite wat riool in die Vaal stort. Elke keer het die munisipaliteit verloor en was veronderstel om die rioolstorting te stop en skade te herstel, maar dit gebeur nooit. Hierdie poging gaan weereens vrugteloos wees. Dit is tyd dat privaat munisipaliteite op die been gebring word, want AL die huidige munisipaleteite is korrup en doen nie hulle werk nie. Die hele land verloor groot met die besoedeling van die Vaal.

Jedi Knight ·

Ek wens iemand wil toiletpapier vervaardig waarop die grondwet en handves van menseregte gedruk is. Jy sal ryk word. As ek die masjinerie gehad het, sou ek.

MAGRIETHA ·

Ek het vir jare in daai omgewing gebly en was n groot visserman is nou amper 2 jaar iut die vaal 3 hoek , die vaal rivier was van die skoonste riviere met baie goeie kampeer plekke maar vir die laaste seke 8 jaar het ek my vis gereedskap weggepak as gevolg van die agter uitgang van die rivier ( besoedelling)
ekt aanskou hoe gaan daardie omgewing agteruit , nou die plakkers moet verwyder word vanaf die rivier walle , aandag moet eerstens gegee word aan die riool aanlegte die regte persone moet daar aangestel word om dag en nag die werke te beheer en alle foute en ongeruimdhede aan te meld ,dit help nie die regering wil die rivier skoon maak nie maar spreek nie die kern van die probleem aan nie dis waar jy moet begin by die kern , die weermag was da besig die regering as ek dit nie mis het nie het kubane ingevoer om te help maar het blykbaar net geld gemors , di geld kon gebruik ge wees het om di kern aan te spreek en te herstel om besoedeling stop te sit , SA het baie morsjorse

Kokerboom ·

Dis hoogtyd dat die betrokke Minister en LUR’e aanspreeklik gehou word. Hul doen NIE hul werk. Kla hulle aan

Johanncb ·

Niks in ons land gaan verbeter tensy ons bevoegde mense aanstel om die werk te doen nie!

Nie Verbaas ·

Die regering maak n groot bohaai oor Covid sterftes. Hoeveel kan dalk sterf agv n nalatige en onbekwame munisipaliteit? Die regering is al hoe lank bewus van onbekwame munisipaliteite en wat doen hulle daaraan? Niks, want hulle weet ook nie hoe om dit reg te maak nie.

Mariana ·

Ondersoek reeds in 2018 begin, genade dis 2021. Wat het hulle heeltyd ondersoek. Die dam is besmet, wat meer moet ondersoek word. Laat die wat verantwoordelik is les opsê. Laat die plaaslike regering ook betaal vir hierdie onreg. Liewe hemel die mense is totaal onkapabel om hul werk te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.