Vaaldam se vlak daal steeds  

Die Vaaldam. Foto: Departement van water en sanitasie.

Die daling in die watervlak van die grootste damme in die geïntegreerde Vaalrivierstelsel, insluitend die uiters belangrike Vaaldam, bied rede tot kommer.

Volgens die departement van water en sanitasie het die vlak van die geïntegreerde Vaalrivierstelsel die week verder gedaal van verlede week se 56% tot 55,4%. In dieselfde tyd verlede jaar het dié vlak op 60,9% gestaan.

Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, het gesê die Vaaldam se vlak het van 31,2% verlede week tot 30,2% dié week gedaal. Die Vaaldam se vlak was in dieselfde tyd verlede jaar net meer as 50%.

Die Grootdraaidam se vlak het van 76,1% tot 75,9% gedaal. Die Bloemhofdam se vlak het van 87,1% verlede week tot 86,2% gedaal. Dié dam se vlak was in dieselfde tyd verlede jaar sowat 82,8%.

Die Sterkfonteindam het ʼn geringe styging aangeteken – van 94,2% verlede week tot 94,3% dié week. Die dam se vlak was in dieselfde tydperk verlede jaar effens laer met 91,6%.

Die Mohale- en Katsedam in Lesotho bly egter skerp daal en volgens Ratau raak die situasie desperaat. Die Mohaledam se vlak staan op 2,9% en die Katsedam op 21,7%.

“Die land beweeg in die somerseisoen in wat hoop bied vir baie reën. Die departement doen egter ʼn beroep op waterverbruikers om waaksaam te wees wanneer hulle water gebruik en krane mooi toe te maak om verliese te voorkom.”

Waterverbruikers, veral in Gauteng, word ook versoek om gehoor te gee aan instruksies van hul plaaslike munisipaliteite oor maniere om water te spaar.

Die afgelope paar dae se hittegolf het volgens Ratau ook ʼn effek op damvlakke gehad aangesien water vinniger verdamp.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Michael ·

Vir jare is die sterkfonteindam, wat ‘n groter volume as die Vaaldam hou, gebruik om die Vaaldam aan te vul. Wat is die probleem dan nou?

Hercules ·

ek dink nie die huidige mensdom weet hoe werk daardie stelsel nie!

Hercules ·

dankie Abba Vader
vir wolke wat saampak
en reêndruppels wat
op die harde, dorre aarde
neerplof, nat maak en vure
blus waar nodig is vir
mens, gees, siel, liggaam
vir skaap, bees, wild
en veld dankie Vader
vir u genade
Amen & Amen

Jakes ·

Wat ons eerder moet bekomer hoeveel duisend ton riool onder die water le.

koos10 ·

En maak bietjie die waterlekke reg in julle toevoer pype. In Pretoria is daar seker nie ‘n woonbuurt waar daar teminste nie een lek is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.