Vaalharts-moorde: DNS-agterstande ‘vertraag geregtigheid’

Elzabie, Breggie en Dan Brand.

Die DA sê die onvermydelike gevolg van die enorme agterstand by die polisie se forensiese laboratorium het Donderdag duidelik geblyk toe die saak teen vyf beskuldiges in die sogenaamde Vaalharts-moorde weens uitstaande ondersoekuitslae tot Desember uitgestel is.

Die Brand-egpaar, Dan (83) en Breggie (79), en hul dogter Elzabie (54) is in Julie op ’n kleinhoewe in die Vaalharts-omgewing naby Hartswater in die Noord-Kaap oorval, ontvoer en later vermoor. Een van hul twee gesteelde voertuie is later verlate naby die Majaneng-nedersetting in Taung aangetref.

Kgomotso Mpumlwana (43), Tshepo Visagie (36), Tshepo Seolesang (20), Tshepaone Melato (19) en Realeboga Manyedi (18) is later in verband met die moorde aangekeer.

Die aanklaer in die saak het aanvanklik gevra dat die saak selfs langer, tot Januarie, uitgestel word – ʼn versoek wat die verdediging kwaai teengestaan het.

Willie Aucamp, ʼn DA-lid van die nasionale raad van provinsie (NRP) wat ook ʼn waaksaamheidsopdrag van die party het, pak die skuld vir die vertraging op ʼn 300%-agterstand by die polisie se laboratoriums.

“Die DNS-agterstande by die polisie vertraag geregtigheid vir die Brand-familie,” het hy gesê.

Hy sê in sommige gevalle moet sekere ontledings nie meer as 48 uur vat om af te handel nie.

“Die beskuldigdes wag, die families wag, die hele gemeenskap wag, asof tyd gaan stilstaan het, terwyl die polisie se R015,4 miljard-begroting oënskynlik niks beteken nie,” het Aucamp gesê.

Hy sê die gemeenskap steier steeds onder die skok van die driedubbele moord en dat dit presies dié soort aanval is waarop die DA aandring dat die regering dit ernstiger opneem.

Die DA sê sy LP’s gaan voortaan druk op die hoof van die forensiese laboratoriums begin plaas sodat alle inligting beskikbaar is wanneer die hofverrigtinge weer op 10 Desember hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Charmain ·

Maar steeds word die polisie se begroting gesny om SAA te “red”

JohanR ·

Is dit nie tyd dat die DA/VF+/AfriForum/Solidariteit saam werk om ‘n eie forensiese laboratorium op te stel nie? Jy kan in die land nie meer vertrou in enige ANC instellings he nie. In alles moet jy nou begin om die ANC te omseil.

marisa ·

Wat ek nie verstaan nie – met die Horner saak was DNA blitsvinnig bekend om te bewys dat daardie manne nie in die bakkie was nie – hoekom vat hierdie solank??

Cornelius ·

Alles is Afrika style. Niks word op tyd gedoen nie. Daar is altyd n verskoning. En wanneer iets gedoen word is dit vol foute. Alles word in die grond gedryf soos die onderwysstelsel. Die standaarde raak al hoe laer en die kinders al hoe dommer. Viva ANC en SAKP.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.