Vaalharts-moorde: ‘Niks maak sin nie’

Trudie de Beer en Heidie Taljaard (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Die familie van die vermoorde Dan (83), Breggie (73) en Elzabie Brand (54) probeer twee jaar ná hul dood steeds sin maak van hul geliefdes se “onnodige” en “grusame” dood.

Die verhoor in die saak van die Brand-gesin het Maandag ná meer as twee jaar ná die Brands se moord begin. Hulle is in 2020 op hul kleinhoewe in Magogong, naby Hartswater in die Noord-Kaap, vermoor.

Die saak is verskeie kere uitgestel weens onder meer uitstaande DNS-uitslae by die polisie.

Trudie de Beer (53), Heidie Taljaard (48) en haar man, Wikus (51), het Sondag van onderskeidelik Potchefstroom in Noordwes en Brackenfell in die Wes-Kaap na Kimberley in die Noord-Kaap gery om die hofsaak by te woon.

“Ons is baie verlig die saak kan uiteindelik begin. Ons het baie vrae oor wat presies gebeur het en hoop ons kan antwoorde uit die hofsaak kry,” sê Trudie en Heidie, die dogters van Dan en Breggie.

Elzabie, Breggie en Dan Brand.

“Dit was twee jaar wat ons elke dag ’n berg moes uitklim. In jou kop vorm jy ’n idee van hoe en wat gebeur het. Dit is soos ’n legkaart wat jy in jou kop probeer bymekaarsit,” sê Wikus.

“Waarom is hulle vermoor? Jy maak nie mense dood vir slegs twee karre nie. Dit maak nie sin nie.”

Die Brand-gesin se liggame is op 29 Julie 2020 in die Taung-omgewing, Noordwes, gevind. Dit het gevolg nadat ’n familievriend twee dae tevore (27 Julie) agtergekom het dat die gesin, asook hul motors, weg is.

Die slagoffers is vermoedelik reeds die Sondagmiddag (26 Julie) ontvoer tydens ʼn aanval op hul kleinhoewe. Daar was tekens van ʼn struweling en bloedspatsels in die huis.

Donald Seoleseng (21), Tshepo Visagie (36), Realeboga Manyedi (20), Kgomotso Mpulwana (43) en Tsepaone Melato (20) het Maandag in die hooggeregshof in Kimberley verskyn. Alle klagte teen Manyedi is laat vaar en die staat gaan Dinsdag aandui of hy hom as staatsgetuie in die saak gaan gebruik.

Die ander vier staan tereg op drie aanklagte van moord, een aanklagte van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van ontvoering en drie aanklagte van dwarsboming van die gereg. Seoleseng word ook daarvan aangekla dat hy uit aanhouding ontsnap het.

Die susters en Wikus het Maandag met gemengde gevoelens in die hof gesit en vertel dat dit vir hulle moeilik is om hul ouers en suster se “moordenaars” te sien.

“Daar gaan baie goed deur ons koppe. Dit is swaar om te weet hulle [die verdagtes] was die laaste om jou mense lewend te sien. Dit is ook moeilik om te sien hoe hulle met hul lewens aangaan, gesels en lag, en jy weet jou mense het nie daardie voorreg nie,” vertel Heidie.

In Trudie en Heidie se oë sit die trane vlak en die hartseer breek deur in hul stemme wanneer hulle oor hul ouers en hul “ousus Elzabie” gesels. Hulle ervaar nou met die hofsaak weer al die slegte herinnering van voor af.

“Ons sien hulle en weet wat hulle gedoen het. Ons weet hulle het gesien hoe ons ouers en suster hul laaste asem uitblaas,” sê Trudie.

Die susters hoop om wel berusting ná die hofsaak te kry.

Die vyf verdagtes wat aangekla word van Breggie, Dan en Elzabie Brand se moord, het Maandag in die hof in Kimberley verskyn. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

“Om te weet hulle gaan in die tronk sit en nie weer ander mense kan seermaak nie, bring ’n mate van berusting.”

Die susters sê hulle is nog nie gereed om te vergewe nie.

“Hulle het te veel van ons weggevat. Hulle het al die goeie herinneringe van ons gesteel, want as ons nou aan ons ouers dink, dink ons aan wat met hulle gebeur het.”

Die susters het daagliks hul ouers gebel en ondanks die kilometers tussen hulle, het hul gereeld op die kleinhoewe gaan kuier. Die susters het op die kleinhoewe grootgeword en het in Hartswater skool gegaan.

“Dit is ’n groot verlies om nie meer met geliefdes – met wie jy elke dag gesels het – te praat nie,” vertel Heidie.

“Ons sal altyd die kuiers by hulle onthou,” sê Trudie. “Die kleinste ding wat ek doen, herinner my aan hulle.”

Die Brand-egpaar was afgetree en het pas die kleinhoewe verkoop met die idee om ook Kaap toe te verhuis. Elzabie was ’n grafiese ontwerper en het tydelik by haar ouers op die kleinhoewe gewoon.

Die moorde was ’n groot skok vir die gemeenskap van Vaalharts omdat plaasmoorde van so ʼn gewelddadige aard nie algemeen in dié gemeenskap is nie, vertel die susters.

Johan Kloppers, berader by AfriForum se traumaeenheid, het die susters Maandag in die hof bygestaan. Hy het voor die aanvang van die hofsaak die susters gaan besoek om hulle op die hofsaak voor te berei.

“Die emosies het hoog geloop: Van woede tot hartseer. Die susters soek antwoorde,” vertel Kloppers.

Volgens Kloppers is die hofsaak soos ’n wond wat weer oopgeruk is.

“Dit gaan nog ’n moeilike pad vir hulle wees.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Danie ·

Dit maak sin.
Dit is doodeenvoudige naakte haat en rassisme.

Jare se sing van “Kill the Boer” het dit “wettig” gemaak om Boere (en hulle gesinne [ongeag ouderdom]) so grusaam moontlik te vermoor.

Dit moet dan dien as ‘n waarskuwing vir ander om te maak soos daar vir hulle gesê word.

Althes ·

Dis my vrae wat ek ook vra. Waarom is hul vermoor en so ook duisende ander boere en kleinhoewe boere. Dit maak geen sin nie.
Dan lag en gesels die moordenaars boonop.
Maar volgens die regter watsenaam is Kill the Boer, Kill the Farmer nie haatspraak nie.
Ek het my suspisie oor regstelsel. Van die regters is bevooroordeeld en/of word geintimideer.

SjN ·

Saak word telkens uitgestel, rassistiese haat en val sagte teikens aan, gee hul aan die Hartswater gemeenskap, hul sal dit vinnig uitsorteer.

Fran ·

My kommentaar gaan weer deur MM ‘gemodereer’ word en verwyder word. Ons word stil gemaak terwyl pragtige, Afrikaanse witmense uitgemoor word. My hart is so seer vir hierdie Godsverlate land. Here, wanneer gaan dit ophou?

Schalk ·

Die keuse van wat maak jy as iemand op jou perseel sonder toestemming is raak eenvoudiger. Dit is jammer dat sulke onskuldige mense se dood jou die waarde van paraatheid laat besef. Ongelukkig sal mense uit goedheid eers wil gaaf en vriendelik wees en dan word sulke wrede dinge gedoen. Dit bots teen die regverdige mens se natuur om eers te skiet en dan te vra.

Marelize ·

Dis moeilik om nie kwaad te raak nie wanneer jy gereeld lees van boere wat vermoor word en dan bepaal die howe dat die sing van die lied Kill the Boer Kill the farmer is nie haat spraak nie. Dis net ironies dat die buiteland sien hier is ‘n plaas moord probleem, maar nie ons eie regering nie. Die waarheid sal wel uit kom.

Johan ·

Ek wens julle alle sterkte toe. My Ma is 10 jaar gelede vermoor in haar Huis op Hermanus. Dit het amper 3 jaar geneem om die beskuldigde uiteindelik te vonnis. Die wonde het dieper geraak by Elke hofverskyning en Baie van my vrae bly onbeantwoord. Dit is n moeilike pad vorentoe. Die skuldige het ook Vir 4 jaar by ons gewerk voor die daad en dit het was n gal bitter pil om te sluk. Almal praat van closure na vonnis oplegging maar ek sukkel daarmee. Jy leer on daarmee saam te leef. Die hartseer en verlange Gaan nooit weg nie. Mag ons Hemelse Vader jul voorberei en troos op die pad wat voorle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.